Tien vrae aan Trix Vivier wat die rol van Flea in Trackers vertolk:
1. Is dit nie nadelig vir jou loopbaan om in Kaapstad te woon nie? Is al die werk nie in die Goudstad nie?
Ek doen baie meer oudisies vir internasionale TV- en filmprojekte in die Kaap en my blootstelling is groter. Ek werk steeds regoor die land, en was verlede jaar onder meer vir twee maande in Johannesburg vir 7de Laan, en vroeër vanjaar terug vir Trackers. Self opnamebande en die internet het die sogenaamde geografiese grense verskuif. Ek is ’n Suid-Afrikaanse aktrise en kan in enige stad werk, nie net die een waar ek bly nie. Ek het ’n agent in Johannesburg en een in die Kaap.
2. Sal jy na jou smakie van die Hollywood-lewe met die verfilming van Trackers, dalk oorsee gaan werk?
Dalk, wie weet?
3. TVSA sê jy is ’n aktrise, persoonlike afriger, choreograaf en danser. Is dit hoe jy jouself sien?
Nie meer nie! Ek is gekwalifiseer as persoonlke afrigter, joga-instrukteur en ja, ek kan sing, maar ek werk nou slegs as akteur vir die afgelope ses jaar. Ek het in 2015 heeltemal ophou dans.
4. Waarvan droom jy?
’n Wêreld waar mense meer empatie vir mekaar het. ’n Wêreld waar ons kan besef dat verandering slegs deur kommunikasie en aksie meegebring kan word, en nie deur ’n negatiewe ingesteldheid en Instagram-plasings nie. ’n Wêreld waarin mans gewilliglik deelneem aan die #aminext gesprek en ophou glo dat dit slegs ’n vrouekwessie is.
5. Watter een enkele gebeurtenis het die grootste invloed op jou lewe gehad?
Life is a sequence of defining moments. Ek kan nie een uitsonder nie. Maar die feit dat ek mense rondom my het wat werklik lief is vir my vir wie en wat ek is, het elke dag ’n uitwerking op my psige en die vrou wat ek vandag is. Ek is elke dag dankbaar daarvoor, en neem dit nooit vanselfsprekend nie.
6. Leef jy volgens ’n mantra?
’n Paar. Eerlikheid. Moeilike gesprekke. Vrae. Nuuskierigheid. Stiltyd. Joga.
Wees geduldig, luister en pas selfliefde toe (selfaanvaarding).
7. Na wie toe gaan jy met groot besluite?
Ek klim op my jogamat en word stil. Ook my man, my ouers, my susters, vriendinne en boeke. Tyd is ’n voordelige meganisme wanneer dit by groot besluite kom, ek jaag nooit ’n antwoord na nie, maar laat toe dat die antwoord my eerder vind.
8. Jy het in ’n onderhoud voorheen, vertel dat jy op stel bewus is as jy saam met bekendes speel soos Milan Murray en Rolanda Marais, byvoorbeeld. Hoe laat jy jou broek ophou bewe?
Ek verwag nie meer van myself om die ervaring en talent van aktrises te hê, wat al tien jaar langer as ek in die bedryf werk nie. Dis onrealisties. Ek kom eerder werk toe met die bereidwilligheid om te leer en met die wete dat ek my plek in die span verdien het, deur my oudisies en harde werk. Ek hou nie daarvan om net ’n rol te kry van niks nie, ek verkies eerder om te oudisie sodat ek weet hulle wil my graag hê – ek is gekies uit ’n 100 om die rol te speel. Dis reg en dis goed.
9. Kyk jy ooit weer na jou werk as dit uitgesaai word en leer jy daaruit, of is dit erg om jouself op skerm te sien?
Ek het aanvanklik nooit gekyk nie omdat dit my selfvertoue ingedoen het, maar nou geniet ek dit om my werk te kyk as ek tyd het. Ek het geleer dat jou werk en die kontrole wat jy daaroor het, eindig die dag as jy van stel af huis toe ry. Daarna word daar gesny, geredigeer, musiek bygevoeg en so meer. Daardie elemente kan ’n stuk werk se gevoel heeltemal verandertog het jy as akteur geen beheer oor wat in die post-produksiekamer gebeur nie.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.