Willie Burger het al na die ‘storie’, ‘vertelling’ en ‘plot’ van ’n roman gekyk. Hierdie week fokus hy op struktuur
As ons kyk na “hoe romans werk” is die “storie” dit wat met die karakters gebeur en hoe hulle daarop reageer. Die vertelling is die manier waarop hierdie gebeurtenisse aangebied word – byvoorbeeld uit wie se oogpunt word vertel en in watter volgorde word die gebeurtenisse vertel. Die plot bepaal die doel waarop met die vertelling afgestuur word en die verbande tussen die gebeurtenisse wat beskryf word.
’n Mens kan byvoorbeeld gou reeds sê waaroor die storie in ’n roman gaan. Sonja Loots se Boeresirkus gaan oor die wedervarings van ’n klompie boerekrygers wat ná die Boereoorlog by ’n sirkus aansluit. ’n Mens kom ook spoedig agter dat die storie afwisselend uit verskillende karakters se oogpunt vertel word. ’n Mens kom eers later agter wat die plot is – waarom daar juis op hierdie manier vertel word, hoekom die vertelperspektiewe juis só afgewissel word, hoekom die vertelling juis op hierdie spesifieke manier gestruktureer word.
Die strukturering van die roman het te doen met keuses oor hoe om inligting aan die leser bekend te stel en hoe hierdie inligting gerangskik word. Die eerste voor die hand liggende manier waarop ’n roman gestruktureer is, is die manier waarop die roman in hoofstukke verdeel word. Soms word romanhoofstukke genommer en is die aantal hoofstukke betekenisvol.
In Salmon Rushdie se The satanic verses is daar drie storielyne wat vervleg word: eerstens is daar die storie van Saladin Chamcha en Gibreel Farishta wat in die laaste deel van die 20ste eeu in Londen en in Indië woon en werk. Tweedens is daar die vertelling wat met die oorsprong van die Koran te doen het (wat Rushdie die argwaan van talle Moslems op die hals gehaal het) en derdens is daar ’n vertelling oor ’n Indiese dorpie se inwoners wat onder die inspirerende leiding van ’n jongmeisie glo dat hulle droogvoets deur die see tot in Mekka sal kan loop.
Die drie vertellings word egter nie lukraak verweef nie, maar volg ’n vaste patroon. Die eerste storielyn is verreweg die langste en elke tweede gedeelte van die roman word daaraan gewy (hoofstukke 1, 3, 5, 7 en 9). Hierdie hoofstukke word deur die tweede (hoofstukke 2 en 6) en derde storielyn (hoofstukke 4 en 8) onderbreek wat oënskynlik niks met die eerste storielyn of met mekaar te doen het nie. Die storielyn van Chamcha en Farishta se lewens en die probleme wat hulle met hul individuele identiteit ondervind, beslaan dus verreweg die grootste deel van die roman. Die korter vertellings wat daartussen voorkom, veroorsaak egter dat hul identiteit nie sonder meer as ’n huidige sielkundige probleem beskou kan word nie, maar dat dit in ’n lang geskiedenis, in die bepalende invloed van hul agtergrond en kultuur, gewortel is.
John Miles se Kroniek uit die doofpot het ook ’n opvallende hoofstukindeling. Die hoofstukke is in die inhoudsopgawe reeds twee-twee saamgegroepeer en telkens is daar ook ’n datumaanduiding by elke hoofstuk. Die “ongelyke” hoofstukke is langer en bestryk volgens die datums ook ’n veel langer tydperk – die lewe van Tumelo John Moleko.
Die titels van die hoofstukke met die gelyke nommers is telkens in skuinsdruk weergegee om hulle van die hoofstukke te onderskei waarin TJ Moleko se lewensverhaal aangebied word. In hierdie veel korter hoofstukke skryf die “skrywer” oor hoe hy navorsing doen en die verhaal van Moleko probeer vertel. Waar die datums van die ongelyke hoofstukke dus byna 30 jaar omvat, beslaan die “skrywershoofstukke” tussenin maar ’n klompie maande. Die wit skrywer en die swart polisieman leef in afsonderlike wêrelde (weerspieël deur die afsonderlike hoofstukke). Die skrywer bekom ’n klomp lêers en inligting oor Moleko en probeer dan om ’n roman daaroor te skryf.
As ek ’n boek hiervan moet maak, dan is ek en hy saam daarin: die polisieman en die skrywer, die swarte en die witte, elk afgekamp in sy eie hougebied, maar saam tussen die kake van ’n opvreetmasjien waar net die blindes uitsig en vryheid van beweging het. Sy geskiedenis is my storie, sy verhaal my beheptheid.
Op hierdie manier word die roman nie alleen ’n ontmaskering van magsvergrype nie, maar stem ook tot nadenke oor die aanbied van ’n mens se lewe as ’n storie. Vk