Churros kom oorspronklik van Spanje en Portugal. Hierdie gebakte choux word met sjokoladesous as ’n straatkoshappie bedien
Churros
40 churros
BESTANDDELE
80 ml (75 g) botter
250 ml (1 k) water
30 ml (2 e) bruinsuiker
1,25 ml (¼ t) sout
250 ml (130 g) koekmeel
3 groot eiers
500 ml (2 k) olie vir bak
kaneelsuiker
SOUS
125 ml (15 g) suiker
250 ml (1 k) room
2 blokke (160 g) gekapte donkersjokolade
METODE
1 Verhit botter, water, bruinsuiker en sout tot dit kook.
2 Gooi meel by en roer tot deegbal vorm, sowat twee minute. Verwyder van hitte.
3 Skep beslag in menger se bak en klop met K-haak vir 30 sekondes. Gooi ’n eier by en klop. Herhaal totdat al die eiers by en beslag glad is.
4 Skep beslag in spuitsak met klein oop sterspuitpunt.
5 Verhit olie tot matige hitte.
6 Spuit stringe van deeg in warm olie en knip met skêr om deeg te sny. Bak aan weerskante tot goudbruin en gaar.
7 Verwyder uit olie en skep op handdoekpapier. Strooi met kaneelsuiker.
8 Sous Verhit suiker en room tot suiker opgelos is. Sprinkel sjokolade bo-oor en laat staan vir 1 minuut. Roer tot al die sjokolade gesmelt is.
9 Sit churros warm met sjokoladesous voor.
Mareli Visser is die wenner van Koekedoor 1,’n realiteitsprogram op KykNET. Sy is ook die skrywer van “UITGERYS” ‘n Afrikaanse resepteboek wat spesialiseer in brood. Sy is die aanbieder van haar eie bakprogram op VIA TV – Die Koektannie. En daarby saam sorg sy ook elke week vir heerlike gebak in Vrouekeur.