Maryke en Clifford Roberts het die 22ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn bygewoon. Kyk wie hulle raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
Vroegoggend en laatmiddag kan feesgangers The Tourists meemaak. Die toneelstuk word as soort township-toer aangebied: gaste klim in ‘n bussie met ‘n toergids wat meer vertel oor die geskiedenis van die woonbuurt, Bongelethu. By ‘n monument in die woonbuurt gekom, wat drie jong kinders wat gedurende Apartheid deur die polisie doodgeskiet is, huldig, maak twee Hollandse “toeriste” wat die bus verpas het, hul verskyning. Die gehoor sit op plastiekkratte en kyk hoe die laatkommers die gids se bloed warm laat kook met hul stereotipiese aanmerkings oor kleur, ras en herkoms. Stof tot nadenke wat mens skaam laat oor jou eie wanopvattings.
Neels van Jaarsveld speel ‘n vaal, Jan Alleman, in Innierof. Hy vertolk verskeie rolle en jy herken jouself en jou vriende in soveel van hulle – daardie bleeksiele en grootpaters en oorlamse mans en alles wentel om die gholfbaan – daar “waar groot mans op hul knieë sit en bid om genade”. Maar dit vertel ook van mislukking en wanhoop en drome wat net nie wil waar word nie.
Die aangrypende toneelstuk, Pa, met Chris van Niekerk as pa wat al meer deurmekaar raak soos sy geheue hom in die steek laat, is meesterlik aangepak deur Hennie van Greunen as regisseur. Om die gehoor empatie te gee met hoe verwarrend dit is vir dié een wie stadig maar seker sy geheue verloor, word die dekor op die verhoog voortdurend verander en selfs die akteurs wissel. André is 65 en weier om uit sy huis te trek. Sy dogter, Anna, probeer die situasie na die beste van haar vermoë beheer, maar besef sy is eintlik magteloos teen die aanslag van die ouderdom.
The Tourists, is nie ‘n kulturele toer van die township nie, dis ‘n volwaardige toneelstuk wat jou stof tot nadenke gee.
Neels van Jaarsveld is in een toneel ‘n gholfballetjie in Innierof.
Roeline Daneel, Chris van Niekerk en Milan Murray in Pa.
SOURCES
Clifford Roberts