Dis ’n onsekere tyd en mens kan maklik neerslagtig voel. Hier is wenke om hierdie tyd beter te hanteer en die lig aan die einde van die tonnel te soek
- Hou by ‘n roetine wat eet, slaap, oefen en werk betref. Ongestruktureerde tyd kan tot verveeldheid en angstigheid lei. As jy kinders het, is dit beter vir hulle om te weet wanneer om skoolwerk, eietyd en skermtyd te verwag.
- Probeer om elke dag ‘n draai om die huis te stap of om net bietjie buite te kom.
- Oefen by die huis – haal die ou gewigte uit die kas of probeer ‘n toep of YouTube-video.
- Maak van die kans gebruik om kaste en vertrekke uit te sorteer. Dit sal jou klaar beter en ligter van gemoed laat voel. Jy kan die kans vat om ou klere uit kaste te kry en jou boeke te sorteer volgens ‘n stelsel wat vir jou werk. Maak sommer jou inboks skoon en verwyder onnodige toeps.
- Bou verrassings vir jou gesin in jul roetine in. Byvoorbeeld ‘n onverwagte tema-aand of ‘n aand wat julle iets spesiaals eet of bordspeletjies speel.
- Maak seker dat elkeen tyd vir stilwees het soos om te mediteer, lees, bid of om net diep asem te haal.
- Ons is sosiale wesens en het mense nodig. Gesels met jou mense tuis en hou kontak via WhatsApp, Skype of Video Call. ‘n Toep soos House Party maak dit nog makliker om “saam” te kuier.
- Doen iets vir iemand – al is dit van ‘n afstand af. Kos wat jy kan laat aflewer kan iemand in nood help. Of help ‘n kollega met ‘n projek al is julle nou ver van mekaar af.
- Dis maklik om nou te fokus op dit wat verkeerd gaan. Fokus ook op dit wat reg verloop. Waarvoor is jy dankbaar?
- Moenie net slegte nuus lees nie. Soek na positiewe, opbouende nuusbrokkies.
- As jy reeds af voel, is dit nie nou die tyd om boeke met neerslagtige temas te lees nie. Lees boeke wat jou goed laat voel of gelukkige temas het.
- Kry ‘n aanlyn kursus en leer iets wat jy nog altyd wou.
- Luister na vrolike musiek wat jou beter laat voel.
- Skryf jou gevoelens neer en hou dagboek van dit wat jy elke dag ervaar.
- Skryf vir jou tien dinge neer wat jy graag ná die inperking wil doen.
- Kry ook vir jou ‘n doelwit van iets wat jy tydens die inperking wil doen. Wil jy graag minstens drie keer per week joga doen? Skryf dit neer. Wil jy meer boeke lees? Skryf dit neer.
- Versorg jouself. Lê ‘n bietjie langer in die bad, sit vir jou ‘n masker op en doen iets om jouself te pamperlang.
- As jy voel dat dinge te veel word, kry hulp. Daar is sielkundiges wat Skype-konsultasies doen.
- Kry ook iemand om mee te gesels as jy neerslagtig voel. Hou ‘n digitale koffietyd saam met ‘n vriendin en gesels oor wat julle albei ervaar.
- Vier klein oorwinnings, soos as die koers waarmee infeksies toeneem verlangsaam of as daar verbeterings wêreldwyd is of soos meer mense herstel. Vier elke week van inperking wat verby is en nog ‘n week waarin jy en jou mense gesond is.
- Plak vir jou positiewe aanhalings teen die yskas of in jou tuiskantoor op.
- Dink aan watter lesse hierdie tyd jou leer en hoe jy die lesse kan benut as die lewe weer sy normale pas hervat.
Bronne: www.forbes.com, www.thevillagegirl.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.