Ek staan by my pa in die hospitaal – 94 jaar se lewe is gereduseer tot ’n klein weerlose mens. Sy oë is helder en hy vra uit oor ons gesondheid, maar die lyf wil nie meer nie.
Deur: CHRISTA SWANEPOEL
Ek dink terug aan die 64 jaar wat hierdie pa deel van my lewe was en ek besef net weer hoe bevoorreg ek is om net mooi herinneringe te hê. Daar is nie ‘n manier dat ek alles nou sal onthou nie, maar ek weet dat ek wanneer hy nie meer daar is nie, stuk-stuk die lekker gaan onthou.
Baie vroeë herinneringe is as klein kind op my Ouma en Oupa se plaas op Pilanesberg waar ons ons Kersfeeste deurgebring het. Ek onthou hoe die ooms soms op ‘n Saterdagaand met ‘n spieël “seine” na buurplase gestuur het en dat daar vroegaand bure aangery gekom het. Dan het my pa en sy broers hul instrumente opgeneem en is daar op die hoekstoep op boeremusiek gedans en gekuier. Pa kon trekklavier en banjo speel en ek het na die vrolikheid gekyk tot ek later kamer toe gedra is van waar ek die musiek gehoor het tot ek weggeraak het.
Dis ook waar my pa elke Kersfees Kersvader gespeel het. En al het ek geweet dit is hy, het dit niks van die lekkerte weggevat nie.
LEES OOK: Die gemaskerde breier: ‘n Geseënde vrou
Met ‘n landdros as pa is ons baie “verplaas” na verskeie plekke in die Laeveld, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. En al moes ek en my broer soms halfjaar van skool verwissel, soms na ‘n ander provinsie en selfs na Engelse skole toe, het ons ouers dit altyd vir ons ‘n avontuur gemaak. Elke nuwe plek is met entoesiasme verken. Ons het piekniekplekke en die natuurskoon in die mooie Laeveld ontdek, in die Oos-Kaap koppies uitgeklim, rotstekeninge gesoek en in die sneeu gespeel en in KwaZulu-Natal wildtuine deurkruis, strande verken en in mere en die see visgevang.
Heerlike herinneringe is toe hy en my ma aan ‘n amateurtoneelgeselskap behoort het en ek hulle gehelp het om hul woorde te leer. En dan die opwinding van elke optrede.
Hy en Ma het saam handwerk gedoen, van leerwerk en hoede maak tot houtsneewerk, houtwerk en piouterwerk. Hulle het later ook klas gegee en met vreugde elke jaar vir die familie ander geskenke gemaak. By hulle het ek geleer dat gee inderdaad lekkerder is as om te ontvang.
O, en Pa kon sing. Oral het hy by kore aangesluit. Selfs ‘n plaat gemaak. Hy het op elke familielid se troue gesing. Ook op myne. Nooit ooit sal ek die Onse Vader hoor of sing sonder om aan Pa te dink nie.
LEES OOK: ‘Dis wat pawees is!’
Pa was sy lewe lank die geduld self, het nooit kwaad geword nie en het almal met dieselfde respek behandel.
Ja, dit was ‘n mooi lewe met baie mooi herinneringe.
Dankie my Pa.
Ouma se blokkie
Met A maak 6 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks, 15 lb in ring, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
2de rdte: heg B in enige lb, 1 ks, 1 kb in dies st, 4 ks, slaan 1 lb oor, *1 kb in vlg lb, 4 ks, slaan 1 lb oor, herh van * rondom, gs in kb aan beg. Heg af.
3de rdte: gs tot in 4 ks-sp, 1ks, 1 kb, 1 lb, 2 dsl, 1 lb, 1 kb in sp, *1 kb, 1 lb, 2 dsl, 1 lb, 1 kb in vlg ks-sp, herh van * rondom, gs in kb aan beg. Heg af.
4de rdte: heg C tussen enige 2 dsl, 1 ks, 1 kb in dies sp, *5 ks, 1 kb tussen vlg 2 dsl, 8 ks, 1 kb tussen vlg 2 dsl, herh van * rondom, gs in kb aan beg.
5de rdte: gs tot in 5 ks-sp, 3 ks, 6 lb in 5 ks-sp, 2 ks, (3dsl-gp, 3 ks, 3dsl-gp, 3 ks, 2dsl-dp, 2 ks) in 8 ks-sp, *7 lb in 5 ks-sp, (3dsl-gp, 3 ks, 3dsl-gp, 3 ks, 2dsl-dp, 2 ks) in 8 ks-sp, herh van * rondom, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
6de rdte: heg D in enige 5de van 7 lb, *3 ks (tel as lb), 1 lb laaste lb, 3 lb in 2 ks-sp, 2 ks, 3 lb tussen eerste twee dsl-gp, 3 ks, 3 lb tussen vlg 2 dsl-gp, 2 ks, 3 lb in 2 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 2 lb, 3 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
7de rdte: heg E in enige van 5 lb, *3 ks (tel as lb), 1 lb in elk van vlg 4 lb, 2 ks, 1 lb in elk van vlg 3 lb, (2 lb, 4 ks, 2 lb) in hoek-sp, 1 lb in elk van vlg 3 lb, 2 ks, 1 lb in elk van vlg 5 lb, 3 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …