Met ’n stygende werkloosheidsyfer is dit ’n voorreg om ’n salaris te verdien. Maar hoe gemaak as jy sielsongelukkig in jou werk is?
Deur: MARETHA BOTES
Oorweeg jy ’n loopbaanskuif?
Wanneer jy ongelukkig is in jou beroep, is dit heel dikwels ’n teken dat jy ’n loopbaanskuif moet maak. Dit is egter nie ewe maklik vir almal nie. Wat moet jy oorweeg wanneer jy besef jy is nie gelukkig nie en dit is tyd vir ‘n skuif? Heidi October, direkteur van Mind Practice Consult, sê wat jy moet oorweeg voordat jy die skuif maak:
- As jou ongelukkigheid met ‘n toksiese werksomgewing te make het – haal onmiddellik alle emosie uit jou argument. Evalueer jou denkproses en watter feite jy moontlik ignoreer. Bly professioneel met die uitvoer van jou pligte, behou jou integriteit en moenie kollegas met ander bespreek nie. Fokus op die feite wat jy met voorbeelde kan staaf. Volg jou maatskappy se grieweprosedure met die nodige dokumentasie. As jy dan jou ongelukkigheid met seniors bespreek het, en jy besef dat jou omgewing as gevolg van institusionele politiek nie gaan verander nie, moet jy aan jou oorgangstrategie/ “exit strategy” werk.
- Moenie die redes vir jou loopbaanskuif op sosiale media bespreek nie – dit bly onprofessioneel om jou werknemer te bespreek en sal nie ‘n goeie indruk op potensiële werknemers of vennote maak nie.
- Bespreek jou idees met ‘n professionele geakkrediteerde personeelontwikkelingskonsultant. Stel ‘n persoonlike aksieplan vir jouself op en fokus op ‘n tydsraamwerk en die ideale uitkomste wat jy wil bereik.
- Maak seker dat jou CV, verkorte CV, Linkedin-profiel, ensovoorts professioneel en op datum is. Maak van ‘n professionele CV skrywer gebruik as jy onseker is.
- Maak ‘n kortlys van vyf moontlike alternatiewe loopbane en maak afsprake met mense wat tans hierdie beroepe beklee. As jy ‘n spesifieke maatskappy in gedagte het, gesels met werknemers wat tans daar werk en skep vir jouself ‘n profiel op die maatskappy se menslike hulpbronskakel.
- As jy wil emigreer, maak eers seker van die aanvraag van jou beroep in jou gekose land. Dalk het jy internasionale akkreditasie binne jou vakgebied nodig. Beskik jou oor die nodige kapitaal?
- As jy beplan om jou eie onderneming te begin, woon eers ‘n paar netwerkgeleenthede in jou omgewing by en bou professionele kontakte op. Oorweeg watter kanale die regering in plek gestel het om klein besighede te ondersteun. Maak seker daar is ‘n aanvraag vir jou produk/diens. Evalueer jou finansiële volhoubaarheid met ‘n kritiese oog. Moenie al jou pensioengeld in ‘n nuwe onderneming belê nie – maak seker jou kapitaal word oordeelkundig aangewend.
LEES OOK: Help! My maat mors geld
“Dis normaal om skrikkerig te wees om ’n loopbaanverandering te maak en word aan verskeie emosies wat strek van opgewondenheid, verligting tot oorweldiging gekoppel, maar ’n mens moet koelkop bly en rasioneel oor die volgende paar vrae dink voordat jy ‘n skuif maak,” sê Heidi.
- Kan ek dit bekostig? Kan ek x-aantal maande, selfs jare, gemaklik lewe met my huidige neseier? Is ek bereid om my lewenstandaard aan te pas om my passie uit te leef?
- Wat is die emosies en simboliek wat ek aan my postitel, sekuriteit en finansiële welvaart koppel?
- Is ek gemaklik om myself en my professionele profiel krities te evalueer? Beskou mense my as ‘n kenner in my veld?
- Is ek bereid om verder te studeer en my vaardighede te verbeter?
- Kan ek gemaklik netwerk en my professionele kontakte uitbrei?
- Hoe hanteer ek terugslae? Kan ek maklik terugbons?
- Het ek ‘n ondersteuningsnetwerk van familie en vriende wat in my glo, maar terselfdertyd my aanspreeklik hou om my doelwitte te laat realiseer?
- En die belangrikste: Glo ek in myself?