Hierdie sonneblomsaadbroodjie is ekstra spesiaal met die hawermout in die beslag. Bak en geniet saam met sop
Sonneblomsaadbrood
1 brood
BESTANDDELE
375 ml (1½ k) melk
30 ml (2 e) heuning
180 ml (¾ k) hawermout
1 pakkie kitsgis
45 ml (3 e) botter, gesmelt
2,5 ml (½ t) sout
780 ml (430 g) bruinbroodmeel
60 ml (35 g) sonneblomsaad
1 eier
ekstra hawermout, sonneblomsaad en sesamesaad vir sprinkel
METODE
Voorverhit oond tot 180 °C en smeer broodpan van 10 cm x 20 cm met botter.
1 Verhit melk, heuning en hawermout tot louwarm en meng gis daarby. Laat staan vir 10 minute tot skuimerig.
2 Gooi melkmengsel, botter en sout by meel en meng tot deeg vorm. Knie vir sowat 10 minute tot elasties. Gooi sonneblomsaad by en werk deur. Bedek met plastiek en laat rys tot dubbelvolume.
3 Druk deeg effe plat en rol op om deegwors te vorm. Knyp naat vas en plaas deegwors in pan. Bedek met plastiek en laat rys tot dubbelvolume. Smeer deeg met geklitste eier en sprinkel met ekstra sade.
4 Bak vir 35 tot 40 minute tot goudbruin en gaar.
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.