Die romankuns is met nadenke oor verskillende aspekte van ons bestaan in die wêreld gemoeid, maar oordeel nie en skryf nie voor nie
Die vorige keer is gesê die ontstaan van die romankuns hang saam met die veranderde wêreldbeeld aan die einde van die Middeleeue, met die Renaissance en die opkoms van die moderne era, wat op die kerkhervorming en ’n groei in wetenskaplike kennis gevolg het.
Die romans wat in hierdie tyd ontstaan, verskil aansienlik van die verhalende prosa wat tot op daardie tydstip oorheers het. Voorheen was verhale meestal oorvertellings van bekende (helde- of volks-)verhale. Die romanses wat Don Quixote gelees het en wat, volgens die verteller, sy “harsings laat opdroog het”, is hoofsaaklik ridderverhale soos dié oor die ridder Roland uit Franse of Orlando uit die Italiaanse legendes. Hierdie verhale is fantasieryke vertellings oor ridders wat ten spyte van toorkuns en boosheid altyd edel optree. Hulle bly vir die eer van dames en die behoud van die Christelike kerk veg.
Van die begin van Don Quixote af is dit duidelik dat Cervantes met sy roman in ’n ander rigting instuur. Die avontuur waarop Don Quixote uittrek, is ’n illusie. Die idee van ’n dolende ridder en al die wonderbaarlike gebeurtenisse wat hierdie ridders omring en hul hoofse liefde wat in die vroeëre vertellings beskryf word, maak geen sin in die moderne wêreld waarin mense logies en nugter na die werklikheid kyk nie.
Quixote probeer sy bes om sy verwagtings van hoe die wêreld behoort te wees, te laat rym met die werklikheid wat hy ervaar. En telkens wanneer die werklikheid sy illusie verbreek – byvoorbeeld die reuse waarteen hy veg, blyk windmeulens te wees – en wanneer Sancho Panza hom daarop wys dat hy in ’n illusie leef, gee Don Quixote dieselfde verduideliking: Daar is towenaars aan die werk wat die werklikheid anders laat lyk as wat dit werklik is.
Wanneer Don Quixote aan die einde, kort voor sy dood, sy dwalings bely en die idee van dolende ridderskap vervloek, ervaar die leser ’n gevoel van verlies. Die mense wat sy laaste oomblikke deel, soos die getroue Sancho Panza, die dorp se priester en barbier en die student, wat almal so lank probeer het om hom te oortuig om van sy mal idees af te sien, ervaar ook ’n verlies. Trouens, hulle probeer selfs om vir Don Quixote om te praat om opnuut ’n nuwe avontuur te volg.
Hierdie “eerste roman” word dikwels gelees as ’n loflied vir ’n mens wat in sy ideale bly glo, wat ’n held is omdat hy, ten spyte van teenspoed en almal se besware, volhard. Ander lesers beskou weer die boek as die teenoorgestelde – dit illustreer volgens hulle hoe sleg dit vir ’n mens is om valse ideale te volg. Al twee hierdie groepe lesers verstaan egter nie Cervantes se roman nie en ook nie die aard van romans nie. Don Quixote is nie die illustrasie van ’n sekere morele standpunt nie. Trouens, geen goeie roman is bloot die demonstrasie van ’n sekere morele uitgangspunt nie.
As ons eenvoudige morele oordele oor die wêreld wou kry, sou die werk van religieuse of politieke leiers genoegsaam wees. Die romankuns is veelduidig. Die roman lewer nie maklike morele uitsprake nie, bou nie soos die filosofie dikwels doen, logiese denkstrukture wat op finale antwoorde uitloop op nie.
Die romankuns, sedert Rabelais en Cervantes, daardie twee vroeë voorlopers, is altyd gemoeid met nadenke oor verskillende aspekte van ons bestaan in die wêreld, sonder om te preek, sonder om haastig te oordeel, sonder om voor te skryf.
Vir Milan Kundera val die opkoms van die romankuns as “moderne” kunsvorm saam met die ontstaan van ’n spesifieke soort humor wat in skrille kontras met die “ernstige” en didaktiese Middeleeuse vertellings staan. Kundera haal Octavio Paz aan: “‘There is no humor in Homer or Virgil; Ariosto seems to foreshadow it, but not until Cervantes does humor take shape … Humor,” he goes on, “is the great invention of the modern spirit.”’
Hierdie spesifieke soort humor – wat saam met die romankuns ontstaan het – beskryf Kundera soos volg: “Thus humor is not laughter, not mockery, not satire, but a particular species of the comic, which, Paz says (and this is the key to understanding humor’s essence), ‘renders ambigious everything it touches.’”
Die effek van hierdie humor is dus ’n veelduidigheid wat veroorsaak dat romans nie moraliserend is nie en nie finale oordele uitspreek nie. Vk