Met die inperking is broers en susters aldag en heeldag by mekaar en dit kan die nerwe baie dun maak. Spesialisberader Wietske Boon gee raad
Konflik tussen sibbe is ‘n normale en onafwendbare verskynsel in elke gesin, veral wanneer niemand êrens heen kan gaan nie. Kompetisie vir aandag, erkenning, speelgoed, jaloesie, gedeelde leefruimtes en groot emosies oor ons huidige situasie is maar ‘n paar oorsake van konflik.
Sibbe leer hoe om konfliksituasies te hanteer wanneer konflik doeltreffend bestuur word. Eerstens is die huis hul veilige omgewing waar hulle noodsaaklike vaardighede kan aanleer. Verder leer kinders om hulself te verdedig en om standpunt in te neem. Sibbekonflik word gevaarlik wanneer sibbe aggressief en afknouerig teenoor mekaar optree of mekaar fisiek seermaak.
Bestuur die konflik só
- Wees ‘n positiewe rolmodel en wys vir kinders hoe mens konflik gesond hanteer. Let op na wat jy vir ander mense sê en ook hoe jy oor ander praat.
- Neem in ag dat elke kind verskillende behoeftes het wat gerespekteer behoort te word. Veral ouderdomsverskille tussen sibbe speel ‘n groot rol ten opsigte van alleentyd en ‘n behoefte aan privaatheid.
- Bly kalm wanneer die kinders baklei.
- Fasiliteer die oplossing van konflik deur hulle te leer hoe om op te tree en wat om te sê. Gee aan elke kind ‘n handpop (gebruik sokkies of sagte speelgoed). Hulle kan die konfliksituasie naboots deur middel van dialoog tussen die handpoppe. Bespreek saam moontlike oplossings vir die probleem en laat hulle dit met behulp van die handpoppe oefen.
- Wanneer hulle stry oor wat hulle gaan speel, wees die tydhouer. Een kry ‘n beurt om ‘n speletjie te kies. Ná 5 of 10 minute (afhangend van die kinders se ouderdom) kry die ander ‘n beurt.
- As hulle oor speelgoed stry, kan een vir byvoorbeeld vyf minute daarmee speel voordat hul speelgoed ruil. Alternatiewelik kan die speelding tydelik weggeneem word en elkeen moet iets anders kies om mee te speel.
- Wanneer een ‘n ander seermaak, verwyder die kind uit die situasie om te kalmeer. Hy of sy moet om verskoning vra om weer saam te mag speel.
- Laat elke kind toe om met blokke of hoepels sigbare grense om hulself te bou. Dit is hul veilige ruimte. Die ander kind mag nie sonder toestemming daardie grense oorskry nie.
- Skep geleenthede waar hulle saam ouderdomsgepaste probleme kan oplos, byvoorbeeld hoe om van een vertrek na die volgende te loop sonder om op die vloer te trap of hoe hulle ‘n voorwerp hoog uit ‘n boom kan haal sonder om in die boom te klim.
- Skep geleenthede waar hulle lekkergoed of kunsapparate soos kleurpotlode, tussen hulself moet verdeel.
- Laat die kinders om die dag beurte maak om iets positiefs vir mekaar te doen, byvoorbeeld ‘n prent te teken, ‘n brief te skryf of koeldrank in te gooi. Maak seker dat hierdie gebaar met ‘n positiewe gesindheid ontvang word.
- Wanneer konflik gedurig vermy word, gaan kinders nie leer hoe om dit reg te hanteer nie. Wees die veilige omgewing waarin hulle hierdie belangrike lewensvaardighede kan aanleer.
Wietske Boon is ‘n spesialisberader (speelterapie en ouerleiding). Vir meer inligting, besoek www.childtherapist.co.za