Hoekom raak mense so bang? Dié virus kan jou dood veroorsaak, maar dit gaan nie noodwendig nie. Jy kan die virus kry, maar gaan nie noodwendig nie
Die koronavirus het baie mense heeltemal op hol. Menige mens is bang. Bang waarvoor, weet ek nie regtig nie, want paniek het die geneigdheid om nugtere denke te oorskadu en massahisterie is gewoonlik nie rasioneel nie.
As jy nugter oor ’n situasie dink, kyk jy na die feite. As jy meer wil weet oor dié virus, lees jy betroubare inligting wat deur kenners geskryf is. Dan kom jy agter die paniek wat tans onder sommige mense wêreldwyd heers, ontstaan soortgelyk aan ’n skinderstorie. Soos wat die storie oorvertel word, word daar ’n stertjie aangelas en voor jy jou oë uitvee, is die storie en die waarheid wêrelde uitmekaar. Jy lees nie elke Jan Rap en sy maat se kommentaar op sosiale media nie … as jy dit doen, kan jy net sowel blikkies kos en toiletpapier in groot maat gaan koop en jouself vir die volgende jaar in jou huis toesluit.
Hoekom raak mense so bang? Dié virus kan jou dood veroorsaak, maar dit gaan nie noodwendig nie. Jy kan die virus kry, maar gaan nie noodwendig nie. Gebruik jou gesonde verstand en doen wat kenners sê jy moet doen om te help voorkom dat jy die virus opdoen of versprei.
1 Was jou hande gereeld met seep en water vir minstens 20 sekondes.
2 Moenie aan jou oë, neus of mond raak nie, veral nie met ongewaste hande nie.
3 Vermy nabye kontak met mense wat die virus het.
4 Hoes en nies in die binnekant van jou elmboog en nie in jou hande nie.
5 Bly by die huis as jy die siekte het om te voorkom dat jy ander mense aansteek.
Ek weet nie van jou nie, maar vir my klink bostaande voorsorgmaatreëls presies soos dié wat mens moet toepas as jy griep of verkoue het. Ek het dikwels gevoel ek wil vir mense wat griep het en wat in my omgewing is, sê: Gaan huis toe en kom weer werk toe as jy gesond is. ’n Genies en ’n geproes in die nabyheid van mense gaan ander aansteek. Doen jouself gerus die guns en lees hoeveel mense jaarliks wêreldwyd aan ’n griepvirus sterf – ek het dit ook nie besef nie.
Op die webwerf www. livescience.com lees ek op 6 Maart 2020 die volgende: “So far, the new coronavirus has led to more than 100 000 illnesses and more than 3 000 deaths worldwide. But that’s nothing compared with the flu, also called influenza. In the US alone, the flu has caused an estimated 34 million illnesses, 350 000 hospitalizations and 20 000 deaths this season, according to the Centers for Disease Control and Prevention (CDC).”
Ek wil op geen manier mense wat as gevolg van die koronavirus gesterf het se dood misken nie, maar om bang, paniekerig of bekommerd te wees, gaan nie voorkom dat ek of jy die virus kry nie. My punt is, bekommernis help niks in die lewe nie, want soos die Dalai Lama oor bekommernis sê:
If a problem is fixable, if a situation is such that you can do something about it, then there is no need to worry. If it is not fixable, then there is no help in worrying. There is no benefit in worrying whatsoever.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.