Willie Burger stel vandag ‘n paar boeke bekend wat oor ‘rêrige’ mense en gebeure gaan
Sommige mense hou daarvan om fiksie te lees wat op een of ander manier op die waarheid gegrond is. Dit is asof hulle meer “geroer” voel as hulle weet dat die gebeurtenisse waaroor hulle lees met “regte mense” gebeur het.
Dit is een van die redes waarom Douwleen Bredenhann se debuutwerk, ’n Hemelhoë hekkie, soveel mense geboei het. Op die voorblad het die woorde “’n ware verhaal” waarskynlik reeds dié soort lesers aangetrek. Dit was die besonder ontstellende vertelling van Douwleen se stryd om die moord op haar eie kind te verwerk. Haar jongste roman, Bloedwater, word duidelik op die omslag as “fiksie” aangedui, maar in hierde verhaal oor die verhouding tussen twee susters, is daar eweneens veel wat vertel word wat by die werklike ervaring van ’n dwelmslaaf aansluit. Bredenhann steun op baie navorsing om weereens die leser op ’n ontstellende en roerende tog te neem.
Hermione Suttner se Bitter heuning is ’n werk wat daarop aanspraak maak dat dit, hoewel dit fiksie is, ook ’n ware verhaal vertel. Die foto’s wat by elke hoofstukbegin afgedruk is, die voorwoord waarin uitdruklik gestel word dat Bitter heuning “deels waarheid, deels fiksie” is en ’n voetnota waarin verduidelik word dat “persoonsname” verander is om “karakters se ware identiteit te beskerm”, sal ook baie lesers se hunkering na ’n “ware verhaal” bevredig. Bitter heuning speel af in die Sandveld – die gebied om die Bergrivier naby Velddrif aan die Weskus. ’n Vergange era en wat vir die meeste lesers ’n vreemde wêreld sal wees, word in hierdie roman, wat ’n mens ook as ’n “streeksroman” sal kan beskryf, gestalte gegee.
Margaret Bakkes se Fado vir ’n vreemdeling is ook ’n verhaal wat “ware historiese gebeurtenisse” as vertrekpunt neem. Waar Sonja Loots se Boeresirkus die lewens van bekende Boeregeneraals ná die Anglo-Boereoorlog verken het, word die wel en wee van gewone, onbekende mense in Fado vir ’n vreemdeling verhaal. Cornelis Homan beland tydens die Anglo-Boereoorlog in Portugal, waar dr Antonio de Araujo baie goed vir hom is. As hy ná die oorlog terugkeer, het hy verskeie onaangename ervarings, skei van sy vrou en neem sorg van hul drie dogters. Hierna volg egter ’n onvoorsiene wending wat veroorsaak dat hy nie sy lewe onverstoord in Johannesburg kan hervat nie. Die Portugese wat so goed vir hom was, stel ’n moeilike eis aan hom. Die roman is gegrond op noukeurige navorsing en dokumente wat bewaar gebly het, soos inskrywings in kerkregisters, en gee vir “die navorser” geleentheid om die lewensverhaal van Homan te rekonstrueer. Dit is ’n boeiende verhaal, van die soort wat nie dikwels oor die Boereoorlog vertel word nie, maar wat die ontsettende gevolge van die oorlog vir gewone mense blootlê.
Lesers wat van “ware verhale” hou, sal waarskynlik veel erg hê aan die biografie van David Kramer. David Kramer – ’n Biografie deur Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers, is ’n noukeurig nagevorste lewensverhaal van die man met die kenmerkende rooi vellies wat vir ons liedjies soos “Hier sit die manne in die Royal Hotel” en “Blokkies Joubert” gegee het. David Kramer se oupa het uit Latvia na Suid-Afrika gevlug met die Joodse vervolgings daar. In Suid-Afrika het hy sy naam na Kramer verander, van sy Joodse geloof afstand gedoen en met ’n Afrikaanse vrou getrou. Slabbert en De Villiers het die volle samewerking van Kramer gehad en slaag op ’n wonderlike manier daarin om die Worcester van die 1950’s en 1960’s waarin David grootgeword het, te beskryf. Die moeilike politieke toestande in die land en die invloed later op Kramer se werk word boeiend beskryf. Hulle kry dit reg om sy musiek, ervarings en die breër geskiedenis te integreer – juis omdat dit so nou verweef is. (Al het talle Afrikaanse bewonderaars nooit van sy politieke verset teen die apartheidsregering kennis geneem nie.) Die invloede van die groot musiekstromings in die wêreld en Kramer se voortdurende terugkeer na die wortels van sy agtergrond en die musiek van die plattelandse mense is in sy kenmerkende musiekstyl gekombineer. Die skep van musiekblyspele vir die verhoog het vir Kramer ook oorsese roem gebring. Ook hiervoor het hy uiteindelik musikaal ’n prys betaal. Die moord op sy medewerker en vriend Taliep Petersen word ook bespreek. Kramer se biografie is meer as die lewensverhaal van ’n besondere kunstenaar uit Suid-Afrika – dit is ook waardevolle kultuurgeskiedenis.