Willie Burger beloof dat hierdie boek lank by jou gaan spook
Willie Burger
Die feit dat ek ‘n leser geword het, is grootliks te danke aan cowboyboekies. Iemand het my in graad 7 aanbeveel om Louis L’Amour se boeke te lees en in die volgende paar jaar het ek meer as 60 van sy boeke in tweedehandse boekwinkels uitgesnuffel en met my karige sakgeld aangeskaf.
Soos ek ouer geword en skrywers soos Steinbeck en Graham Greene ontdek het, het die resepmatigheid van die Westerns my begin verveel en my leessmaak het verander. Ek moet egter bely dat iets van die atmosfeer van al daardie Westerns my steeds bekoor. Dit is seker een van die redes waarom ek so baie van Cormack Mc- Carthy se romans hou en dit is waarskynlik daarom dat ek sommer van die eerste bladsy af al heeltemal deur Patrick DeWitt se The Sisters Brothers meegesleur is. The Sisters Brothers is DeWitt se tweede roman en het in 2011 die kortlys vir verskeie pryse (onder meer die Man Bookerprys) gehaal en is met minstens twee pryse bekroon.
DeWitt (gebore in 1975) is ‘n Kanadees wat deesdae in die VSA woon. Die roman speel af ten tyde van die Kaliforniese goudstormloop van 1848–1855. In 1849 alleen het sowat 300 000 hoopvolle prospekteerders hul fortuin daar gaan soek. Die broers, Eli en Charlie Sisters, is huurmoordenaars en hulle word deur die geheimsinnige “Commodore” gestuur om ene Hermann Kermit Warm in Kalifornië te gaan vermoor. Hulle doen dikwels hierdie soort werk vir die Commodore, wat hulle goed betaal, en hul reputasie strek ver.
Die feit dat hulle broers is, maak dit vir hulle moontlik om woordeloos in moeilike situasies te kommunikeer – iets wat hulle baie doeltreffende moordmasjiene maak. Willie Burger beloof dat hierdie boek lank by jou gaan spook Boonop bly Charlie altyd besonder kalm in gevaar en hy weet presies hoe om Eli se woedebuie (wat van hom ‘n monster maak) tot hul voordeel uit te buit. Die verhaal gaan oor hul lang reis te perd na Kalifornië. Onderweg ontmoet hulle talle vreemde mense, soos ‘n soort heks (wat tot skreeusnaakse gevolge lei), ‘n tandarts (wat vir Eli ‘n tandeborsel gee), ‘n huilende man (wat hulle ‘n paar keer weer op vreemde plekke raakloop), ‘n seun met ‘n kopvorm wat ‘n mens uitlok om hom te slaan, en ‘n skatryk boelie wat sy eie dorp ontwikkel het.
The Sisters Brothers is egter nie net ‘n Western vol bloed en derms nie. Geweld is daar wel, ja, maar uiteindelik is dit ‘n roman waarin oor familiebande, oor geld, oor mag, oor seks en mense se soeke na geluk as die dryfvere van bestaan besin word. ‘n Groot deel van die meesleurende en betowerende aard van die roman lê in die verteller. Eli, die jonger Sisters-broer, vertel van al hul wilde wedervaringe op pad om Warm te gaan vermoor. Die leser kry egter ook insae in Eli se gedagtes, en dít is in sy getob oor die aard van hul werk, die aard van gesinsbande, sy twyfel oor geld en rykdom se waarde, sy verlange om nie net seks te hê wanneer hy daarvoor betaal nie en sy droom om eerder in ‘n winkel te werk en mense te bedien as om hulle te vermoor wat die roman bo formule-Westerns uitlig.
Maar dit is ook in Eli se nadenke en die ironie wat die humor lê. Ten spyte van die talle moorde en skietgevegte, die stelery en die bloed en lyding van mense en diere (soos in alle Westerns is perde belangrik) is die humor nooit afwesig nie en ek het telkens hardop gelag. Die roman is byna soos Cormack McCarthy met ‘n sin vir humor. Langs die pad roof hulle ‘n fortuin, maar verloor weer alles en uiteindelik is hulle so beïndruk met Warm se onskuld en eerlikheid dat hulle hom nie vermoor nie, maar eerder probeer om saam met hom te werk.
Danksy Warm se tegnologie maak hulle nog ‘n fortuin in een nag, maar verloor weer alles. Op pad terug besef Eli: “It doesn’t matter what we do. Money comes and goes.” Uiteindelik keer die broers terug na hul ma (en ‘n Freudiaanse analise sal baie interessant wees – veral omdat ‘n mens agterkom dat Charlie hul pa doodgeskiet het) en besluit om die lewe van geweld af te lê. ‘n Kort resensie soos hierdie kan nie reg aan die roman laat geskied nie, maar dit is beslis die lees werd. En dit gaan by jou bly spook lank nadat jy dit gelees het.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.