Tim Theron twiet as @TimTT, wat jou aan ’n vinnige sportmotor herinner, maar wat hierdie akteur se hart warm laat klop, is sy vrou, Juanli, en babadogtertjie, Sophia
MARYKE ROBERTS
Tien vrae aan akteur Tim Theron
Wat geniet jy aan Kaapland Films?
Die feit dat ek nie net my eie rolle kan skep nie, maar ook geleenthede vir ander jong akteurs, regisseurs, kameramanne, klank-spesialiste, en so meer, kan gee. So het ons al met Etienne Fourie, Rene van Rooyen – wat die Silwerskermfees vir beste regisseur vir die kortfilm, Nantes, gewen het – Nadia Beukes en ander, gewerk.
Wat is as akteur jou grootste frustrasie?
Dis hoe om daardie volgende rol te kry. Een oomblik ry jy die golf en sodra verfilming verby is, sit en wag jy vir ’n oproep. En oudisies is ook sleg. By Kaapland Films probeer ons dus die ervaring positief maak só selfs al kry die akteur nie die rol nie, was die oudisie-proses ten minste aangenaam.
Wat is een interessante ding van die SA rolprentdryf wat mense nie weet nie?
Dat die fliek nie chronologies geskiet word nie. Ons het nie die luukse van Amerikaanse filmbegrotings nie, so ons moet ’n fliek in drie tot vier weke skiet en dus klaar skiet op elke plek, wat beteken dat die klimaks soms eerste geskiet word en die begin van die fliek dalk laaste, afhangende van die plekke waar ons verfilm. Dit verg groot uitdagings van akteurs en regisseurs.
Watter soort flieks kyk jy graag?
Voor Sophia se geboorte het ons twee maal ’n week gaan fliek. Nou wag ons vir Box Office en hoop ons raak nie aan die slaap voor die TV voor die fliek begin nie! Ek hou van alle genres behalwe gruwel en veral bonatuurlike gruwelprente.
Wie is jou gunstelingvervaardigers?
Quentin Tarantino, Christopher Nolan, eintlik is daar te veel om op te noem.
Jou gunstelingakteurs?
Ek dink Deon Lotz en Marius Wyers is ongelooflik, en ek was al gelukkig om die skerm met mense soos Anel Alexander, Karen Wessels, Nadia Beukes, Neels van Jaarsveld, Jacques Bessenger en Gerard Rudolf te deel. Ons is geseën met het baie uitstekende plaaslike akteurs en regisseurs. Oorsese akteurs waarna ek opsien, is Tom Hanks, wat soveel verskillende rolle uitstekend vertolk; Mark Ruffalo, Leonoardo di Caprio, mense wat soos hulle ouer word, amper meer begin uitblink. En natuurlik, ek het ’n man crush op George Clooney. Hy is die coolste man nog!
Wat is jou gunstelingfliek van alle tye?
Dead Poets Society is my mantra.
Wat pla jou aan die SA glanswêreld?
Dit voel my die euwel van “celebrity-verskrik” begin nou hier posvat. Akteurs se stories is net speel. Heldeverering kom die polisie, dokters, brandweermanne, maatskaplike werkers en onderwysers toe. Hulle verander die wêreld. Die publiek sit akteurs en musikante op pedestals en dis verkeerd. Ons is net gewone mense. Akteurs kan ook rolmodelle wees, en hul bekendheid gebruik om ’n verskil te maak, so dis nie verkeerd dat mense na hul opkyk nie, maar die “celebrity-kultuur” vat dit na ongesonde vlakke.
Wat is die grootste slaggat van hierdie celeb-kultuur?
Jy kan nie fouteer of net mens wees nie, die publiek kruisig jou as jy faal. En boonop kan jy as akteur in ’n gat beland wanneer die “aanbidding” vervaag. Jy moet as mens baie sterk wees en presies weet wie jy is, om hierdie op-en-af-aandag te kan deurstaan. Die rolprent Birdman, met Michael Keaton, is ’n uitstekende uitbeelding hiervan.
Wat maak jou bang van die land waarin jy jou dogter grootmaak?
Ek is ’n baie positiewe mens en glo as ons almal nou bietjie klippe kou, ons beter anderkant gaan uitkom. Sophia gaan in Suid-Afrika as Afrikaanssprekende grootword. Sy moet ander tale hoor en kulture ervaar en besef sy is een van ’n diverse groep en dat anders nie verkeerd is nie. Ek sien vir haar ’n wonderlike toekoms hier en gaan haar grootmaak met die wete dat sy ’n verantwoordelikheid teenoor haar land en sy toekoms het.
SOURCES
ROBERT HAMBLIN