As jy nie integriteit het nie, is verantwoordbaarheid nie deel van jou menswees nie
Een van die oorsake wat aanleiding gee tot dit wat ons in die wêreld sien gebeur, is ’n toenemende gebrek aan integriteit.As jy nie integriteit het nie, skroom jy nie om mense uit te buit nie, jy dink in die eerste plek net aan jouself – daar is nie rêrig plek vir jou medemens nie – tensy hy of sy jou eie situasie kan verbeter of bevorder. As jy nie integriteit het nie, skroom jy nie om geld te steel nie – staatsgeld inkluis. As jy nie integriteit het nie, misbruik jy mag, status en aansien. As jy nie integriteit het nie, is verantwoordbaarheid nie deel van jou menswees nie. Die lys is lank … Warren Buffet sê oor integriteit:
In looking for people to hire, look for three qualities: Integrity, intelligence and energy. And if they don’t have the first, the other two will kill you
Dié wysheid is nie tot ’n werksplek en ook nie tot intelligensie en energie beperk nie. Mooi en suksesvol is relatiewe begrippe – wat vir my mooi is, is dalk vir ander mense nie mooi nie. Wat vir my sukses illustreer, skets dalk nie dieselfde prentjie vir ander mense nie. Tog is daar ’n universele barometer in ons gemeenskap waaraan ons mense wat sogenaamd mooi, slim, suksesvol en ryk is, meet. Sonder integriteit beteken hierdie eienskappe egter net mooi niks. Na my mening maak dit nie saak hoe mooi, slim, suksesvol en hoeveel sakke vol geld jy het nie – as jy nie integriteit het nie, het ek en jy niks vir mekaar te sê nie. Ons waardestelsel is nie dieselfde nie.
Mooi kan verdwyn, slim en slinks is nie dieselfde nie, sukses en rykdom (want dit word gewoonlik in dieselfde asem gesê) kan oornag verander. Integriteit kan jy nie van iemand wegneem nie en dit kan nie net in die niet verdwyn nie. As jy dit het, het jy dit. Jy kan maar gaan kyk na mense in die geskiedenis wat integriteit gehad het en dié wat dit nie gehad het nie. Dié daarsonder het chaos veroorsaak. Jy kan nie integriteit met Hitler verbind nie. Dis wel mense soos Carl Lutz, Oskar Schindler, Irena Sendler, Raoul Wallenberg, Ho Feng-Shan, Aristides de Sousa Mendes, Selahattin Ülkümen – die lys is lank – wat weens integriteit die lewe van duisende mense in die Tweede Wêreldoorlog gered het. In die chaos wat integriteitslose mense in die wêreld veroorsaak, is dit belangrik dat ons optree soos CS Lewis gesê het:
Integriteit is om die regte dinge te doen, selfs al sien niemand jou nie
As meer mense integriteit het, het ons nie allerlei soorte polisiëring in die wêreld nodig nie, want soos Albert Camus gesê het: Integrity has no need of rules
As jy ernstig oor integriteit is, moet jy voorbereid wees op kritiek, spot, vernedering en beledigings van diegene wat nie integriteit het nie
Integriteit is om volgens waardes in plaas van persoonlike gewin op te tree
Integriteit is die keuse tussen wat gerieflik en wat reg is – Tony Dungy
Integriteit gaan nooit uit die mode nie – Jim George
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.