Almal ervaar van tyd tot tyd verliese en gevoelens van angstigheid en hartseer, maar kenners sê dis min dat die wêreldbevolking dit op een slag ervaar. Hoe moet ons dit hanteer?
Ons almal ervaar ’n mate van verlies in hierdie tyd – of dit nou verlies aan vryheid, verlies aan gemoedsrus of ’n verlies aan inkomste is. Gevoelens van verlies, hartseer en rou is universele gevoelens, maar dis min wat dit gebeur dat almal op aarde dit dieselfde tyd ervaar. En dit is wat tans gebeur, sê prof Jane Fisher, professor in globale gesondheid aan die Monashuniversiteit in Australië.
Sy sê in ’n artikel op die webwerf www.abc.net.au dat mense wêreldwyd tans droefheid ervaar omdat hulle nie meer die dinge kan doen wat hulle gewoonlik doen nie. Dis juis hierdie verlies aan outonomie en persoonlike vryheid wat ’n groot sielkundige impak kan hê, glo prof Jane. “Dinge soos om nie meer werk toe te gaan, vrylik rond te beweeg of sosiaal met vriende en familie te verkeer nie, is ernstige verliese. Dis normaal vir ons om ’n gevoel van hartseer te ervaar oor dit wat ons nie nou kan doen of ervaar nie.”
Dr Henk Swanepoel, ’n kliniese sielkundige van Centurion, stem saam met prof Jane dat die huidige situasie ’n gevoel van droefheid en angstigheid by mense kan skep. “Niemand het nog ooit so ’n situasie ervaar nie. Dit veroorsaak ’n belewenis van verlies of rou, want gewone lewensgenietinge en roetines gaan in hierdie tyd verlore. “Een van die groot verliese is sekerlik een van verlore onafhanklikheid en persoonlike vryheid. Angs tree ook na vore aangesien daar nie sekerheid ten opsigte van die toekoms is nie. Mense dink aan vrae soos: ‘Wat as daar nie ’n kuur gevind word nie?’ of ‘Wat as die inperking vir nog weke of selfs maande verleng word?’”
Hoe hanteer mense die inperking?
Dis nog vroeg in die proses en almal is dus nog nie heeltemal van die inperking se sielkundige effekte bewus nie, sê dr Henk. “Bewustheid van rou is vir nou grootliks dormant, maar dit gaan nie vir lank so bly nie. Rou is ’n proses wat kom en gaan, soos die rouproses ná die afsterwe van ’n geliefde. Fases van ongeloof, ontkenning, woede en hartseer skommel deur ’n persoon se gemoed en dit gaan waarskynlik ook later in die inperkingsproses gebeur. “Soms sal daar gevoelens van woede teenoor die oorsprong van die virus wees en ander kere dankbaarheid, want nou kan almal uiteindelik by hul vergete persoonlike administrasie uitkom. “Dan sal daar dae wees wat depressie na vore tree en dan weer ’n ontkenning van die bestaan van die virus.
“Hierdie gemoedskommelings kan wissel, want daar is nie ’n spesifieke lokalisering vir die frustrasie nie. As ’n geliefde byvoorbeeld sterf, mis jy die persoon, maar die virus veroorsaak ’n vryvloeiende kommer en frustrasie wat nie weggaan nie,” sê dr Henk. Prof Jane sê gewoonlik as mens rou, is daar iemand wat jou rou raaksien en jou ondersteun, maar in hierdie geval is daar geen seremonie nie. Niemand bring vir jou ’n bos blomme of jy kry nie die nodige ondersteuning nie. Almal ervaar op dieselfde tyd hierdie gevoelens en niemand van ons kry tans ondersteuning nie.
Wat is die tekens dat iemand oorweldig voel?
Dr Henk sê die eerste tekens is ’n belewenis van emosionele ongemak, met ander woorde frustrasie, kort humeur, huilerigheid of onttrekking. “Soms drink mense meer of soek fout met ander se gedrag, maar die kruks is dat die persoon buite karakter optree.” Mense verskil en daarom sal almal dit verskillend hanteer, sommige mense is kwaad, ander hartseer en ander voel afgestomp. Prof Jane sê jy kan dalk vir ’n paar dae oukei voel, maar dan wil jy dalk weer iets doen wat jy nie nou kan nie en dit kan jou weer van voor af hartseer laat voel. Jy kan gefrustreerd en geïrriteerd voel en gevoelens van ongeloof ervaar. Jy kan ook hierdie gevoelens op jou mense uithaal, want daar is nie eintlik iemand wat jy vir die situasie kan blameer nie.
Hoe moet mens hierdie gevoelens hanteer?
Die eerste stap is om te erken dat jy deel van ’n globale krisis is wat tot gevoelens van ongemak en frustrasie kan lei, sê dr Henk. “Soos met die rou oor ’n geliefde, moet jy nie maak asof jy nie ontsteld en ongelukkig is nie – erkenning is reeds ’n vorm van emosionele bevryding,” sê hy. “Dit is ook gesonder om hierdie ervaring te verbaliseer, want die formulering van die konflik is ook deel van die proses om meer in beheer te voel.” Prof Jane meen dis belangrik om nou te besef dat droefheid ’n normale reaksie op baie abnormale omstandighede is. “Dis ook belangrik dat ons nie hierdie droefheid verkeerdelik as ’n geestesgesondheidsprobleem etiketteer nie.
“Individueel ervaar ons almal nou verlies, want ons daaglikse aktiwiteite word beperk of heeltemal opgehef. Ons kan nie meer vrylik beweeg nie en ons kan nie meer aktiwiteite doen wat voorheen goed en lekker vir ons was nie.” Dan is daar baie mense wat in hierdie tyd die stres van werkloosheid, finansiële probleme en ontwrigte gesinslewe ervaar. Daar is ook die mense wat natuurlik self siek word en geliefdes aan die dood afstaan. Een van die hartseerste aspekte van die pandemie is dat soveel mense alleen sterf sonder dat hul geliefdes hulle kan groet. Baie mense moes ook feestelike geleenthede soos troues en partytjies kanselleer. Mense het dalk vir lank daarna uitgesien en nou is dit uitgestel of afgestel en dis ook ’n verlies om te verwerk.
Gee jouself ’n hupstoot
Erken dat ander mense wêreldwyd presies voel soos wat jy voel, is dr Henk se raad. “Kyk eerder na wat jy kan beheer, soos kontak met ander. Skakel met ander mense en hoor hoe hulle die situasie hanteer. Dit skep ’n gevoel van universaliteit, met ander woorde almal voel soos wat jy voel en ander se idees kan jou ook help. “Beplan saam met ander, bepaal wat is jou doelwitte vorentoe, byvoorbeeld wat is die spesiale datums waarna jy uitsien en hoe beoog jy om dit te vier? Bou dus aan ’n toekomsvisies wat plesier inhou,” is dr Henk se raad.
Hier is nog wenke
- Wees empaties – ook met jouself. Dis ’n onsekere emosionele tyd en jy gaan verskeie emosies beleef. Gee jou mense ruimte.
- Probeer om nie te veel oor die toekoms en dit wat moontlik kan gebeur te stres nie. Kalmeer deur op die huidige oomblik te fokus en dit wat jy wel kan beheer.
- Probeer asemhalings- en aandagtigheidsoefeninge om rustig te word.
- Dink aan wat jy kan doen ten spyte van die situasie waarin jy jouself bevind. Dink hoe kan jy dit kan regkry en met ’n tikkie optimisme na die toekoms kyk. Erken dat sommige dinge dalk nie nou moontlik is nie, maar in die toekoms wel moontlik sal wees. Kry iets wat jou weer na die toekoms laat uitsien.
Dr Henk Swanepoel: Besoek www.henkswanepoel.co.za, bel 012 644 0573 of stuur ’n e-pos na info@ henkswanepoel.co.za Bykomende bron: www.abc.net.au
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.