As jy die basiese hekelsteke kan doen, kan jy vir jou hierdie fraai pantoffels en vingerlose handskoene maak
CHRISTA SWANEPOEL
Benodigdhede
Pantoffels
1 bal elk ELLE PURE GOLD in Amethyst, Lavender, Ivory en Azure, of kleure van jou keuse
Handskoene
1 bal elk Amethyst, Lavender en Azzure, of kleure van jou keuse
4 mm-hekelnaald
Grootte
Pas voetlengte van: 22(25;27) cm
Pas gemiddelde arm
Afkortings
gs – glipsteek
hlb – halwe langbeen
kb – kortbeen
ks – kettingsteek
lb – langbeen
lb2tes – verminder een steek soos volg: (draad oor naald, steek naald in vlg steek, draad oor naald en trek lus deur, draad oor naald en trek deur 2 lusse) 2 keer, draad oor naald en trek deur al die lusse op naald
Hekelinligting
Vervang 1ste lb in elke ry of rondte met 3 ks.
Eindig elke rondte deur met gs in 3de ks te heg.
Knip telkens ’n kleur af as die rondte voltooi is. Jy kan wel die roomkleur laat oorloop by pantoffels. Dis ’n groot werk om later drade weg te werk, maar dit lyk netjieser.
Wissel kleure elke keer met roomkleur af vir pantoffels soos op foto.
Vir handskoene is net drie kleure afgewissel soos op foto.
Vir die handskoene word die lb in die agterste lus gebrei om dit ’n interessante rif te gee (sien foto regs). Jy kan egter lb soos gewoonweg ook hekel.
Pantoffels
Word van toon na hak gehekel en dan die beengedeelte. Wissel kleure af soos verkies. Met 4 mm-hekelnaald en room, maak 5 ks en gs in eerste st om ring te vorm.
1ste rondte: 12 lb in ks-ring (begin van rondte is onder die voet).
2de rondte: * 1 lb in 1ste lb, 2 lb in vlg lb, herh van * tot einde. 18 lb.
3de rondte: * 1 lb in elk van 1ste 2 lb, 2 lb in vlg lb, herh van * tot einde. 24 lb.
4de rondte: * 1 lb in elk van 1ste 3 lb, 2 lb in vlg lb, herh van * tot einde. 30 lb.
5de rondte: * 1 lb in elke lb, maar vermeer 4(6;10) lb eweredig oor ry. 34(36;40) lb.
6de rondte: 1 lb in elke lb. Gaan voort in kleure en lb tot werk 12(13;15) cm lank is, knip draad af en heg af. Plaas merker tussen 2 middelste lb in rondte – ná 17(18;20) lb. Hou die werk met toon na jou kant toe en tel 4 lb na links van merker. Werk van hier af aan regterkant tot daar 6 lb oor is (3 ste weersk van merker aan bokant van voet), draai. Gaan voort met streeppatroon soos tevore, gs tot in 1ste lb en werk lb tot 1 st in ry oor is, draai. Gaan voort oor hierdie 26(28;32) lb tot werk ongeveer 21(23;26) cm lank is.
Vlg rondte: 1 lb in elk van vlg 11(12;14) lb, werk vlg 4 lb twee-twee saam met lb2tes en werk 1 lb in laaste 11(12;14) lb tot einde. Knip draad af en heg af. Vou in helfte en werk rande agter aan mekaar.
Been Begin in middel agter en werk 40(42;44) lb in kleur van jou keuse rondom bokant van pantoffel. Werk 6 rondtes lb. Vlg rondte: Vermeer 8(9;10) lb eweredig oor ry.
Omvourand
Werk aan ander kant om dit netjieser te maak.
1ste rondte: * 1 picot (= 4 ks, 1 lb in 1ste ks), slaan 2 lb oor, 1 kb in vlg lb, herh van * rondom en eindig met 1 gs in 1ste ks. Knip draad af. Heg af.
2de rondte: begin met 1 kb in bokant van 1ste picot en werk *1 picot, heg dit met kb in bokant van vlg picot, herh van * rondom, maar eindig met gs in 1ste ks.
3de rondte: Werk soos 2de rondte. Heg af. Werk drade weg. Vou boonste 5 rondtes om.
Blommetjies
(Maak 3 per pantoffel in verskillende kleure) 5 ks en gs in 1ste ks om ring te vorm.
Vlg rondte: * 1 picot, 1 kb in ring, herh van * nog 5 keer. 6 blaartjies. Knip draad af en heg af. Werk drie blommetjies aan kant van pantoffels vas.
Vingerlose handskoene
Met 4 mm-hekelnaald, maak 30 ks.
1ste ry: hlb in 3de ks van naald af (1ste 2 ks tel as hlb) en hlb in elke ks tot aan einde, heg sirkel met gs in 2de ks van 3 ks. (29 hlb).
2de en elke opeenvolgende rondte: 3 ks (tel as 1ste lb), 1 lb in elke hlb vir 1ste rondte en in elke lb vir opeenvolgende rondtes vir ongeveer 15 cm (15 rondtes lb) en wissel kleure af soos verkies.
Regterhandskoen se duimopening
16de rondte: 3 ks (tel as 1 lb), lb in vlg st, ks 9, slaan vlg 3 ste oor, lb in elke vlg lb in rondte in gs in 1ste lb.
Linkerhandskoen se duimopening
16de rondte: ks 3 (tel as 1 lb), lb in elke st in rondte tot laaste 3 ste, ks 9, slaan 3 ste oor en heg aan 1ste lb van rondte.
Albei handskoene
17-19de rondte: ks 3, lb in elke st rondom, heg met gs.
20-22ste rondte: herh rye 17-19, maar vermin 2 ste aan weersk van hand (jy kan handskoen aanpas om sye te bepaal) met lb2tes.
23-29de rondtes: ks 3, lb in elke st in rondte, heg met gs.
30ste ry: ks 2, hlb in elke st rondom, heg met gs. Heg af.
Duimrandjie
Heg draad aan in hoek van duimopening, ks 1, kb in dieselfde en elke st rondom (sowat 13-14 kb). Hekel nog 2 rondtes in kb. Heg af. Werk drade weg.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.