Roodeberg vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar met die bekendstelling van 1949 – ’n beperkte uitgawe gedenk-versnit
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Dié ikoon se verjaardag is onlangs in die katedraalagtige Cathedra Cellar in die Paarl met ’n middagete gevier en van die wynmakers en bemarkers wat diep spore in die wyn se geskiedenis getrap het, was onder meer daar.
Die wyn se sewe dekades is slim op pilare uitgebeeld, sodat gaste al die mylpale in Roodeberg se geskiedenis kon lees. Carli Jordaan, handelsmerkbestuurder vir Roodeberg, het onder meer gesê: “Roodeberg is die geesteskind van Dr. Charles Niehaus, ’n gesiene Suid-Afrikaanse wyn-pionier, wat die eerste wyn van druiwe uit die 1946 oesjaar gemaak het. Dis aanvanklik as ’n uitbeelding van ’n egte Kaapse rooiwyn ontwikkel. Dr. Niehaus was die opvolger van Dr. Abraham Izak Perold, die KWV se hoofwynwetenskaplike en vader van Pinotage. Die naam Roodeberg verwys na die Rothenberg-wingerde buite Geisenheim in Duitsland, waar Dr. Niehaus wynkunde studeer het. Dié naam het by hom opgekom terwyl hy by sy lessenaar gesit en ’n asemrowende sonsondergang oor die Paarlberge betrag het.”
Sy het uitgewys dat verskeie staatmakers die geskiedkundige middagete bywoon, waaronder Prof. Charl Theron, wat saam met Dr. Charles Niehaus gewerk het; Johnn Krige van Kanonkop wat in die negentigerjare die KWV bemarkingsbestuurder was; Albert Eksteen, voormalige sekretaris van die maatskappy; Neil Ellis, ’n wyn-en-sake-adviseur vir KWV en Bennie Howard van Meerendal, een van die eerste wynplase wat druiwe vir Roodeberg produseer het.
Die Roodeberg 1949 bou voort op die Roodeberg-tradisie as ’n versnit met universele aantrekkingskrag en is die begin van ’n nuwe hoofstuk in die kleurvolle Roodeberg-storie. Die eerste 2017-oesjaar is geskep uit druiwe vanaf die Stellenbosse Grondves-plaas, een van die primêre plekke vir die ontwikkeling van moederplant-materiaal vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Roodeberg se ryk geskiedenis en internasionale aansien maak dat hierdie spesiale terroir ideaal is vir dié topgehalte rooiversnit wat tradisie en innovasie saamsnoer.
Die Roodeberg 1949 verwelkom die herlewing van opwindende Franse en Spaanse variëteite met Cabernet Sauvignon (38%), Tempranillo (29%), Carignan (20%) en Carménère (13%). “Roodeberg 1949 is ’n samewerkingsinisiatief wat met van die beste plantmateriaal kan spog en ons gesamentlike wingerdbou en wynmaak-vernuf uitleef,” het wynmaker Louwritz Louw, wat saam met die wingerboukundige, Marco Ventrella en die voormalige KWV keldermeester en gerekende wyn-opvoeder, Prof. Charl Theron, hierdie eksklusiewe gedenk-versnit geskep het.
“Die streng uitsoekproses vanaf die wingerd tot by die vat, is die kern van die Roodeberg 1949. Die verskillende komponente van die wyn word vir 18 maande in nuwe Franse eikehoutvate verouder. Slegs die beste vate word vir dié gedenkwyn versny en gebottel. Roodeberg 1949 bou voort op die tradisie van ’n kontemporêre versnit met ’n universele aantrekking; ‘n wyn wat dadelik geniet kan word, maar ook kompleks genoeg is om pragtig te verouder,“ het hy aan gaste vertel.
Roodeberg 1949 sal jaarliks in beperkte hoeveelhede gemaak word en die versnit mag van jaar tot jaar verskil. Die wyn is teen R249 per bottel by die KWV Emporium beskikbaar. Carli het vertel dat Roodeberg die afgelope 70 jaar ontwikkel het, van die meester se oorspronklike versnit tot ’n lekker toeganklike, kontemporêre wyn in pas met veranderende tye en voorkeure, maar steeds in tradisie gesetel. Die wyn se ryk erfenis en kleurvolle wyn-folklore tapisserie maak dit ’n legende.
Vir die eerste 55 jaar is Roodeberg eksklusief vir uitvoere gemaak, nadat Kanada in die vyftigerjare die weg gebaan het. Ten spyte daarvan dat Suid-Afrikaners Roodeberg tot 2004 net kon verkry deur ’n wynkennis met ’n KWV-kwota, het Roodeberg altyd ikoniese status in die harte van Suid-Afrikaners geniet. Daar word vertel dat ruilhandel met gesogte toets-kaartjies, biltong en dies meer, vir ’n bottel of twee, geen uitsondering was nie.