The Mentors Carménère 2017 is die eerste van sy soort en ’n waardige toevoeging tot die reeks
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Wynliefhebbers is onlangs na die bekroonde Salsify at the Roundhouse in Kaapstad na die bekendstelling van die elite KWV-wynreeks, The Mentors, se The Mentors Carménère 2017 genooi. Dis ’n eenmalige, beperkte oplaag van minder as 1 000 liters, agtereenvolgende genommerde bottels. By die geleentheid is daar ook glasies geklink op wynmaker, Izele van Blerk, wat vanjaar ’n dekade by die maatskappy vier.
Sy het vertel die Carménère 2017 sluit aan by ’n raar groep wat as een van Suid-Afrika se mees bekroonde reekse gereken word. Terselftertyd is die bekendstelling die voorloper tot ’n opwindende reeks uitstekende-, raar- en beperkte-oplaag vrystelling van The Mentors-wyne.
“The Mentors Carménère 2017 is die eerste van sy soort en ’n waardige toevoeging tot die reeks en ’n goeie weerspieëling van The Mentors se reputasie van uitmuntendheid,” sê Izele “Dit het drie jaar se leer en eksperimenteer gekos voor die enkel-variëteit Carménère aan al die reeks se streng standaarde voldoen het.
Carménère is bekend as ’n moeilike druif om mee te boer, maar floreer sodra dit met vaardigheid en insig hanteer word. Dit het ’n waardige uitdaging aan The Mentors-span gestel.
Daar is aanvanklik geglo dié Bordeaux-kultivar is feitlik heeltemal uitgewis nadat phylloxera tot sy vernietiging gelei het. Toe is daar in die 1990’s ontdek dat bykans die helfte van die Merlot wat in Chili geplant is, eintlik Carménère was. In Suid-Afrika is daar slegs 8.56ha Carménère en KWV het toegang tot 1.15ha.
Izelle het gesê sy hou van nis-variëteite soos hierdie en die definisies in die woordeboek van nis is nie heeltemal geskik vir dit wat sy met hierdie raar reekse beplan nie. “Nis is vir my iets nuuts en opwindend en dis presies wat KWV The Mentors is. Dis altyd anders; maar vol passie.”
“Streng keuring verseker dat net die beste druiwe dit tot in The Mentors-kelder maak – ’n kelder binne ’n kelder wat ontwerp is vir die maak-; eksperimentering- en innovasie van uitstekende wyne,” het Tanya Blokdyk, bemarkingsbestuurder, gesê.
Izelle het bygevoeg dat die Mentors-reeks nie daargestel is om medaljes te wen nie, maar eerder om spogwyne te skep, terwyl die hele span hul kreatiwiteit en ondervinding in werking kan sit. “Hierdie reeks is voorwaar die resultaat van uitstaande spanwerk,” het sy verklaar. Sy het ook genoem dat die Mentors-reeks ’n sterk fokus op vrugsuiwerheid het.
The Carménère-druiwe kom uit ’n lae opbrengs Stellenbosch-wingerd, wat oor die jare bewys het dat dit kwaliteit wyne lewer. Dis teen optimale rypheid geoes en toe per hand sorteer. Ná die wynmaakproses wat ’n jaar geduur het, is die beste wyn weer gekeur om vir ’n verdere ses maande te verouder. Verdere oorpomping met 18 maande veroudering in nuwe Franse eikehoutvate, het daarna gevolg.
Die wynmaakspan glo dat sover dit die wyn se verouderingspotensiaal aangaan, dit beslis onmiddellik geniet kan word, maar dat geduld beloon sal word as dit teen die optimale berging-omstandighede vir vyf tot agt jaar kan verouder. Die nuwe beperkte oplaag Carménère 2017 spog met dieselfde nuwe- en opgeknapte voorkoms as The Mentors-reeks, wat ook sy debuut in Julie 2019 maak. Die verpakking is ontwerp om die herkoms en status van die inhoud weer te gee en is ’n sterk standpunt, wat perfek by The Mentors se uitmuntende bloedlyn inpas.
Die uitvoerende sjef, Ryan Cole, het al die peuselhappies en verskeie gange van die middagete, met wyne uit The Mentors-reeks gepasmaat. Gaste kon met hul aankoms smul aan soetpatat-skyfies, Gruberg kaaspoffertjies en klein vishappies, wat saam met vonkelwyn bedien is. Na die verwelkoming is ’n wynproe aangebied om die verouderingspotensiaal van die reeks se witwyne te toon.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.