In Vrouekeur van 7 Julie skryf Johan Myburg oor die werk van drie Spaanse Surrealiste, spesifiek in verband met die Spaanse Burgeroorlog: Salvador Dalí, Joan Miró en Pablo Picasso. Die inligting hier onder is ter aanvulling tot die rubriek
Johan Myburg
In 2012 was Pablo Picasso se Guernica, die werk wat hy geskilder het na aanleiding van die aanval op die gelyknamige dorpie in Spanje in 1937, 75 jaar oud. Dié skildery is deel van die permanente versameling van die Reina Sofia-kunsmuseum in Madrid.
In 2012 het die museum uitgebreide ondersoeke gedoenmom vas te stel wat die toestand van dié werk is. Guernica is oor die wêreld heen uitgestal en kenners vrees die tande van die tyd het dié werk dalk verniel.
’n Robot met ’n kamera daarop gemonteer word ingespan om mikroskopiese infrarooi- en ultraviolet-foto’s van die werk te neem. Die masjien is só ontwerp dat die skildery in die Reina Sofia waar dit hang ondersoek kon word.
Volgens Jorge Garcia Gomez-Tejedor, die museum se bewaringshoof, is die skildery op doek “delikaat, in die lig daarvan dat dit deur die jare soveel keer vervoer is”. Nietemin het hy gesê restourasie van die skildery word nie oorweeg nie.
In 1998 is ’n minder indringende ondersoek gedoen en toe het 129 letsels duidelik geword. Dit sluit in krakies, merke en vlekke.
Picasso het Guernica geskilder pas ná die begin van die bloedige Spaanse Burgeroorlog en dit is in 1937 vir die eerste keer in Parys uitgestal.
Vir die volgende 20 jaar is die werk in Europa en die VSA vertoon. Dis elke keer losgemaak van die spanraam en opgerol om vervoer te word.
In 1981, nadat demokrasie in Spanje herstel is ná die dood van die diktator Francisco Franco, is Guernica van die New York-museum vir moderne kuns (Moma) na Madrid vervoer. Uit vrees vir beskadiging is dit eers agter koeëlvaste glas in die Prado in Madrid vertoon voordat dit ’n ereplek in die Reina Sofia gekry het.
Die monochroomwerk verbeeld die afgryslikheid van oorlog. Die dorpie Guernica is op ’n lentedag in 1937 gebombardeer deur die Duitse en Italiaanse lugmag wat Franco in die oorlog gesteun het.
Salvador Dalí se Soft Construction with Boiled Beans (Premonition of Civil War), 1936, olie op doek. Dié skildery is in die Philadelphia-kunsmuseum in die VSA.