Willie Burger kyk vandees-week na boeke met die Boereoorlog as tema
Die Anglo-Boereoorlog het ’n groot neerslag in die Afrikaanse letterkunde gevind. Hoewel daar nie direk ná die oorlog baie boeke verskyn het nie, is baie oorlogsdagboeke en memoires gedurende die 1920’s en 1930’s uitgegee. Een van die bekendste hiervan is seker Deneys Reitz se Commando (1929), wat in Engels verskyn het. Ook Gustav Preller se historiese werk oor die Boereoorlog en sy sketse en kortverhale verskyn in hierdie tyd.
In talle van die dagboeke en memoires oor die oorlog, wat in die oploop na die Nasionale Party se oorwinning in 1948 uitgegee is, val die klem op die Boeremagte se ervarings te velde, in ander op die ontsettende lyding van vroue en kinders in die kampe, terwyl heelwat ook oor die wedervarings van krygsgevangenes in Indië, Ceylon of St Helena handel. Die lyding in die kampe en die dapperheid van die klein boerekommando’s teen die oormag Britte is dikwels as aanvuring van ’n volksgevoel en as motivering vir die verkryging van mag gebruik.
In die populêre fiksie is heelwat aandag aan die Anglo-Boereoorlog in hierdie en die daaropvolgende dekades gegee. Meestal is die boeremagte se edel en moeisame taak om dapper teen ’n oormag vir selfbeskikking te veg in hierdie verhale bevestig. Die gewildheid van die TV-reeks Arende (drie reekse van 1989 tot 1993) is ook ’n aanduiding van die mate waartoe die Anglo-Boereoorlog steeds ’n sentrale plek in die Afrikaanse denkwêreld het. Nog onlangser was PG du Plessis se Fees van die ongenooides eweneens ’n baie gewilde TV-reeks en later ook blitsverkoperroman.
Veral rondom die eeuwending, met die 100-jarige herdenking van die oorlog, het talle boeke oor die oorlog verskyn. Sommige hiervan was romantiese verhale teen die agtergrond van die oorlog (Jeanette Ferreira se Babette en Catharina), maar in werk soos Op soek na generaal Mannetjies Mentz deur Christoffel Coetzee is deurtastend na die effek van oorlog op individue en die boosheid van geweld op ’n ontluisterende manier ondersoek. ’n Ongenuanseerde opvatting van edel Boere is ook in hierdie roman bevraagteken.
Karel Schoeman het in Verliesfontein die lig op die inval van Boeremagte in die Kaapkolonie en gepaardgaande magsvergrype laat val. Laasgenoemde twee werke kompliseer die manier waarop so dikwels na spesifiek die Boereoorlog, maar ook die verlede in die algemeen, gekyk word sodat eenvoudige lessies oor ons heldhaftige voorgeslagte en ’n bose imperiale mag nie meer moontlik is nie.
Onlangs het Albert Blake se werk oor hensoppers en verraaiers die aandag op ’n deel van die geskiedenis gevestig wat dikwels tevore verswyg is en wat skynbaar steeds gemoedere gaande maak – wat weereens bevestig hoe groot die effek van die Anglo-Boereoorlog op Afrikaners was.
In 1998 het ’n bundel van 34 verhale oor die Boereoorlog onder redaksie van Jeanette Ferreira verskyn. Hierdie bundel, Boereoorlogstories, is pas deur Human en Rousseau heruitgegee. Byna al die belangrikste Afrikaanse skrywers het tot hierdie bundel bygedra en dit bied ’n verskeidenheid perspektiewe op die oorlog. Alexander Strachan se verhaal “Die music-box” het intussen ook in verwerkte vorm in sy roman Dwaalpoort in ’n ander konteks verskyn – ’n roman waarin die rol van die verlede (en ook die oorlog) op individuele identiteit onder meer ondersoek word.
Een van die belangrikste romans wat aan die einde van verlede jaar verskyn het, is Sirkusboere deur Sonja Loots. In hierdie roman word gekyk na die ervarings van enkele Boere (en hul agterryers) wat pas ná die oorlog in 1904 by ’n sirkus aangesluit en in die VSA tonele uit die Anglo-Boereoorlog gaan opvoer het. Twee van die hooffigure waarop in dié roman gefokus word, is die verslane generaal Piet Joubert (asook sy agterryer Fenyang Mokeyane) en die avontuurlustige Ben Viljoen. Hoewel die gevolge van die Boereoorlog opnuut deur hierdie roman beskryf word, is dit ’n roman oor vandag, oor reaksies van mense op die verlede, oor die maniere hoe mense met hul persoonlike en kollektiewe verlede omgaan.
Naby aan die einde van die roman sit Ben Viljoen, wat intussen Spaans leer praat het en hom in Nieu-Mexiko gevestig het eerder as om onder Britse beheer in Suid-Afrika te bly, en dink aan die talle stories wat hy nou kan vertel. En dit is veel meer as die stories oor die Boereoorlog – ook stories van die oorlog in Mexiko, van die sirkus en van ’n onderonsie met Buffalo Bill. Generaal Piet Joubert, terug in Suid-Afrika, probeer opnuut om sy storie van die oorgawe
by Paardeberg te vertel. Vk