Vir die liefde sal mense vreemde dinge doen.
Vir die liefde sal mense vreemde dinge doen. Die Grieke het ’n godin daarvoor geskep, mense hang baniere met liefdesboodskappe van brûe af, mans vra in vliegtuie die jawoord voor mense wat hulle van geen kant af ken nie en sommige superrykes sal selfs ’n bedrag, wat menige staatskas uit die rooi kan haal, betaal om iets soos ’n eilandjie vir die (soveelste) vrou in hul lewe aan te skaf as blyk van hul liefde.
Die sukses (maar veral die mislukking) van bekendes se liefdeslewe verkoop koerante en tydskrifte en klandestiene verhoudings, waarvan die media snuf in die neus kry, het menige hoë kokkedoor al duur te staan gekom. Dit is iets waaroor mense praat, skryf, skinder, wroeg en baklei.
As Aphrodite jou in haar greep kry, maak dit jou opgewonde en kan jy dit waag om jouself sonder vrees vir die ander bloot te stel. As jy een van die gelukkiges is, sal die liefdesvlam in goeie en moeilike tye bly brand en ná jare sal dié liggie steeds ’n gevoel van wedersydse geborgenheid gee.
Ek was onlangs op ’n troue waar die bruidegom in sy toespraak na ’n gesprek tussen hom en sy geliefde se ma verwys het. Toe hulle haar van hul voorgenome huwelik vertel, wou sy by hom weet wat dit is wat hom so baie van haar dogter laat hou dat hy sy lewe met haar wil deel. Uiteraard het die ma geen twyfel in haar dogter se kwaliteite nie, maar uit ervaring weet sy dit is belangrik dat die grondslag van ’n liefdesverhouding gesond moet wees. Sy wou hê die jongman moet nadink oor dit wat hom so bekoor, want dis daardie aanvanklike bekoring en bewondering wat ons moet koester en waaraan ons onsself gedurig moet herinner om die liefde lewendig te hou en mekaar onvoorwaardelik lief te hê.
Stilstuipe, vergelding, vernedering en klein jakkalsies is ’n paar dinge wat die liefde stelselmatig dood kan wurg, sê die kenners in dié week se artikel “Gesels met jou geliefde” en gee waardevolle wenke hoe om die vonk in jou verhouding te behou. Om lief te hê, beteken nie jy besit die ander nie. Dis nie joune om mee te maak net wat jy wil nie.
Wat my by iets uitbring waaroor ek nie kan stilbly nie. Wêreldwyd pleeg mans wreedhede teenoor vroue. Dit walg my en ek voel hulle moet vir die res van hul lewe met ’n bal en ketting aan hul voet iewers op ’n dorre eiland in ’n oseaan in Middeleeuse omstandighede gaan klippe kap.
Die onlangse bewerings in die media oor die grusame verkragting, marteling en skending van ’n vrou deur haar vervreemde man het my egter in besonder ontstel. Ek kan my haar angs en magteloosheid om haarself teen ’n monster te verdedig net voorstel, maar om jou kind in die vertrek langsaan vir sy lewe te hoor pleit voor hy na bewering koelbloedig doodgeskiet word, is ondenkbaar. En dan waag die man om sy oneindige liefde daarna aan haar
te verklaar!
Duidelik het die vrou rooi ligte sien flikker, soos ek in ’n bekende tydskrif lees, toe sy op hul troudag ’n paniekaanval gehad het. “Iets het vir my gesê ek moet pasop,” sê sy. Dis ’n rooi lig as ’n man sy vrou teen ’n muur vasdruk en met “’n Bybel in sy hand [sê] hy kan nie voor God staan en sê hy gaan skei nie”. As daar gevaartekens is, moet vroue die hasepad kies. Beter nog, moenie met sulke mans trou nie, want die monster in hulle kan te voorskyn kom en monstermans verdien om die res van hul lewe klippe te kap. Hulle kan nie die woord “liefde” spel nie, trouens, hulle verkrag dit.
Liefde is nie gewelddadig nie, dis nie afbrekend nie, dit maak nie dood nie, dit verwoes nie, dit beheer nie en dit besit nie. Dit moet mense veilig en geborge laat voel. Dit moet bekoor, koester en bewonder. Dis broos en kosbaar.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.