Jy is al van skool af besig met musiek. Wanneer het jy geweet jy gaan ’n sanger word en was dit ‘n verrassing vir jou ouers?
Ek was maar soos ek nou is toe ek ’n kind was. Ek ervaar dit nou ook met Reis na Gister: Min mense begin sommer net eendag as volwassene met iets. Meeste mense begin al as kind met een of ander belangstelling, wat dan hul loopbaan of stokperdjie word. As jou ouers bereid is om jou te leer ken, is hulle gelukkig voorbereid op dié paadjie.
Vir watter liedjie wat jy tot dusver geskryf het, wil jy onthou word?
Dis ’n strikvraag. As ek emosioneel daarna kyk, sal dit seker Sally Williams wees. Dit was ’n groot treffer op ’n tyd toe almal oorsee gaan werk het. Dis deel van ’n era. Groen Mamba aan die ander kant was satiries oor ’n lewe in Pretoria. Jy sukkel hier en worstel daar. Maar ek dink dis maar Sally Williams. Dis die liedjie van my wat in die FAK-liedjietuin by die Voortrekkermonument ingesluit is. Ek sal nooit vergeet dat die bekende digter, TT Cloete, by my liedjie-inhuldiging in dié tuin, teenwoordig was nie.
Jy het eers ’n Crescendo gewen, toe ’n Geraas-toekenning, toe ‘n benoeming vir Strate van my hart vir Beste Manlike Kunstenaar. Hoe voel dit om so jonk te wees en soveel sukses te smaak?
Ek dink ons het dit nodig. Elke nuweling het sy tydjie in die kollig. Dit sit jou op die map en bou jou selfvertroue. Dit laat jou besef jy kan hierdie loopbaan aanpak; jy kan dit maak werk. Nie lank nie, of dis iemand anders se beurt. Daarna gaan jy aan met jou lewe en loopbaan. Jy wen nie maklik weer toekennings nie, maar die feit dat jy ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf het, is die toekenning.
Waaroor het jy spyt in jou lewe?
Dis net iets waaroor ek ’n bietjie spyt het; darem nie te veel nie. Nadat ek klaar geswot het, het ek in Londen vir twee jaar gaan woon. Dit was ’n fantastiese ondervinding, maar omdat ek so graag in Afrikaans wou skryf en sing, kon ek nie wag dat die twee jaar wat ons kon bly, verbygaan sodat ek met my lewe kon begin nie. As ek nou terugkyk, besef ek jy is só jonk op 23 – jou lewe lê nog voor. Ek kon maar nog twee, drie jaar gebly het en my oogklappe oor die lewe nog meer laat afval het.
Hoe hanteer jy kritiek?
Ek hou nie van kritiek nie.
Sosiale media is deel van jou lewe, raak jy nie moeg vir die “publiekgeit” daarvan nie?
Nee, dis lekker om te weet daar is een kultuurgroep waarvoor ek iets kan beteken. En as hulle die lewe saam met my volg, is dit goed. Dit was eintlik so eienaardig, maar ‘n geweldige eer, dat my gedig in die digbundel en my liedjies in die FAK Liedjietuin op geneem is.
Jy sing, dig en skilder ook. Watter talent weeg vir jou swaarder?
Musiek beslis. Liedjies kan mense se lewens verander. Dit laat hulle dink, lag, dans. Musiek is powerful. Gedigte kom nie by so baie mense uit nie.
Jy het soos die meeste ander bekende singende pa’s (en ma’s) ook ’n kinderalbum en -DVD, Myne, Myne, Myne uitgebring. Sal jy dit weer doen?
Wanneer daar kinders is, verander jou hele huis. Jy fokus vir ’n paar jaar net op jou kleinspan en word geïnspireer om kinderliedjies te skryf. Een maal en nie weer nie. Myne, Myne, Myne was ’n groot treffer by my kinders en my jongste het dit nou weer ontdek en die liedjies bulder deur die huis.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.