Delheim Wynlandgoed vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Delheim Wynlandgoed vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar en as jy op die familieplaas kuier, word jy vinnig bewus van die hegtheid van die Sperling-gesin en hul groot bewondering vir pa en eggenoot, Spatz, wat diep spore in die Suid-Afrikaanse wynbedryf getrap het.
Spatz is in Oktober 2017 in die ouderdom van 87 oorlede. Hy het konvensionele gebruike en oortuigings uitgedaag en het ’n pionier-ikoon van die Suid-Afrikaanse wynbedryf geword, ten spyte van vele hindernisse. Die wynbedryf se hoogste erkenning van sy uitmuntende bydrae is in 2009 gemaak, toe die 350 Celebration Scroll in die jaar wat Suid-Afrika 350 jaar van wynmaak gevier het, aan hom oorhandig is.
Met die kelder se verjaardag, is ’n groepie gaste vir middagete in die oudste deel van die kelder wat in 1944 deur Italiaanse krygsgevangenes gebou is, onthaal. Victor, die huidige Sperling-man wat die fort hou, het die dag se vieringe met ’n kort toespraak geopen. Hy het sy pa se leerhoedjie opgesit en ’n slukkie schnapps geneem vir moed – in die tradisionele Duitse styl natuurlik!
Hy het vertel hoe Spatz se oom, Hans Hoheisen en tannie, Del, Delheim – ’n naam afgelei van die Duitse betekenis, Del se Huis – in 1939 gekoop het. Spatz het in 1951 as ’n 20-jarige van Duitsland aan die Kaap arriveer, om by sy oom en tannie aan te sluit. Hy het die plaas in die Simonsberg oor die volgende bykans 70 jaar in een van die gewildste en suksesvolste wyn-bestemmings omskep en baie eerstes vir die bedryf vermag.
Victor het ook vertel van die eenmalige, eksklusiewe Kaapse versnit, Iconoclast, wat die lewe van oorlede Spatz herdenk. Die wyn kom van die 2012-oesjaar. Dit huldig die Suid-Afrikaanse wyn-pionier en sy vreeslose uitdaging van konvensionele wyshede.
Iconoclast is ’n versnit van vier kultivars en ’n Kaapse versnit, maar is Shiraz-gedrewe in plaas van die tradisionele gebruik van Pinotage as die hoof-kultivar. Victor sê dis ’n klein aweregsheid wat sy pa sou laat glimlag, nie net omdat dit stroom-op is nie, maar ook omdat Shiraz sy gunsteling was. Die versnit word afgerond met Cabernet Sauvignon en Petit Verdot.
Iconoclast is ’n weerspieëling van Spatz. Afgelei uit die Griekse woord, eikon, wat “voorkoms” of “beeld” beteken en klastes, wat “breker” of “storm” beteken; word iconoclast gebruik om individue – ongekunstelde individualiste en groot denkers – te beskryf. Selfs die logo se inspirasie kom van Spatz, want hy is nooit sonder sy hoed en sy Jack Russell, Nelson, gesien nie.Nora, Victor se suster, het gesê: “Ons het ’n wyn vir Pappa gemaak. Dit eer wie hy is. Hy het geglo dat jy dinge eenvoudig moet hou. Die wyn is eenmalig en net 2 100 bottels wat elkeen met my pa se strikdassie om die nek spog, is te koop.”
Baie bekende wynmakers het hul tande op Delheim onder Spatz se wakende oog, geslyp. Daardie dae was daar baie min plase in privaat-besit en Spatz, Sydney Back van Backsberg en Frans Malan van Simonsig, was instrumenteel om wynlandgoed-wetgewing te verander. Spatz was saam met Frans Malan van Simonsig en Neil Joubert van Spier, die stigterslid van die Stellenbosch Wynroete.
Die bekende Norma Ratcliffe, voorheen van Warwick, het op haar beurt vertel dat drie plase in die sewentigs en tagtigs die wynbedryf domineer het deur wyn direk aan die publiek te verkoop; mense ontvang het vir kuiers in die proelokaal of kelder en sodoende wyntoerisme tot stand gebring het: Uitkyk, Delheim en Muratie. “Delheim is ’n broeikas vir goeie wynmakers: behalwe die wynmakers wat deel van die vieringe is vandag, was daar ook onder meer Joseph Kramer, Philip Costandius en Conrad Vlok. Kevin Arnold en Spatz was my mentors, al is Kevin baie jonger as ek, maar ek het laat in my lewe begin met wynmaak.”
Sy het vertel dat die een sêding haar haar hele wynmaak-loopbaan bygebly het: “Wat jy ookal doen, jy kan nie slegte wyn maak nie, want dit sal die vallei in ’n slegte lig stel.” Sy is nie seker of dit Kevin of Spatz se woorde was nie, maar dat dit van Delheim kom, is gewis. Sy het ook hulde gebring aan Spatz se vrou, Vera en haar die plaas se ruggraat genoem. Vera het meer vertel oor haar leeftyd saam met Spatz.
Spatz se onuitputbare energie is net geëwenaar deur sy lewensgroot-karakter en gevatte humorsin, wat hom die hart van elke partytjie gemaak het. Hy was ’n vrygewige en opregte vriend vir baie mense uit alle vlakke van die samelewing – omtrent soos die karakter wat in elke bottel van Delheim se nuwe Iconoclast huldigingswyn, ontsluit word.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.