Lank leef spanning en misdaadverhale, sê Willie Burger
Op die strande, in die Kersversierde boekwinkelvensters, oral waar jy kon kyk, het ’n mens die afgelope vakansie misdaadverhale gesien. Ongetwyfeld het Deon Meyer ’n groot invloed op die oplewing van die speurverhaal onder Afrikaanse lesers gehad. In sy spore volg Chris Karsten se Abel-boeke en Karin Breynard se Plaasmoord met eg Suid-Afrikaanse misdaadsituasies. Ook in die Suid-Afrikaanse Engelse werk slaag iemand soos Mike Nicol met sy trilogie daarin om nie alleen boeiende misdaadverhale te skryf nie, maar boonop interesssante kommentaar op ons samelewing te lewer.
n Die uitgewery LAPA het raakgesien hoe graag lesers deur onopgeloste misdade in spanning gehou word en het pas ’n bundel kortverhale deur van die voorste misdaadskrywers saamgestel. Francois Bloemhof, self ’n skrywer van naelbytspanningsverhale, was die samesteller van Donker plekke. Genoemde skrywers, Deon Meyer, Karin Brynard en Mike Nicol het bydraes tot die bundel gelewer, maar daar is ook kortverhale van ander gevestigde skrywers soos onder andere Tom Dreyer, Jaco Jacobs, Emile Joubert, Chanette Paul, Leon van Nierop, Chris Barnard en Fanie Viljoen. Of hulle bekend is vir meer populêre werk of vir hul literêre werk, hierdie skrywers het almal een ding gemeen: hulle kan die leser aan die raai hou en dikwels sommer jou maag laat draai. Gewoonlik verkies ek die dikker speurroman, maar hierdie boeiende kortverhale is ideaal vir die leser wat net korter brokkies tyd het vir lees, noudat die jaar weer begin spoed optel.
n Die Sweed Stieg Larsson het met sy Millennium-trilogie, The girl with the dragon tattoo, The girl who played with fire en The girl who kicked the hornet’s nest ongekende sukses in die speurromangenre behaal. Die hoofkarakter in hierdie drieluik is ’n ondersoekende joernalis, Mikael Blomkvist. Hy word soms spottenderwys deur ander joernaliste “Kalle Blomkvist” genoem. Baie lesers sal dalk nie hierdie spottende benaming verstaan nie. Kalle Blomkvist is egter die hoofkarakter in ’n reeks van drie Sweedse jeugverhale deur die bekende Astrid Lindgren (van Pippie Langkous-faam). Kalle Blomkvist is ’n seun, wat saam met ’n paar van sy vriende talle avonture beleef en telkens tergende misdade oplos omdat hy die leidrade raaksien wat deur die polisie oor die hoof gesien word. As jy graag die Sweedse verwysings in die Millennium-boeke beter wil verstaan, kan jy nou die drie Blomkvist-jeugromans in Afrikaans lees. Baasspeurder Blomkvist, Baasspeurder Blomkvist in die knyp en Baasspeurder Blomkvist hier (Human & Rousseau) is die ideale manier om jonger lesers in die lekker van speurverhale in te lei. Een van die aspekte wat Larsson so gewild gemaak het, was die blootstelling aan die Sweedse wêreld en daarmee saam aan ’n ander manier van dink oor die speurverhaal, soveel anders as die resepagtige TV-misdaadreekse. Die Blomkvist-boeke sal om dieselfde rede ook jong lesers wat oorblootgestel is aan resepmatige Hardy Boys- of Nancy Drew-boeke, met ’n eksotiese wêreld boei.
n Die bekende dramaturg en kinder- en jeugboekskrywer Corlia Fourie lewer ook ’n bydrae tot die misdaadgenre met Die geheime kamer (LAPA). Sandra, ’n joernalis van Johannesburg, verdwyn spoorloos. Sy word deur haar raaiselagtige ontvoerder in ’n huis by die see aangehou. Die verhouding tussen Sandra en haar aanhouder, Gert, is ingewikkeld. Geleidelik raak ’n mens meegesleur en kry inligting oor waarom Gert doen wat hy doen en vrees daarom al meer vir Sandra se veiligheid.
n Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip ( Human & Rousseau) is een van die mees gesofistikeerde misdaadverhale (as ’n mens dit werklik so kan noem!). Dit sluit op ’n slim manier by die hele literêre tradisie aan van die pikareske roman, deur die “hoë literatuur”, Afrikaanse literêre figure, tot, op spottende wyse, by die ryk tradisie van die speurverhaal. In aansluiting by die speurverhaaltradisie word met ’n moord begin – sommer ’n dubbele moord tydens ’n motorkaping in Johannesburg. Met so ’n wegtrek verwag ’n mens nie humor nie. Ook nie enige simpatie met die moordenaar nie. En ’n vasberade speurder. Hierdie verwagtings word egter almal in Piekniek by Hangklip ondermyn. Die roman is deurdrenk van ’n besonderse sin vir humor. Die verteller laat ’n mens aan die verteller in Cervantes se Don Quixote dink. ’n Mens kry simpatie met al die karakters, lag jou dood vir die dialoog en verstom jou aan die verbeeldingryke en onverwagte onthullings. ’n Ongelooflike klomp mense en organisasies word in die mees onverwagte situasies byeengebring met taalgebruik en ’n vertelstem wat verstom. Nie wat die geharde speurverhaalleser sal verwag nie, maar wonderlike vermaak! Vk