Sy vertolk die rol van Michelle Gerber in Suidooster, maar gaan nou die wêreld platreis
Wie is jou gunstelingkarakter in die reeks en hoekom glo jy het Suidooster ’n blink toekoms?
Dit ’n baie moeilike vraag aangesien dit vir my teen dié tyd onmoontlik is om die karakters van die mense agter die skerms te skei. As jy elke dag van jou lewe ’n karakter vertolk, gaan jy noodgedwonge stukkies van jouself na die karakter bring. Ek het die geleentheid gehad om hierdie transaksie van naby te beleef en dop te hou onder die verskeie akteurs by Suidooster. Akteurs soos Dean-John Smit en Maurice Page bring soveel deernis en gravitas na die karakters; Wade en Ty, wat baie maklik oppervlakkig of laf kon voorkom. En tog is humor integraal tot die karakters. Hierdie twee gaan so noukeurig maar tog sonder inspanning t ewerk met die materiaal en die resultaat is ’n outentieke vertolking, wat mense aan die hart gryp. Ek dink dit is dan juis ook waarin Suidooster se sukses lê: hierdie volronde en boeiende karakters waarmee mense kan vereenselwig. Behalwe daarvoor, moet ek die skrywers toejuig vir besonderse aangrypende en eg Suid-Afrikaanse stories.
Jy het verlede jaar in die Himalaja tot by die Everest-basiskamp gaan stap?
Dit was my geskenk aan myself, vir my 30ste verjaarsdag. Ek was vir twee weke lank in die Himalajas, waar dit soms -15 grade Celsius was en ek het tot 5 364 m bo seevlak gegaan. Dit was waarskynlik een van die moeilikste dinge wat ek nog aangepak het. Alleen! Jy bevraagteken jouself 100 keer ’n dag en wonder of jy nie maar moet omdraai nie. As jy stap is dit net jy en jou kop. En ’n mens se brein kan sulke leuens vir jou vertel – dis asof daar ’n kollig gewerp word op al jou foute en my innerlike kritici het ’n ball gehad! Dit was soos ’n oorlog in my kop en ek moes myself net heeltyd moed inpraat en hierdie innerlike kritikus baasraak. Uiteindelik het ek dit gemaak sonder ʼn skrapie of om eenkeer siek te word. Ek het geweldig bemagtig gevoel. En ek het waardevolle perspektief gekry oor hoe groot die wêreld is en hoe vasgevang ons in materiële onbenullighede kan raak.
Jy is 30, maar het al baie bereik. Is dit alles waarvoor jy gehoop het?
Ek dink as jy my op 29 gevra ek sou ek angsbevange gesê het: “Nee, glad nie! Daar’s nog te veel wat ek wil bereik en nie genoeg tyd nie.” Maar sedert ek 30 geword het, het ’n rustigheid my oorval. Ek het my altyd voorgestel dat teen 30 sou ek al tien pryse gewen en elke liewe toneelstuken vroulike karakter al moes vertolk het. Nou voel ek asof ek eindelose tyd het en ek’s gereed en opgewonde om te sien watter verrassende uitdagings die lewe vir my inhou, wat ek self dalk nie eers sou kon droom nie.
In jou kort loopbaan, is daar beslis nie ’n tekort aan pryse en hoogtepunte nie. Watter een staan vir jou uit?
Daar was al so bai,e maar ek moet sê die aand toe ek die Fiësta gewen het vir Babbels in Son. Maan. Sterre staan uit as ʼn absolute hoogtepunt. So ʼn prys is ʼn vreemde ding – dit kan maar met jou kop smokkel. Veral as jy ʼn perfeksionis is en hard op jouself is. Ek onthou dat ek basies die volgende dag reeds in myself begin twyfel het en gevoel het dat die paneel ʼn fout gemaak het. Dis maar diep gewortel en ek het al intussen daaraan gewerk. Maar wat ek wel goed onthou is die oomblik waarin hulle my naam aangekondig het toe ek wen. My selfkastyding het darem nog nooit die herinnering van daardie oomblik bederf nie! Ek het gevoel asof my hart my liggaam verlaat het. Dit was epic!
Jy is ’n vegetariër en kan nie kosmaak nie. Wat is jou gunstelinggereg?
Ek eet maar graag “tapas”-agtige kos – ’n paar skyfies eiervrug en soetpatat op een bordjie, avokado en rosatamaties met balsemieke asyn op ’n ander bordjie. En altyd vrugte! Ek is verslaaf aan vrugte en peusel heeldag lank aan ’n stukkie mango of papaja of spanspek. Maar my einde is bloubessies. Ek het ’n ernstige probleem en kan nie uit ’n Woolworths uitstap sonder ʼn bakkie bloubessies nie.
Wat sal jou beste vriendin oor jou te sê hê?
Hierdie is ’n besondere moeilike een om self te beantwoord! Dus het ek my beste vriendin en kollega, Simone Biscombe (wat Bianca in Suidooster speel) gevra om dit te antwoord. “Greta besit die rare vermoë om diepsinnig te wees, maar terselfdertyd ook die ‘life of the party’ te wees. Dit is altyd verfrissend om in haar geselskap te wees. Sy’t ’n hart van goud en dit is vir my só ’n voorreg om haar as vriendin te hê.”
Behalwe joga en meditasie en oefeninge, watter Kaapstad-rituele het jy?
Ek probeer soveel as moontlik buite wees en ek stap orals! Ek en Simone probeer elke Sondag op die Seepuntpromenade gaan stap. Ons beloof altyd om net ’n vinnige uurtjie af te knyp vir mekaar en die buitelug, maar eindig altyd ure later in ons gunsteling- Italiaanse plekkie in Seepunt op, elk met ’n glas wyn. Die wyndrinkkultuur in die Kaap is iets wat my ook baie na aan die hart lê.
Watter aktrise bewonder jy?
Erika Wessels.
Waaroor is jy spyt?
Ek voel dat ek nie my tyd op universiteit genoeg gekoester het nie. Ek dink gereeld terug daaraan en wens ek kon meer begrip gehad het vir hoe kosbaar al die mal ervarings van ’n dramastudent was. Ek het selde in my lewe weer so “vry” gevoel.
Hollywood of Engeland, of is jou voorkeur Afrikaans en SA?
Afrikaans en SA. Beslis.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.