Dit kan chaos veroorsaak as jy moet uitvind dat jou egskeiding nie geregistreer is nie, skryf Carla van der Spuy
Dit klink skoon absurd, maar jy kan dalk heel onskuldig ’n bigamis wees as iemand iewers by die departement van binnelandse sake “opgeslip” het en jy met jou nuwe geliefde én jou eks getroud is. Dit klink des te meer na suiwer fiksie as hulle jou laat weet dat jou oorlede eks vir ’n wyle weer op papier lewendig gemaak moet word sodat julle weer kan skei (die eerste egskeiding het iewers raaiselagtig in die stelsel verlore gegaan).
Daarna word ’n doodsertifikaat eenvoudig weer uitgereik. En siedaar, probleem opgelos. Dis wat met Sandy Beyers gebeur het. Sy vertel dat sy onder die indruk was dat sy al 16 jaar lank van haar eks geskei is. Toe nie. Toe sy boedel afgehandel moes word, moes sy verneem dat hulle met sy afsterwe steeds getroud was. Dit nou volgens die stelsel.
“Toe laat hulle my weet dat hulle hom weer lewendig moet maak sodat ons kan skei en dan verklaar hulle hom dood, waarna die doodsertifikaat uitgereik sal word.”
Marie Reinecke (nou vir die tweede keer Frampton), ’n gewese joernalis, het ook toevallig uitgevind dat Merwyn, haar man van die afgelope vyf jaar toe nooit haar man was nie. Haar wederhelf is toe steeds die man wat sy 22 jaar vantevore in die skeihof gegroet het. En by nadere ondersoek is hy steeds met sy eks getroud.
Alles in twee verskillende provinsies. Hulle het dit eers agtergekom toe sy haar paspoort wou hernu om Merwyn te vergesel op een van sy talle besoeke aan die Midde Ooste en Europa waar hy opleiding aan jong chemiese ingenieurs gee. Dit het hulle ’n jaar en ’n half gevat om geskei te kom omdat die voorblad van haar hooggeregshofbevel soek was.
Die uiteinde was hulle moes geskei kom en weer trou voordat dit op die stelsel van binnelandse sake reggestel kon word en sy haar paspoort kon hernu. In April vanjaar het Merwyn ’n permanente aanstelling vir twee tot vyf jaar in Dubai gekry. Marie het besluit dis te lank om uit mekaar te wees en sy gaan saam. Die troue was toe net betyds afgehandel.
“In Dubai kan jy gewis nie saam in ’n hotel intrek as jy nie wettiglik getroud is nie,” vertel sy vanuit Dubai.
“Hier mag mense nie saambly nie. Mens mag nie eens in die openbaar hande vashou of soen nie. “Saam met ons permanente verblyfdokumente in ons paspoorte, wat ’n reeks mediese ondersoeke deur die regering voorafgegaan het, het ons ook elkeen ’n ID-kaart gekry voordat ons bankrekeninge kon oopmaak. Daarsonder kan jy nêrens heen reis nie. Die burokratiese owerhede in Dubai het ook gesertifiseerde dokumente vanuit Suid-Afrika vereis wat bevestig dat ons inderdaad getroud is. Ons nuwe trousertifikate was nie voldoende nie, selfs nie in hul vooraf gesertifiseerde vorm nie.
“Dis baie soos die outydse dokumente wat met ’n lint deur ’n gaatjie gebind was met ’n strik en rooi stempel wat na hulle teruggestuur moes word voordat ons ons paspoorte vir Dubai kon kry.
“Ander lande is so deeglik en in Suid- Afrika raak goed sommer net weg. As jy nie op die Suid-Afrikaanse stelsel geskei is nie, kan jy nie weer trou nie. “My egskeidingsdokument het intussen al erg verinneweer van al die jare wat dit op prokureurs se lessenaars beland het. Ek het seker al vier eiendomme gekoop en verkoop en die prokureurs moes met daardie papiere werk. Ek het hoog en laag daarna gesoek, maar kon dit nêrens opspoor nie. Dit moes iewers op iemand se lessenaar agtergebly het.
“Toe verg dit ’n lang soektog na die egskeidingsbevel. Dit kos my toe van Ballito af Pietermaritzburg toe ry om dit daar te probeer opspoor. Ek moes by die argiewe in ’n sekere gebou so ses blokke verder gaan probeer. Daar word ek vertel alles wat voor 1980 plaasgevind het is daar, maar nou ja, hulle weet nie waar die dokumente van daarna is nie.
“Toe ry ek drie uur verder van Pietermaritzburg af na Durban se Hooggeregshof toe – nogal tydens ’n vragmotorstaking en in gietende reën.
“Daar aangekom moes ek hoor dat die nodige lêers ook nie in die stoorkamers is nie. Ek is vier of vyf keer terug soontoe, het mooi gepraat en is van bakboord na stuurboord gestuur. Uiteindelik kry ek toe iemand wat die egskeidingsbevel – nie die skei-ooreenkoms nie – opspoor.
“Ek was eers amptelik geskei nadat ek dit na binnelandse sake se hoofkantoor in Pretoria toe gestuur het.” Sy skerts dat sy eintlik daardie tyd vir haar ’n ryk man moes gesoek het en selfs kon besluit het om nie weer te trou nie. Maar toe trou sy en Merwyn weer. En ook net betyds voor hulle Dubai toe is, al was hulle al vyf jaar lank getroud. Hulle het dus nou twee troudatums – een op 16 Februarie 2014 en een op 23 Februarie vanjaar.
“In hierdie tyd dat ek met my eks ‘getroud’ is, is twee groot pensioene aan hom uitbetaal waarvan ek die helfte kon gekry het as ons nog getroud was. Ek kon ryk gewees het!” vertel sy laggend.
Mense vertel
Een van my egskeidings was nie wettiglik gestempel nie. Ek het dit eers jare later agtergekom toe ek om ’n paspoort aansoek gedoen het. Ek het my “man” dadelik gebel om hom die goeie nuus mee te deel – veral omdat sy boedel toe aansienlik meer werd was. Maar ons was teen daardie tyd sulke goeie vriende dat ek nie nog sy goed ook wou vat nie. Die hof het egter net my skeibrief gestempel en binnelandse sake het dit opgedateer. – Carine Pietersen Jordaan
Huweliksbevestigers beveel deesdae aan dat jy eers binnelandse sake toe gaan voor jy trou net om seker te maak wat jou huwelikstatus is. Dit was in my geval die moeite werd. – Elmari Craig Mulder Ek het destyds saam met iemand klasgeloop en so sit ons toe in die huweliksregklas en die dosent verduidelik dat dit nie wettig is om in ’n vliegtuig te trou nie. My medestudent het gevra dat die dosent dit weer verduidelik. Net daarna is die ou swetsend uit die klas uit met die woorde: O ***, ek het twee kinders en ek is nie getroud nie!” – Stoffie Rossouw
Ons predikant het ’n fout op ons huweliksertifikaat gemaak en van my ID-syfers omgeruil. Ons het nooit tyd gehad om binnelandse sake toe te gaan nie, maar dit reggestel toe ons vir paspoorte moes aansoek doen. – Daleen de Jager-Gouws
Ek en my man is in 2009 in die kerk getroud en het die huweliksertifikaat geteken. Ek wou my nooiensvan behou, maar het later besluit om dit tog te verander. By binnelandse sake vind ek toe uit dat ons huwelik nooit geregistreer is nie. Ek en my man is toe weer sommer in my skoonma se ouetehuis getroud. Ek was hoogswanger. – Deserise Cocklin-Viljoen
My ma is volgens binnelandse sake oorlede. Sy moet eers aan hulle bewys dat sy lewe voor hulle haar weer lewend kan verklaar, moes sy hoor. Toe ons in die hof vir haar egskeiding van my pa sit, sê hulle nee, sy kan nie van my pa skei nie, want dié is ’n wewenaar. Sy moes toe ’n verklaring kry om te bevestig dat sy nog leef. Haar doodsertifikaat word nou mooi by haar onderneming uitgestal en is duidelik sigbaar wanneer jy daar instap. Sy is ’n begrafnisondernemer. – Ilisna Nel