Besoekers aan die Durbanville-wynvallei kom van regoor die wêreld en is verstom oor plattelandse hartlikheid by elkeen van die 12 wynkelders waaruit hierdie besonderse wynstreek bestaan.
Maryke Roberts
Slegs 25 minute uit die Moederstad, gooi die vallei sy arms oop met gasvryheid en ‘n groot verskeidenheid wyne, verskillende eetplekke en ervarings wat hierdie vallei uniek maak.
Die Durbanville-wynvallei is ‘n hegte gemeenskap en sy gees van samehorigheid is uitgebrei om ‘n nuwe handelsmerk, Durbanville Elevate, in te sluit. Durbanville Elevate sal pogings konsolideer om na die groter gemeenskap van plaaswerkers en hul gesinne in die vallei om te sien. Gaste kon verlede week by een van die wynplase, Nitida, saam met Kaapstad Toerisme ‘n voorsmakie kry van hierdie hegte samehorigheid en nie net wyn proe, lekker smul en kuier nie, maar ook die hartlike mense agter die handelsmerke leer ken. Die dag is onder die vaandel Destination Durbanville aangebied.
Mercedes Benz Century City het in Februarie vanjaar as strategiese vennoot deel van die Durbanville-wyn-ervaring geword. Hierdie vennootskap het verskeie, nuwe moontlikhede vir die handelsmerk Durbanville-wynvallei geskep.
Dis ‘n kuns om puik wyn te maak en die bekroonde wyne uit die vallei getuig van die wynmakers se kunsvaardigheid. Die vallei is veral bekend vir sy wyne van sauvignon blanc-druiwe, maar sy rooiwyne en MCC-vonkelwyne is ook van wêreldgehalte. Die kos wat in die vallei se verskeidenheid restaurante opgedis word, is net so uiteenlopend soos die wyne. Elkeen van die 12 wynmakerye in die vallei het ‘n restaurant en die spyskaarte verander gereeld om seisoenaal te wees en moderne kostendense te weerspieël.
Die kelders wat deel is van die Durbanville-wynvallei is De Vallei Boutique Wyne, Phizante Kraal Wyne, Klein Roosboom, Nitida, Meerendal, Hillcrest, Durbanville Hills, Diemersdal, De Grendel, D’Aria, Bloemendal en Altydgedacht.
Vir meer inligting oor die Durbanville-wynvallei, kontak Wynvallei-bestuurder Angela Fourie by [email protected] of [email protected] of volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram.
Corne Thiart van Phizante Kraal, Bennie Howard van Meerendal en Ronelle Brink van Phizante Kraal.
Pierre-Benn de Villiers van Klein Roosboom, glanspersoonlikheid Liezl van der Westhuizen, Charné Meyer van Diemersdal en Arno Smith van Hillcrest.
Warren en Christine Bernard kuier by die Destination Durbanville geleentheid. Hulle is van Flat White Concepts.
SOURCES
Clifford Roberts