Daar is soveel waninligting op sosiale media oor seisoenale griep, Covid-19 en ‘raad’ oor wat om te doen, maar die meeste van dié inligting word nie deur bewese wetenskap gesteun nie. Hier is die feite Deur Elsabé Brits
Seisoenale griep en Covid-19 is twee heeltemal verskillende dinge. Die twee, en veral die voorkoms en sterftesyfers, kan nie met mekaar vergelyk word nie.Hoewel seisoenale griep nie skadeloos is nie, is dit nie soos die nuwe virus wat in Desember verlede jaar in China ontstaan het en waarvan ons vroeg in Januarie bewus geword het nie. Dié virus wat die wêreld tans aan die praat het, se naam is: ernstige akute respiratoriese sindroom-koronavirus- tipe-2 (EARS-CoV-2). Die siekte wat dit veroorsaak, is: Covid-19.
Só werk seisoenale griep: Dit is ’n natuurlike proses en elke jaar is daar net geringe veranderings, so min as 1% van die virus se oppervlakproteïene verander. Dit is byna soos ’n spesifieke motor – elke jaar kom daar ’n nuwe model uit, maar dit bly basies dieselfde en jy herken hom maklik vir wat hy is. Baie mense het al in hul lewe iewers met ’n “deel” van die seisoenale virusse te doen gekry en het ’n mate van immuniteit opgebou. Die virusse verander bietjie vir bietjie om te probeer oorleef. Dit word ’n antigene verskuiwing genoem en raak net die A- en B-stamme van griep. A-stamme maak diere en mense siek en B-stamme maak net mense siek. In die Suidelike Halfrond sirkuleer die heersende virusse tussen Mei en September. Die voordeel wat ons het, is dat die griep dan reeds in die Noordelike Halfrond was en dokters weet wat kom.
Die betrokke jaarlikse entstof (wat mense teen die heersende A- en Bstamme beskerm) is dan reeds ontwikkel en aangepas. Gewoonlik kan mens dit van middel-Maart af elke jaar by jou plaaslike apteek en dokter kry. Dit word vir álmal bo ses maande oud aanbeveel. Swanger vroue het ’n baie groot risiko vir ernstige komplikasies weens griep, selfs tot ses weke ná die geboorte. Dit beskerm haar en die baba om die entstof te kry. Ook, enigiemand wat ’n chroniese siekte het, babas onder twee jaar, mense bo 65 en diegene wat aan vetsug ly. Jou liggaam maak dan reeds van die teenliggaampies gebruik en jy is gereed as jy een van die drie of vier virusse, wat daardie jaar in die rondte is, kry.
Soms kan jy steeds siek word, al het jy die entstof gekry, maar dit kan die verskil tussen matige griep en hospitaal of dalk die dood beteken. Dit is veral so met mense wat ’n swak immuniteitstelsel het, of ouer is. Daarom sterf tot 11 000 mense jaarliks in Suid-Afrika aan griepverwante siektes, wat longontsteking insluit. Longontsteking is ’n komplikasie van griep. Die sterftesyfer van seisoenale griep is minder as 0,1% teenoor die aantal mense wat dit kry. Die persentasie moet in ag geneem word, nie die totaal nie. Jy kan nie seisoenale griep voorkom of genees deur soutwater te snuif, boererate te volg, koeksoda te drink, of Vitamien C te gebruik nie. Dan sou niemand siek geword het nie. ’n Virus is te sterk daarvoor. Net die entstof kan jou immuniteitstelsel help. Hoekom? Die virus gaan heg aan jou respiratoriese kanaal se selle. Die oppervlakproteïen hemagglutinien (HA) van die virus bind aan sialiensuurreseptore wat in die asemhalingskanaal is. Die struktuur van die virus se HA-proteïene pas die sialiensuurreseptore soos ’n handskoen. Sodra hulle in mekaar skakel, soos ’n sleutel in ’n deur, dring die virus jou selle binne. Dan doen hy wat hy goed doen: Hy maak jou siek. Geen konkoksies wat jy by die apteek koop of aanmaak, sal help nie. Geen knoffel, gemmer, of duur aanvullings nie. Net die teenliggaampies van jou eie liggaam wat gereed staan omdat jy die entstof ontvang het. Dekades se navorsing het dit bewys.
Wat is bekend oor Covid-19?
Daar is koronavirusse wat verkoue kan veroorsaak, maar dié is nie een van hulle nie. Dit is ’n splinternuwe een. Dit is soos ’n splinternuwe maak en eerste model van ’n motor. Kenners weet veral in die begin nie wat dit kan doen nie. Wat as hy ’n dodelike renmotor is? Wanneer ’n nuwe virus verskyn, en dit boonop suksesvol tussen mense oorgedra word, moet daar vinnig en streng opgetree word. Miljoene mense se lewe kan op die spel wees. Versigtig is die wagwoord. Baie keer verskyn ’n nuwe virus wat van diere afkomstig is, en mense kan dit opdoen, maar dit muteer nie wéér dat dit maklik tussen mense oorgedra word nie. Met Covid-19 is dit egter die geval.
Dit is gevaarlik, want dit is onmoontlik om te sê wat nog gaan gebeur. Die ernstige akute respiratoriese sindroom (Sars) van 2003 het ’n sterftesyfer van 9% gehad. Die Midde-Oosterse respiratoriese sindroom van 2012 se sterftesyfer was 34%. Albei is koronavirusse wat van diere na mense gespring het, maar die aantal mense wat vanjaar siek en dood is, is aansienlik meer as dié twee saam. Die hoofstroommedia het beslis nie paniek aangewakker of waninligting versprei nie, dit is deur sosiale media gedoen. Die grootste probleem is dat sterftesyfers van ander siektes, selfs ongelukke en moorde, nou met Covid-19 vergelyk word. Mens kan dit nie doen nie, jy kan sterftes en slegs oor dieselfde tydperk met dieselfde tipe virus vergelyk.
’n Verkeerde vergelyking is om die getal mense wat jaarliks aan seisoenale griep (of enige ander siekte) sterf met die aantal mense wat nou reeds aan Covid-19 dood is, te vergelyk. Buiten dat dit appels met pere vergelyk, is dit epidemiologies verkeerd. Mens kyk onder meer na die getal bevestigde laboratoriumgevalle en werk dan die persentasie uit van dié mense wat daaraan sterf. Die jongste beramings is 3,4% volgens die WGO. Dít is baie. Dit is ook nog vroeg. Die simptome is koors, ’n droë hoes en asemnood. Heel anders as seisoenale griep. Wat kommerwekkend is, is dat daar op sosiale media gefokus word op die sowat 80% van mense wat matig siek word. Die bewese navorsing wat wêreldwyd en baie vinnig op die ander 20% gedoen word, wys net meer as 13% word ernstig siek en die res baie ernstig. Hierdie 20% het asemnood en hul asemhaling moet gesteun word, ook met intubasie en ventilasie – dit is nie kinderspeletjies nie, en beslis nie by elke hospitaal beskikbaar nie. Covid-19 val jou longe aan en van die studies wat intussen gedoen is, wys by baie mense word albei longe aangetas.
By sommige is daar letsels in die longe en die kenners weet nog nie of dit tydelik of langtermyn is nie. Die letsels lyk bietjie soos ’n heuningkoek. Daar is voorspellings dat as streng beperkings nie voortduur nie, tot 60% van mense uiteindelik die virus sal kry. Dit was die geval in 2009-’10 met die groot uitbraak waarvan baie mense reeds vergeet het. Dit is nou deel van die gemeenskap en nie meer so ernstig nie, omdat baie van ons reeds teenliggaampies het.
Dié was ook ’n nuwe virus (A-H1N1), hoewel nie ’n coranavirus nie, maar dit het aanvanklik van varke gekom. Meer as 500 000 mense is uiteindelik as gevolg daarvan dood. In 2009 het mense wat ouer as 65 is nie juis ernstig siek geword nie, wat wys iewers in die verlede moes hulle aan ’n deel van die virus blootgestel gewees het.
Dit was dieselfde in 1918-’19 toe die meeste sterfgevalle mense tussen 16 en 40 jaar was, en daar tussen 50 en 100 miljoen mense dood is, ook aan ’n A-H1N1-virus. ’n Nuwe virus kan nooit onderskat of as niks afgelag word nie. Dis allermins ’n oorreaksie. Isoleer jouself, want dan kan ons dit klop.
Bronne: Wêreldgesondheidsorganisasie; CDC; JAMA, Science, Nature, The Lancet, BMJ