Op 12 April vanjaar, kry ek vroegoggend ‘n e-pos van Marlo Kitshoff-Carstens. Ná 16 jaar bedank ons gewilde kosredakteur.
Ek deel die nuus met van my kollegas. Ons is almal stillerig, want Marlo en Vrouekeur is vir ons en baie van ons lesers sinoniem. Nie alleen is ons lesers gaande oor haar weeklikse resepte nie, haar resepteboeke wat sy saam met Vrouekeur by LAPA die lig laat sien het, is van die topverkopers in die land.
Hoe groet ‘n mens nou iemand wat so lank deel van die Vrouekeur-span was en altyd haar werk voluit en met groot entoesiasme gedoen het? Wel, dis moeilik. Maar vir Marlo is dit nog moeiliker. Enersyds omdat sy Vrouekeur groet, maar andersyds omdat haar besluit nie ligtelik geneem is nie. Marlo het die afgelope jaar ‘n moeilike hoofstuk in haar lewenstorie geskryf. Sy is sowat ‘n jaar gelede met borskanker gediagnoseer en het deur al die behandelings steeds getrou haar deel gedoen en by sperdatums gehou. Sy het egter nou besluit dis tyd om na haar lyf te luister en haarself ‘n ruskans te gee om te herstel. Een ding wat ek in die lewe geleer het, is dat die enigste gegewe in die lewe verandering is.
Van klein veranderings tot lewensveranderende veranderings. Een dag lank, lank gelede, het ek tot dié besef gekom toe ek ook ‘n baie moeilike keuse moes maak. Om sin van die onsin in my kop en waansin om my te maak, het ek dit wat ek ervaar het, neergeskryf: Dinamika Ek het langs die see gesit my voete in die sand toegevou die ritmiese dinamika van die branders het my hipnoties vasgehou gemerk nie een is gevorm soos die ander probeer voorspel waar die deinings een vir een uiteindelik teen rots of sand sou stuit parallel gesien en besef die lewe is nie stagnant liefde, lyding, vreugde, pyn, ekstase die een se dood geboorte van die ander.
Ons groet Marlo met ‘n swaar hart, maar ek weet ook dat haar geliefde man en drie kinders haar koester en dat sy in die beste hande is. Ons wens haar vreugde, vrede, liefde, geluk, tevredenheid, maar ook opwinding en bowenal gesondheid toe vir die nuwe hoofstuk in haar lewe. Ek sluit af met ‘n groot dankie aan Marlo en ek neem die vrymoedigheid om van dit wat sy ervaar het, en in haar brief aan my genoem het, te deel.
Hallo Eldaleen. Ek wil van die geleentheid gebruik maak om julle almal te bedank vir die afgelope jare wat ek by julle was. Ek het dit regtig baie geniet en sal julle almal baie mis … Julle is almal sulke wonderlike mense in eie reg en dit voel of ek ‘n stukkie van my hart verloor … Glo my dit was nie ‘n maklike besluit nie en ek het aande omgehuil oor wat ek moet doen. Weer eens dankie vir alles. Ek waardeer dit opreg. Groete Marlo
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.