Willie Burger kyk na Mohale Mashigo se debuutroman, The Yearning
Willie Burger
Op die buiteblad van The Yearning word die gevierde Zakes Mda se opmerking oor Mohale Mashigo se debuutroman aangehaal: “A bewitching addition to the current South African literary boom.” Mashigo is inderdaad een van talle jong skrywers wat die afgelope tyd gedebuteer het en hierdie debuutwerk is om verskeie redes ‘n roman waarvan deeglik kennis geneem behoort te word.
Die storie is boeiend en bly tot aan die einde vol verrassings. Dit is die verhaal van Marubini wat in Soweto grootword. Haar ma het ‘n suksesvolle blomboerdery en bloemistesaak opgebou en kon vir Marubini ‘n goeie opvoeding bied. Marubini het al die geleenthede aangegryp en in die reklamebedryf beland. Uiteindelik het sy ‘n veeleisende en verantwoordelike loopbaan by een van die voorste wynkelders in die Kaap. Sy werk goed saam met Koos, haar direkte hoof by die kelder en is in ‘n gelukkige verhouding met Pierre, ‘n restauranthouer van Kaapstad. Omdat sy goed verdien, betaal sy ook vir haar jonger broer se opvoeding – Simphiwe is in een van die duur privaat skole in KwaZulu-Natal.
Marubini se oënskynlik gelukkige suksesverhaal word egter bedreig. Soos in Masande Ntshanga se The Reactive (nóg ‘n roman wat gereken kan word as deel van die “literary boom” wat Zakes Mda beskryf) is daar iets uit die verlede wat bly haper. Geleidelik word Marubini al hoe sieker, beleef floutes en word deur ontsettende nagmerries gepla. Uiteindelik word dit duidelik dat sekere herinneringe aan ‘n traumatiese gebeurtenis uit haar verlede uit haar geheue uitgewis of onderdruk is en dat juis hierdie vae herinneringe hulle nou al hoe sterker in nagmerries en selfs as sy Willie Burger kyk na Mohale Mashigo se debuutroman, The Yearning wakker is op ontstellende wyse hulle aan haar opdring. Die storie word deur talle terugflitse vertel.
Marubini se gelukkige jeugherinneringe aan haar oupa en altwee haar oumas wat ‘n groot bydrae tot haar opvoeding gemaak het, word geleidelik onthul. Gewone herinnerings aan ‘n jong kind wat deur haar oupa opgepas word as sy te veel huil wanneer sy skool toe moet gaan en wat vakansies by haar ouma naby Pietersburg deurbring is aanvanklik nie vreemd nie. Ook herinnerings aan haar eerste liefde en skoolpartytjies onthul ‘n oënskynlik “normale” jeug. Maar net as die leser dink dat haar hele geskiedenis onthul is – kom daar nog kinkels by en Marubini word gedwing om die spoke van die verlede te konfronteer. Uiteindelik is dit slegs deur die ondersteuning van haar familie en vriende wat sy in staat gestel word om haar eie verlede te konfronteer. Die ironie is dat dit juis haar eie familie is wat aanvanklik haar herinneringe aan die traumatiese gebeurtenisse wat haar nou pla, probeer uitwis het.
Voordat sy nie met haar eie verlede in die reine kan kom nie, kan sy nie die toekoms ingaan nie. Die botsing tussen die moderne wêreld van reklame, goeie kos en inkopies in die V&A Waterfront, PowerPoint-voorleggings en wyntoerisme aan die een kant en die wêreld van sangomas, voorvaders wat in drome besoeke aflê en inisiasierites aan die ander kant, lei tot ‘n soort vertelling wat aan die magiese realisme van Suid- Amerikaanse skrywers herinner en by die tradisie van skrywers soos Mda aansluit. Mashigo slaag nogal daarin om die clichés oor botsings tussen verstedelikte, moderne jongmense en die magiese towerwêreld van die platteland wat so dikwels in TV-stories, flieks en boeke voorkom, te vermy.
The Yearning ondersoek die effek van die verlede op ‘n individu. Dit is ‘n gewilde tema in talle onlangse Suid-Afrikaanse romans en in ‘n land met so ‘n traumatiese geskiedenis kan ‘n mens seker te wagte wees dat die effek van die verlede telkens in literêre tekste ondersoek sal word. Mashigo se roman openbaar hoe belangrik ‘n verlange na die waarheid oor die verlede kan word – en hoedat leuens, of die vermyding van die waarheid, aftakelend kan wees en mense, veral gesinslede, uit mekaar kan hou. Ek dink dit is belangrik dat veral Afrikaanse lesers hierdie roman lees.
Te dikwels lees Afrikaanssprekendes slegs romans deur ander Afrikaanssprekendes. Dan is daar ook talle lesers wat hulle graag in die internasionale letterkunde en pryswennerromans uit Australië of Rusland of Turkye en Japan verdiep, maar stel hulself selde aan romans deur Suid- Afrikaanse skrywers in Engels bloot. Daar is ‘n hele klomp jong swart skrywers wat met boeiende, eietydse romans ‘n leser aan ‘n ervaring van die Suid-Afrikaanse leefwêreld blootstel waarvan Afrikaanse lesers dikwels niks weet nie. Begin sommer met The Yearning, want dit is ‘n boeiende verhaal, vaardig vertel en vol verrassings. Word sodoende deel van die opwindende oplewing in Suid-Afrikaanse fiksie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.