Willie Burger kyk na hoe sensoriese waarnemings in prosa gebruik word
Wanneer mense met mekaar praat oor die boeke wat hulle gelees het, vertel hulle mekaar meestal van die emosionele impak wat dit op hulle gehad het – hoe dit hulle laat voel het. Waaroor egter dikwels nié gepraat en geskryf word nie, is die manier waarop die roman geskryf is, die maniere waarop taal en verteltegnieke aangewend word. Selde word gevra hoekom die roman byvoorbeeld ’n bepaalde effek op die leser het, wat in die teks veroorsaak dat die leser emosioneel reageer.
Dit kan egter baie bevredigend wees om bietjie versigtiger na bepaalde paragrawe en sinne en die effek daarvan op ’n leser te kyk. Ek het pas begin om Etienne van Heerden se jongste roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, te lees. Ek sal binnekort ’n vollediger bespreking daarvan skryf, maar sommer so met die oopmaak van die roman en die lees van die eerste paar bladsye val die manier waarop Van Heerden vertel en hoe hy taal aanwend, ’n mens op. Die eerste sin van die roman is een van daardie rare vasgrypsinne wat ’n leser dadelik nuuskierig maak om verder te lees: “Aan die einde van die storie wat jy nou begin lees, druk die gety wat van die die Oos-Chinese See instoot, Thuli stadig suidwaarts. Sy dryf op die swart water van die Huangpu-rivier wat teen die Bund in Shangai verbyvloei. Haar ledemate is swart en stokkerig uitgesprei.”
Die eerste sin speel oop kaarte met die leser. Hierdie is ’n storie wat jy lees. Aan die einde van hierdie storie (en die roman is oor die 630 bladsye dik!) gaan Thuli stadig suidwaarts dryf. Die vermoede bestaan dat dit haar lyk is wat daar dryf (eers ’n paar bladsye later word die indruk gewek dat sy dalk nog leef). Hierdie eerste sin maak die leser nuuskierig. Wat het veroorsaak dat Thuli hier dryf, is sy dood, is dit moord, hoe het sy in China beland? Van hierdie “eindpunt van die storie” word dan deur middel van terugflitse geleidelik onthul wat voor hierdie oomblik gebeur het – kort voor sy in die water beland het nadat ’n pyl uit ’n kruisboog haar getref het, maar dan ook verder terug in haar verlede, as klein dogtertjie in Londen waar haar ouers, uitgeweke ANC-lede, tydens die die apartheidstyd gewoon het.
Ook meer onlangse terugflitse word aangebied, hoedat Thuli haar ouerhuis kort ná die Fees Must Fall-studentebetogings verlaat het. Hierdie heen-en-weer-spronge maak dit moontlik om in die bestek van enkele bladsye sommer baie inligting vir die leser aan te bied, sonder om in ’n lang uitgerekte verduideliking te verval. Thuli se hele lewensverhaal word nie van haar geboorte tot hierdie dryf in die rivier vertel nie – wat maklik vervelig sou kon word, maar sommer dadelik word op ’n paar opspraakwekkende gebeurtenisse uit haar lewe gefokus, wat veel interessanter as ’n chronologiese relaas is. Boonop word ’n hele aantal belangrike temas op hierdie manier oopgemaak.
DJ Opperman het gedig dat sy nooi in ’n nartjie is en sy ouma in kaneel. Sensoriese waarnemings wat nie tot die visuele beperk is nie, betrek die leser veel nouer by ’n vertelling. ’n Opvallende kenmerk van die roman is hoedat Van Heerden sensoriese waarnemings inspan. Thuli dink byvoorbeel aan haar pa: “Hy was die geur van sy serp: diepsweet en sigaretrook, whiskey en redenasies. Hoop en wanhoop. (…) “Dis wat haar pa vir haar was en is – geur.” Die geur van instemming en meelewing van die Indiër-gesin onder, die geur van kommer en boodskappers en onverwagse reise. Vreemde mense wat skielik in hul kombuisie met die lae plafon staan, hul reënjasse wat drup en hul sambrele wat na skrik en misreën en sigaretrook ruik. Almal weet hoe geur mens na ’n vorige ervaring kan terugvoer.
In Thuli se geval is dit die reuk van haar pa se serp wat allerlei herinneringe oproep. Die beskrywing begin heel “normaal” met die verwysing na die geur van diepsweet en sigaretrook en whiskey. Maar dan volg ’n hele aantal ander sake wat nie regtig geruik kan word nie – “redenasies”, sambrele wat na misreën en sigaretrook, maar ook na skrik en boodskappers ruik. “Die geure het assosiasies. (Hierdie effek is nie in ’n rolprent moontlik nie.) Wat soos ’n neutrale beskrywing van die geur van ’n serp lyk, bring sommer ook ’n hele geskiedenis van angs en onsekerheid mee – waardeur die leser se emosies sensories betrek word. Sensoriese waarnemings is nie tot die reuksintuig beperk nie.
Kyk na hierdie beskrywing: Daar aan die voet van die trap sou haar ma, instinktief die moederhen, haar liewe, liewe, swaargeleefde ma; daar sou haar ma gaan staan, haar kop skeef draai, en sonder dat sy enige ander inligting het, hoor aan die kwaliteit van die stilte, hoor aan die suising van die niks, daarin sou sy hoor, soos net ’n ma kan hoor, met die oor van bloed en naelstring: Haar dogter, haar Thuli. Hul enigste. Is weg. En daar’s ’n geur van ’n brandende kers in die huis.” In hierdie paragraaf word spanning geskep deur die lang sin waarin wat haar ma hoor, telkens uitgestel word deur nóg ’n invoeging, nóg ’n beskrywing en uiteindelik word selfs die tipografie ingespan deur ’n nuwe reël vir die brokkies inligting te gebruik. Die voortdurende verwysing na geure en klank wat saam telkens ander herinneringe oproep, betrek die leser op ’n sensoriese manier wat deur assosiasie ’n emosionele ervaring tot gevolg het.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.