Die Wellington Wynroete vier vanjaar sy vierde verjaardag en ‘n groep gaste is genooi om die pragtige vallei vir twee dae te kom verken.
Maryke Roberts
Die program was vol, maar het slegs ‘n voorsmakie gebied van wat jy alles in en om die dorp kan ervaar en verwag. Ons draai by Imbuko Wyne op die plaas Uityk in. Hier doen ons die wyn-en-pasteitjieproe. So tussen die formidabele Elsabe du Plessis se gesels oor hoe die hele familie saamwerk op die plaas, kry ons ook boegoebrandewyn “om die maag te kalmeer” en groet met sakke vol konfyte wat sy self kook.
In die Bainskloofpas wag Jaco Victor van Viking Adventures in ‘n vierwiel Unimog en neem ons oor die berge en dale na ‘n uitkykpunt waar die vallei onder ons lê en Wellington Wyne op ons wag. Marko Roux, wingerdboukundige by Wellington Wyne en konsultant vir sowat 100 ander plase, sê die vallei se wingerdgeskiedenis strek dekades terug – lank voor die wynroete van Paarl afgestig het. By Bosman Family Vineyards (BFV) kry ons nie net kans om hul bekroonde wyne te proe nie, ons hoor ook meer oor hul vooraanstaande wingerdstok-kwekery.
BFV is vandag een van 25 geregistreerde wingerd-kwekerye in die gebied, wat sowat 85% van die land se ge-entde wingerdstokke verskaf. Ons skuif aan na Diemersfontein waar die wynmaker Francois Roode die landgoed se gewilde fudge-en-wynproe op die stoep van die restaurant, Seasons, lei. Die helfte van die groep bly daar oor vir die nag en die ander helfte skuif aan na Dunstone Wyne, waar ons in die pragtige ou herehuis wat pas luuks opgeknap is, oorbly.
Aandete en ontbyt is feeste en ons pak traag op, maar opwindende dinge wag: Welvanpas, die geskiedkundige plaas van Dan en Retha Retief, is waar ons elkeen ‘n fiets kry en in die verlate grondpad – die Bovlei-pad – salig kan fietsry op pad na Doolhof toe. Sommige gaste doen die Wynstap – albei aktiwiteite is georganiseerde toere en gee insig in die omgewing. Ons reis eindig letterlik aan die einde van die pad, by Doolhof. Die wynmaker, Gielie Beukes, lei die wynproe en sjef Duncan Doherty dra een na die ander smaaklike gang uit om die wyne te komplimenteer.
Laatmiddag is ons terug in die bussie – knuppeldik, verlief op Wellington en gereed om gou weer terug te kom.
SOURCES
Clifford Roberts
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.