Willie Burger kyk na Dana Snyman se boek Soekmekaar
Naby aan die einde van Soekmekaar, wanneer Dana Snyman op roerende manier oor die dood van sy geliefde skryf, maak hy die volgende opmerking: “Ek is op pad na Anette se begrafnis toe, maar dit voel of ek op ’n ander reis vertrek het – ’n reis wat die res van my lewe gaan duur. ’n Reis op soek na ’n nuwe verstaan en belewing van die ou sekerhede waarmee ek grootgeword het. Niks kan hierna ooit weer vir my dieselfde wees nie.”
Eintlik kan die hele Soekmekaar as “’n reis na ’n nuwe verstaan en belewing van die ou sekerhede waarmee ek grootgeword het” beskou word. Só ’n ondersoek na die ou sekerhede waarmee mens grootgeword het, kan maklik in ’n nostalgiese verlange na ’n vervloë era of ’n woedende tirade daarteen verval. Maar Snyman wys nostalgie eksplisiet af en behou ook deernis. Die klem val deurgaans eerder op “’n nuwe verstaan en belewing”. Die soeke na ’n nuwe verstaan en belewing word ontblotend eerlik onderneem. Juis in hierdie eerlikheid lê die krag van Snyman se skryfwerk.
Snyman skryf só eerlik, só ontblotend, dat die eerlikheid jou ontwapen, dat dit eintlik seermaak – nie net vir hom nie, maar ook vir die leser. Telkens lê hy sy eie aandadigheid, sy eie verstrengeldheid met onreg – selfs al het hy hom daarteen verset – bloot. Die herkenbaarheid van sy ervarings maak ’n appèl op die leser om ook so eerlik met jou eie ervarings om te gaan. Hy probeer verstaan, soms met woede, soms met skaamte, maar altyd met deernis. In van die sterkste stukke spreek hy juis geen direkte oordeel uit nie – hy laat mense en hul menings bloot raakgesien word. Wanneer hy oor sy verhouding met Johannes skryf, die man wat jare vir sy pa gewerk het, en hoedat hy verantwoordelikheid vir Johannes en sy gesin moet aanvaar, wil dit klink soos so baie Afrikaanssprekende mense se stories oor hoe “goed” hulle vir hul werkers sorg en dan is daar nie eens dankbaarheid nie of dit bly ’n bodemlose put waarin hul geld en hulp gaan.
Maar Snyman red sy verhaal uit daardie bekende patroon deur verder te gaan, te verwys na “daardie neiging wat party van ons het om Afrika en sy mense te wil red. Sonder om ons motiewe te bevraagteken.” En wanneer hy dan sy eie motiewe in alle eerlikheid ondersoek, besef hy dat die “hulp” dikwels nie gaan oor geregtigheid nie, maar “about having a big emotional experience that validates privilege”. Hy besef ’n ander verhouding met Johannes is nodig, die lang reis wat hy saam met Johannes afgelê het, bring hom uiteindelik ook by jammer sê. En daaroor kan Snyman so mooi skryf: “Dis so moeilik om verskoning te vra. Jou instink is om eers te verduidelik voor jy verskoning vra. Maar dan word dit ’n regverdiging. Tog is dit ook so maklik om verskoning te vra.” Al is Soekmekaar ’n saamvoeging van rubrieke, is daar ’n deurlopende draad.
Op verskeie maniere word aangedui hoedat Afrikaners se opvoeding in die apartheidsera, die skole, kerke en ouerhuise, hulle onvoorbereid gelaat het vir die wêreld waarin hulle moet leef. Hy skryf oor sy opvoeding: “Al hierdie waarhede, halwe waarhede en versinsels, tesame met ’n eng interpretasie van die Bybel en die geskiedenis, het my karakter help vorm, my die mens help maak wat ek is. Hier in Afrika. In Afrikaans. Soveel van wat ek is, is onder beleg en verdenking.” Hy lê sy vinger telkens presies op Afrikaners se beskouings: die beskouings van behoudendes wat na Steve Hofmeyr vir leiding kyk, die beskouings van hoogs bevoorregtes wat op hul geld staatmaak, en die beskouings van krities-denkendes. Maar dan gaan hy ook verder en kyk ook van “buite” na Afrikaners. Ná Karel Schoeman se dood gaan praat hy byvoorbeeld met die huishulp wat Schoeman versorg het, eerder as met die bekendes wat met Schoeman bevriend was.
Een rede waarom Snyman se werk die leser so roer, is sy fyn waarnemings. Hy laat sy lesers die goed raaksien wat hulle nie kan (of wil) sien nie. Dit is waar dat die beskrywings soms ’n soort resepmatigheid toon. Snyman weet presies hoe om emosies te roer en enkele stukke in Soekmekaar is nie van sentimentaliteit vry te spreek nie. Maar dit pla slegs in enkele stukke. ’n Deurleefde mensekennis wat verby die clichés strek, red telkens sy vertellings: “Ek het Gert Yster geboelie om die aandag en guns van die ander seuns te probeer wen. Is dit nie wat seuns soms doen nie?” Soekmekaar neem die leser ook saam op ’n reis na die verlede, maar eintlik deur die hede. ’n Reis vol verdriet en onsekerheid. Die reis neem Snyman weg van die tradisie waarin hy grootgeword het (sonder om deernis met ouers en voorgeslagte se foute te verloor). Dit is ’n reis “na iets meer wyd en oop en genadig tussen ons, hierdie vernielde land se mense, ondanks die wolke van wantroue en haat wat op die horison saampak”. Sy vorige boek, Op pad, het min hoop gebied. Soekmekaar is meer hoopvol – ’n hoop te vind in mense se soeke na mekaar.
Dana Snyman. 2019. Soekmekaar. Kaapstad: Tafelberg
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.