Willie Burger verduidelik wat wêreldliteratuur beteken
Die Duitse skrywer Johann Wolfgang von Goethe het in 1827 die begrip “wêreldliteratuur” (Weltliteratur) begin gebruik toe hy in ’n brief opgemerk het dat “nasionale literatuur” nie meer veel betekenis het nie omdat die era van wêreldliteratuur volgens hom aangebreek het. Hy het gemeen dat almal behoort saam te werk om die era van wêreldliteratuur te bevorder.
Goethe het hierdie uitlating gemaak kort ná die Napoleontiese oorloë. In ’n tydperk van relatiewe vrede in Europa, voor die opbloei in nasionalisme wat juis weer klem op nasionale letterkundes geplaas het, het Goethe gehoop dat mense wat mekaar se literatuur oor hul eie landsgrense en taalgrense heen sal lees, meer verdraagsaam sal wees en mekaar beter sal begryp. Die hoop wat Goethe gehad het dat nasionale letterkundes minder aandag sou ontvang en dat idees en literatuur oor landsgrense heen sou versprei en wedersydse begrip sou bevorder, het ironies genoeg nie aan die begin van die 19de eeu gerealiseer nie. Trouens, die 19de eeu en begin van die 20ste eeu is eintlik die tydperk waarin die skryf van nasionale literatuurgeskiedenisse in Europese lande gevestig geraak het. Elke nasionale literatuurgeskiedenis het ten doel gehad om die eie literatuur se lof te besing.
Die skryf van ’n literatuurgeskiedenis was deel van ’n proses om nasies te bou en om die eie nasie se kulturele ontwikkeling aan te toon. Nietemin was daar gedurende hierdie tydperk ook diegene wat probeer het om ’n geskiedenis van wêreldliteratuur te skryf. Hul doelwit was om ’n soort lys van “groot werke” deur “belangrike skrywers” op te stel wat dan as wêreldliteratuur bestudeer word. Wêreldliteratuur het dus nie in hierdie verband verwys na “al die literatuur in die wêreld” nie, maar eintlik slegs na uitgesoekte literêre werke wat volgens die mening van sommige mense beter en belangriker was en wat eintlik oral oor die wêreld, deur alle tye, deur alle mense waardeer behoort te word. Hierdie groot werke deur belangrike skrywers is dan dikwels ook deur die skrywers van nasionale literatuurgeskiedenisse benut. Deur die plaaslike skrywers met hierdie groot skrywers te vergelyk, is statuur aan hulle verleen. Só word ’n skrywer in die kleiner verband van ’n etniese of nasionale letterkunde se waarde en belang verhoog deur sy/haar werk met die werk van die groot skrywers te vergelyk: “Hier is ons taal se Shakespeare of ons eie Dickens of ons Goethe.”
Een van die grootste probleme met hierdie lyste van groot skrywers en belangrike boeke is dat hulle meestal “Eurosentries” was, met ander woorde, dat hulle nie eintlik aan werke uit ander dele van die wêreld as Europa (of die Weste) aandag gegee het nie. Sedert die middel van die 20ste eeu het ál meer kolonies onafhanklik geword en danksy postkoloniale denke is al meer kritiek teen die Europees- en Westers-gedomineerde lys van belangrike skrywers uitgespreek. Ook uit ander oorde is die kanon van groot skrywers uitgedaag en is daar op ’n regverdiger bedeling vir verskillende minderheidsgroepe aangedring – vir groter verteenwoordiging van nie-Westerse literature. Die idee van groot name en belangrike boeke is as vol vooroordele ondermyn en blootgelê. Hoekom is die groot skrywers net mans en boonop wit mans uit die Weste?
Talle pogings is aangewend om die kanon van groot tekste uit verskillende perspektiewe uit te brei (en so kry die Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Perspektief en Profiel, dan verskeie “perspektiewe” by – oor vroueskrywers, buitekanonieke praktyke en koloniale perspektiewe, benewens die tradisionele beskrywings van prosa, poësie en drama). Nie slegs politieke druk het die lys van groot boeke uit die “wêreldliteratuur” uitgedaag nie, maar oor die afgelope 30 jaar heen het globalisering ’n oorheersende rol in die wêreld begin speel. Globalisering het die beskouing van wêreldliteratuur help verander, want alle literatuur versprei gewoon vinniger en wyer. Ons kan boeke sonder moeite sommer dadelik op enige uithoek van die aarde selfs op ons selfone aflaai en begin lees – of saam aan boeke skryf (soos fanfiction). Die idee van enkele groot werke wat vir altyd die beste en belangrikste sal bly, verdwyn in hierdie verswelgende aanbod van leesstof. Die rol wat vertaling speel, word in ’n globaliserende wêreld al hoe belangriker.
Dit is nie meer goed genoeg om ’n skrywer van ’n oplaag boeke in ’n klein taal te wees nie. Mense streef daarna om soos die Harry Potter-boeke in talle tale vertaal te word en sodoende groot geld te maak en deel van “wêreldliteratuur” te word. Nie alle werk is egter ewe maklik om te vertaal nie. Dikwels is dit makliker om populêre fiksie, waar die klem op die storie val, te vertaal as wat dit is om ’n hele kulturele wêreld wat op ingewikkelde maniere in sommige tekste verwoord word, in ’n ander taal weer te gee. (Deon Meyer reis beter as Dana Snyman.) Sekere skrywers se werk “reis goed”, terwyl ander nie maklik ’n wyer leserstal vind as dié wat in hul onmiddellike omgewing is nie. Daar is baie soorte literatuur en klein plaaslike werke wat die plaaslike ontgin en ondersoek, sonder om wyd te reis en deel van ’n wêreldverhoog te word en bly voortbestaan, naas werk wat die wêreld oor reis.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.