Hekel ’n kleurryke sjaal om jou skouers warm te hou
Belangrik
Die sirkels pof op nadat dit aan mekaar vasgehekel is. Moenie hieroor bekommerd wees nie. Sodra die sjaal gedrapeer word, lê die sirkels mooi. Onthou om elke driehoekie eers te span voor dit aan mekaar vasgewerk word – so ook elke sirkel nadat die driehoekies vasgewerk is.
Benodigdhede
Nurturing Fibres Eco-Cotton DK (50 g-balle): 2 balle elk Bordeaux en Aqua en 1 bal elk Sunglow, Cornflower, Sunkissed Coral, Sweet Pea, Orchid en Ruby (verkrygbaar by uitgesoekte winkels asook by www.nurturingfibres. com)
3 mm-hekelpen
Naald met groot oog
Grootte
Ongeveer 150 cm x 44 cm
Afkortings en steekverduidelikings
beg = begin; dies = dieselfde; gs = glipsteek; h/af = heg af; herh = herhaal; kb = kortbeen; ks = kettingsteek; lb = langbeen; rdte = rondte; sp = spasies; st = steek; tr = trossie; vlg = volgende Trossie: 1. Slaan die draad oor die pen en steek dit in die volgende steek. 2. Moenie die steek voltooi nie sodat daar twee lusse op die pen is. 3. Hekel die volgende steek op dieselfde wyse sodat daar drie lusse op die pen is. 4. Slaan die draad oor die pen en trek dit deur al die lusse op die pen.
DRIEHOEKIE
(6 vir elke sirkel x 14 sirkels = 84) Gebruik kleure na willekeur en hekel driehoekies soos volg:
1ste rdte: met kleur 1; 4 ks, (2 lb-tr, 3 ks, 1 kb) in 1ste ks, (3 ks, 2 lb-tr, 3 ks, 1 kb) 2 keer in dies ks, [8 ks, (2 lb-tr, 3 ks, 1 kb) in 4de ks vanaf pen, (3 ks, 2 lb-tr, 3 ks, 1 kb) 2 keer in dies ks] 2 keer, 4 ks, gs aan agterkant van 1ste blommetjie. H/af.
2de rdte: met kleur 2; heg aan in tr van middelste blaartjie van blommetjie 1; 1 ks, (1 kb, 3 ks, 1 kb) in dies st, 5 ks, 1 kb in vlg tr van blommetjie 1, 3 ks, 1 kb in vlg tr van blommetjie 2, 5 ks, (1 kb, 3 ks, 1 kb) in vlg tr van blommetjie 2, 5 ks, 1 kb in vlg tr van blommetjie 2, 3 ks, 1 kb in vlg tr van blommetjie 3, 5 ks, (1 kb, 3 ks, 1 kb) in vlg tr van blommetjie 3, 5 ks, 1 kb in vlg tr van blommetjie 3, 3 ks, 1 kb in vlg tr van blommetjie 1, 5 ks, gs in beg-kb.
3de rdte: gs tot in 3 ks-sp, 6 ks, 1 lb in dies sp, 6 lb in vlg 5 ks-sp, 3 lb in vlg 3 ks-sp, 6 lb in vlg 5 ks-sp, [(1 lb, 3 ks, 1 lb) in vlg 3 ks-sp, 6 lb in vlg 5 ks-sp, 3 lb in vlg 3 ks-sp, 6 lb in vlg 5 ks-sp] 2 keer, gs in 3de van beg-6 ks. H/af.
4de rdte: met kleur 4, heg aan in 3 ks-sp; 3 ks, (2 lb, 3 ks, 3 lb) in dies sp (hoek vir middelpunt van sirkel), 1 kb in vlg 17 lb, [(2 kb, 3 ks, 2 kb) in vlg 3 ks-sp, 1 kb in vlg 17 lb] 2 keer, gs bo in beg-3 ks. H/af. Nadat die driehoekies gespan is, werk 6 aan mekaar vir sirkel met die langbeenhoek (groter hoek) van driehoek na die middelpunt van sirkel. Maak 14 sirkels. Hekel 1 ry kb met Aqua in elke steek asook 1 kb in elke naat reg rondom elke sirkel. Span sirkels.
VULMOTIEF
(hekel 6) Met kleure van jou keuse, hekel soos volg: Met kleur 1; hekel 4 ks, gs in 1ste ks om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks, 11 lb in ring, gs bo in beg-3 ks = 12 lb.
2de rdte: 1 ks, 2 kb in dies st en in elke lb tot einde, gs in beg-kb = 24 kb. H/af.
3de rdte: met kleur 2; 1 ks, (1 kb, 6 ks, 1 kb) in dies st, 6 ks, slaan 5 kb oor, [(1 kb, 6 ks, 1 kb) in vlg kb, 6 ks, slaan 5 kb oor] 3 keer, gs in beg-kb.
4de rdte: gs tot in 6 ks-ls; 3 ks, (2 lb, 3 ks, 3 lb) in dies sp, 6 lb in vlg 6 ks-ls, [(3 lb, 3 ks, 3 lb) in vlg 6 ks-ls, 6 lb in vlg 6 ks-ls] 3 keer, gs bo in beg-3 ks. H/af.
5de rdte: met kleur 3; heg aan in 3 ks-sp met 3 ks, (1 lb, 3 ks, 2 lb) in dies sp, 1 lb in vlg 12 lb, [(2 lb, 3 ks, 2 lb) in vlg 3 ks-sp, 1 lb in vlg 12 lb] 3 keer, gs bo in beg-3 ks. H/af.
Vaswerk van sirkels en vulmotiewe
Werk die sirkels volgens foto soos volg vas: Plaas 2 sirkels met ooreenstemmende naat met regte kante op mekaar en werk die middelste 15 ooreenstemmende steke vas. Gebruik oorhandstekies in agterlusse vir ’n netjiese naat. Werk nog 2 sirkels op dieselfde wyse vas. Plaas die een paar sirkels met regte kante bo-op die ander paar sirkels en werk vas met ooreenstemmende sye van driehoeke. Werk die vulmotief tussen die 4 sirkels vas. Volg dieselfde patroon vir res van die sjaal.
Afwerking
Met Aqua hekel 1 ry kb reg rondom die sjaal in elke steek, behalwe by elke inham tussen sirkels. Hekel kb tot voor laaste 3 steke voor inham (laaste 3 steke van sirkel), hekel 5 lb in st van inham, slaan weer 3 ste oor en gaan voort met kb in elke st van sirkel tot einde, gs in beg-kb. H/af.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.