Erken dit maar, nie een van ons wil eintlik enige werk op ’n Vrydag doen nie. Laat die dag vinniger met hierdie wenke verbygaan
- Moenie die moeilikste take los tot Vrydag nie, veral nie dié wat jy weet ‘n ewigheid gaan vat nie. Dis die dag waarop mens op ligter take moet fokus. Maak jou inboks skoon, maak jou lessenaar netjies of liasseer.
- As jy wel ‘n dringende taak het, wat baie van jou gaan verg, doen dit heel eerste.
- Stel jou skedule op vir die volgende week sodat jy weet dat jy die volgende week georganiseerd kan begin.
- Luister na vrolike musiek sodat jy solank in die naweekbui kan kom en eet iets lekkers vir middagete.
- As jy wil, kan jy selfs begin dink aan die spyskaartbeplanning van die volgende week en jou lysies vir kruideniersware opstel.
- As jy ‘n gesin het, vra hulle om al hul lysies teen ‘n Vrydag vir jou te stuur sodat jy weet of daar enige sport- of taakbenodigdhede is om te koop. Niemand wil op ‘n Maandagoggend van ‘n taak oor planete hoor nie.
- Die Pomodoro-tegniek werk baie goed vir ‘n werksdag, maar nog meer op ‘n Vrydag wanneer jy juis die einde in sig wil sien. Dis ‘n tegniek waar jy jou werksdag in 25 minuut-gedeeltes opbreek met blaaskanse van vyf minute tussenin. Ná ongeveer vier Pomodoro-tegnieke kan jy ‘n langer blaaskans van 15–20 minute vat.
- As jy die heelweek iemand vir iets wil bedank soos ‘n kollega wat die ekstra myl vir jou geloop het, doen dit vandag. Dit gaan jou ook sommer goed laat voel.
- Kom aan die beweeg. Moet veral nie vandag die heeldag sit nie, neem ‘n blaaskans en staan op, doen ‘n paar strekke en hou die horlosie dop.
- Kry vir jou iets lekkers om na uit te sien om die dag gouer verby te kry. Beplan solank die naweekbraai, dink aan hoe jy jou Parkrun-tyd gaan verbeter of sien jouself met ‘n wyntjie op die stoep sit …
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.