Willie Burger beveel hierdie week drie boeke aan wat bekommerde ouers gerus vir hul skoolgaande kinders kan aanskaf
So aan die begin van die jaar, met ons kinders wat nou weer teruggaan skool toe, is die meeste ouers maar oor hul kinders se skoolopleiding bekommerd. Ons hoor dikwels dat ons land se kinders nie so goed soos kinders in ander lande vaar nie. Baie van ons het ook nie juis te veel keuses as dit by skole kom waarheen ons ons kinders kan stuur nie.
Ouers van laerskoolkinders wat nog in November hul kinders gehelp het om te leer en die handboeke onder oë gehad het, sal dalk nog meer bekommerd wees. So dikwels is die handboeke vol aktiwiteite wat die kinders moet doen – geleenthede om kennis “self te ontdek” – dat die inligting wat hulle moet leer, maar baie yl is. Hierdie skamper inligting is dan boonop sonder samehang – sommer sulke brokkies losstaande inligting wat sonder ’n groter konteks of rede opgedis word.
Daar is egter hulp!
Drie boeke wat elke bekommerde ouer behoort aan te skaf, is Die storie van wetenskap, Die storie van uitvindings en Die storie van skilderkuns (Protea Boekhuis).
Ek wens Die storie van wetenskap was vir my kinders voorgeskryf. Dit begin met ’n verduideliking van wat wetenskap is. Daarna volg die hoofstukke ’n logiese, opbouende lyn, wat byna alles omvat wat kinders in die laerskool behoort te bemeester. Dit word op so ’n prettige manier aangebied, met skreeusnaakse prentjies en kommentaar in die kantlyne, dat dit nie soos “skoolwerk” voel nie.
Die eerste twee hoofstukke gaan oor die aarde en “ons plek in die ruimte” waarin verduidelik word dat die aarde rond is en hoe dit beweeg – om sy eie as en om die son en waar dit in die sterrestelsels inpas. Die invloed van beweging om die son en die maan op klimaat word alles gedek. Vir ons aandagafleibare kinders wemel elke bladsy van spotprentjies met relevante inligting oor goed soos die aanhangers van die idee dat die aarde plat is of hoe Aristoteles probeer bewys het die aarde is rond.
In die hoofstuk oor fisika word swaartekrag, elektrisiteit en lig op so ’n manier bespreek dat dit selfs die ouer wat wetenskap op “laer graad” deurgeskraap het ’n goeie kans bied om “in te haal”. Terselfdertyd word dit so prettig aangebied dat my elfjarige dadelik met die boek in sy kamer in verdwyn het. Ek moes die resensiekopie ná slapenstyd gaan steel. Dat hy dit werklik gelees het, het ons die vakansie agtergekom toe hy ons langs die pad telkens verras het met verduidelikings oor Newton se wette (hoekom ons heen en weer leun as ons om draaie gaan), die spoed van lig (toe die pad te lank raak) en waar hitte vandaan kom (iewers in die Karoo).
Gasse, atome en elemente word as ’n boeiende storie van ontdekkings aangebied en skielik neem my jongste aan gesprekke oor atoomenergie en radioaktiwiteit deel!
Ook die menslike liggaam word aangebied as ’n boeiende storie wat by die mummies in antieke Egipte gaan haal word, tot by die ontdekking en werking van medisyne. Fossiele en oerontdekkings word ook bespreek en selfs wiskunde word prettig en prakties gemaak – die probleme om tyd te meet, die belangrikheid van nul en talle ander interessante wiskundige beginsels word op só ’n manier aangebied dat ’n mens dit alles wíl weet en onthou.
Anna Claybourne en Adam Larkum, die skrywers, het ook saamgespan om Die storie van uitvindings te vertel. Dit is ’n prettige aanvulling tot Die storie van wetenskap en plaas die “hoe” van tegnologie in ’n konteks waarin die ontwikkeling en gevolge van elke tegnologiese deurbraak en uitvinding duidelik word.
Die storie van skilderkuns deur Abigail Wheatley word op dieselfde prettige manier as die ander twee aangebied. Daar is ook telkens klein prentjies in die kantlyne met pittige opmerkings. Die invloed van tegnologiese ontwikkelings op kunswerke en die veranderende denke wat telkens tot ander kunsuitdrukkings lei, word ’n boeiende verhaal. Dit is die ideale “kuns vir domkoppe”-inleiding tot kunsgeskiedenis: van die eerste rotstekeninge en die noue verbintenis van kuns met godsdiens en godsdientige rituele tot die moderne era. Talle bekende skilderye word bespreek en agterin is (soos in die boeke oor uitvindings en wetenskap) ’n nuttige tydlyn en ook ’n lys van terme.
Wat hierdie boeke nog sinvoller maak, is die webskakels wat gegee word vir diegene wat meer inligting verlang. Vk