Dis nie wat jy sê nie – dis hoe jy dit sê. En dít, dink ek, is waar die meeste groot gevegte begin
In die artikel “Haal die kopseer uit konflik” het Yolanda Wessels met kenners gepraat oor konflik tussen lewensmaats en dié mense gee op bl 26 raad oor hoe mens dit kan hanteer.Jy kan maak wat jy wil, as jy saam met iemand leef, gaan daar dinge wees waaroor julle nie saamstem nie.
Verskillende menings, persoonlikhede, agtergronde en waardestelsels kan tot konflik lei en dit is nie tot ’n liefdesverhouding beperk nie. Om minstens agt uur per dag saam met ’n verskeidenheid mense te werk, is eweneens ’n verhouding waarin humeure kan opvlam, ’n gebrek aan kommunikasie tot misverstande kan lei en die hare soms kan waai. Ek kan met ’n rein gewete sê in die Vrouekeur-kantoor baklei ons nie. Hoewel ons uiteenlopende persoonlikhede is wat saam met mekaar werk, is ons werksomgewing een van harmonie, begrip, ondersteuning, samewerking, bystand en vriendskap.
’n Gelaaide en gespanne atmosfeer is nie deel van ons dag nie en ons kom regtig almal met mekaar oor die weg. Ons hou van mekaar. Hoe gebeur dit? Ten spyte van ons verskillende geaardhede het ons een gemene deler. Ons het almal ’n sin vir humor. ’n Sin vir humor, dink ek, is ’n eienskap wat menige moeilike situasie kan ontlont. Jy kan mos nie kwaad wees as jy lag nie. Andrew Carnegie – nie te verwar met Dale Carnegie nie – het op sy dag gesê: “There is little success where there is little laughter.” Maar selfs met die beste humorsin kan mense steeds de joos in raak vir mekaar. Dis tog nie moontlik vir verskillende mense om oor alles 100% saam te stem nie.
Ek het lank gelede die volgende raakgelees: 10% van konflik is te wyte aan ’n verskil van mening en 90% is te wyte aan die manier waarop iets gesê word Met ander woorde: Dis nie wat jy sê nie – dis hoe jy dit sê. En dít, dink ek, is waar die meeste groot gevegte begin. Dis dan wanneer beredenering en emosionele volwassenheid soos mis voor die môreson kan verdwyn en albei partye met knee jerkreaksies vorendag kom. Dan word ou koeie uit die sloot gegrawe en kort voor lank is dit ’n lelike geveg.
Die doel daarvan om konflik in ’n verhouding op te los, gaan nie oor wie “wen” of wie “verloor” nie. Dit gaan daaroor om die ander te probeer begryp en nie daarop ingestel te wees om “reg” te wees nie. Dis moeilik om regtig te weet wie watter stellings gemaak het en aanhalings word soms toegedig aan mense wat dit nooit gesê het nie. Hoe dit ook al sy, twee wyshede wat ek oor konflik raakgelees het, deur oënskynlik Max Lucado en Mahatma Gandhi onderskeidelik, is die moeite werd om in gedagte te hou in enige verhouding.
Conflict is inevitable, but combat is optional
Peace is not the absence of conflict but the ability to cope with it
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.