Die skoolvakansie is baie langer as gevolg van die Covid-19-bedreiging. Ma van die Jaar het ’n skedule om kinders in roetine te hou en het oulike aanlyn aktiwiteite gevind wat kinders vermaak én leer
Covid-19 is g’n grap nie en ek wil ook nie grappies daaroor of die isolasietyd maak nie, maar laat ek net noem dat dit nie ‘n grap is om jou kinders vir drie weke te vermaak nie.
Waarom moet hulle vermaak word? vra jy. Toe ons kinders was, is ons net gelos en niemand het ons tydens vakansietye vermaak nie.
Die probleem is dat ons kinders besig moet hou, want anders sit hulle van opstaan- tot slaaptyd voor die skerms. As ek nie vir myne noem dat daar ‘n wêreld daarbuite is nie, sal hulle maklik heeldag hul tyd met YouTube, Roblox, Fortnite en TikTok verwyl.
‘n Skedule
Kinders floreer op roetine en selfs in vakansietyd is dit goed om struktuur aan hul dag te gee.
Hier is ‘n voorbeeld van een. Ons almal s’n sal verskil, maar jy ken jou kinders se belangstellings en kan dit ouderdomstoepaslik maak. Plak jul skedule teen die yskas op sodat almal dit kan sien:
08:00-10:00: Ontbyt, TV/selfoontyd.
10:00-11:00: Gaan stap of speel buite. Gaan parkie toe as ‘n veilige een naby is.
11:00-12:00: Breintyd (sonder elektronika). Byvoorbeeld: Lees, bou legkaarte, doen Soduku, werk in ‘n joernaal, doen ‘n blokkiesraaisel, leer iets.
12:00-13:00: Middagete en skermtyd.
13:00-14:00: Kreatiewe tyd: Teken, kleur in, bou Lego, luister musiek, bak, kook, doen kuns.
14:00-15:00: Breintyd via skerms (opvoedkundige toeps, webwerwe of opvoedkundige TV-programme).
15:00-16:00: Kry vars lug buite (op watter manier ook al).
16:00-18:00: Fliektyd by die huis.
18:00-19:00: Etenstyd en gesinstyd.
19:00-21:00: Eie tyd (doen net wat hulle wil).
21:00: Slapenstyd.
Aanlyn hulp vir kinders
Die laaste ding wat jou kinders nou wil doen, is seker skoolwerk doen, maar die vakansie is lank en hulle moet steeds leer. Hier is ‘n paar idees wat hulle sal vermaak en leer:
- ABCmouse.com bied tans gratis lesse in verskillende vakke aan, danksy Unicef. Gaan net na ABCmouse.com/redeem en tik die volgende kode in “AOFLUNICEF”. Dis geskik vir kinders van twee tot agt.
- Hierdie skakel bied ook ‘n paar gratis opvoedkundige hulpbronne: https://www.scholastic.com/teachers/teaching-tools/articles/resources/scholastic-learn-at-home–free-resources-for-school-closures.html
- Google bied gratis virtuele toere van meer as ‘n 1 000 museums. Gaan na https://artsandculture.google.com/project/virtual-tours
- Die webwerf www.brainpop.com gee ook gratis toegang tot sekere vakke. Die gratis toegang is vir 30 dae.
- Daar is oulike breinspeletjies op www.funbrain.com vir kinders van graad 1 tot 8.
- Die webwerf www.kidsdiscover.com het lekker leesstof vir kinders van ses tot 14.
- Laat die kinders virtueel reis. Jy kan op hierdie webwerf ‘n virtuele paspoort kry en die wêreld sien: https://www.wowtravelagency.com/virtualfieldtrips?fbclid=IwAR2dHFkumprQKLKCDBoZVz-XBSniDb5XAY4ZvBd2BGRUmy3ot-h_qjsAuHs
- Hierdie skakel gee vir jou ook ‘n lys van opvoedkundige Netflix-programme vir kinders: https://www.weareteachers.com/educational-netflix-shows/?utm_content=1584278383&utm_medium=social&utm_source=facebook&fbclid=IwAR3ApH6pe-gE23l5mKOhHa4qIwaWsLipllt2b_GJdfCevtOTt8luGLOmIzs
- Daar is ‘n wonderlike wêreld waarvan ons kinders moet weet en hulle kan meer leer by www.natgeokids.com/za/
- Die webwerf www.allkidsnetwork.com het baie oulike aktiwiteite om kinders mee besig te hou. Daar is ook werkkaarte en kunsblaaie wat mens vir hulle kan aflaai.
- Die webwerf www.mieliestronk.com dek heelwat interessante onderwerpe en is beslis ‘n besoek werd.
- Afrikaans.com het ‘n paar skakels waar mens leerhulp vir skoolgaande kinders kan kry. Klik hier: https://afrikaans.com/leerhulp/leerhulp-hier-vind-jy-studiehulp-vraestelle-notas-en-leermetodes-wat-leer-lekker-maak/
- Solidariteit se Wolkskool is videolesse, vakinhoude en toetse vir graad 4 –12 leerders. Dit is gratis tot 30 Junie 2020 om kinders in hierdie tyd besig te hou. Registreer hier: https://wolkskool.co.za/registreer. By “kies asseblief jou rol” kies “leerder” en klik dan op “skep rekening”. Klik op “klaskamers” en klik dan op “OnsSkool”.
Hou hulle besig
Hier is ‘n paar idees om die dae vinniger te laat verbygaan:
- Dis die ideale tyd vir kinders om van ou speelgoed ontslae te raak en hulle kan dalk net in speelgoedkiste weer speelgoed ontdek wat hulle vir ‘n ruk besig kan hou.
- Vir klein kinders kan jy ‘n boks oopvou en ‘n pad daarop teken. Voeg blokke, trokke en ander speelgoed by en wys vir hulle hoe om ‘n straat te bou.
- Laat die kinders vir herwonne items in die huis soek en dit dan in kunswerke gebruik.
- Gaan stap en laat hulle ‘n skattejag doen. Botaniese tuine of reservate het gewoonlik nie so baie mense nie en is ook (hopelik) ‘n opsie. Maak vir die kinders ‘n lysie van dinge wat hulle in die natuur kan soek, soos ‘n insek, ‘n veer, iets blous, iets roois, iets wat mens kan herwin, ‘n blom, ‘n saadpeul, ‘n bruin blaar, ‘n groen blaar.
- Kinders is mal daaroor om forte te bou, oukei dis minder lekker vir ma’s wat gewoonlik moet opruim, maar help hulle om die moeder van alle forte te bou en dan ‘n piekniek daarin te hou.
- Mens het nooit tyd om albums en foto’s uit te sorteer nie, maar selfisolasie gee vir jou daardie tyd. Doen plakboekkuns saam of sorteer net al jul foto’s.
- Gee vir jou kinders ‘n joernaal waarin hulle dagboek van hul vakansie kan hou.
- Klein kinders sal ‘n temadag geniet soos om ‘n seerower vir die dag te wees.
- Gaan op ‘n kleurjag, waar kinders byvoorbeeld vir iets roois in die tuin soek.
- Help die kinders om ‘n hindernisbaan buite te bou. Die internet het baie idees. Google net “DIY obstacle course for children”.
- Hou ‘n pajamadag en kyk flieks.
- Dis vet pret vir kinders om te kamp en dit kan jy ook in jou eie tuin doen – met tente, flitsligte en malvalekkers.
- Maak allerlei interessante dinge in die kombuis soos jul eie klei, slym en borrels.
- Die kinders kan ook “Survivor” buite speel en mag dan vir ‘n ruk nie in die huis kom nie. Gee vir hulle ‘n oorlewingspakkie met kos en drinkgoed en speletjies. Dit gee boonop vir Ma en Pa ‘n kans om ook te Netflix en tjil.
BRONNE:
www.globalnews.ca
www.koaa.com
www.time.com
www.wtug.com
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.