Hekel ’n mooi Marokkaanse voetkussing! Die herhaling van die seshoekmotief skep die illusie van teëls
Deur KAREN ADENDORF
Benodigdhede
- Vinnis Colours Nikkim DK (50 g-balle): 2 balle Pacific Blue en 1 bal elk White en Kingfisher
- 3 mm-hekelpen
- 1,5 m stewige katoenmateriaal
- 1 m voeringmateriaal
- 45 cm-ritssluiter stopsel
- 1,5 m wit pomponkoord
- 3 m wit koord
- algemene naaldwerkbenodigdhede
Grootte
Deursnee = 45 cm, hoogte = 14 cm
Afkortings en steekverduidelikings
beg = begin, dies = dieselfde, dr = draai, driesl = drieslagsteek, dsl = dubbelslagsteek, gp = groep, gs = glipsteek, h/af = heg af, herh = herhaal, hlb = halflangbeen, kb = kortbeen, ks = kettingsteek, lb = langbeen, ls = lus, rdte = rondte, RK = regte kant, sp = spasie, st = steek, tes = tesame, tr = trossie, vlg = volgende
Spykersteek
- Steek die pen regdeur die hekelwerk op die plek wat deur die patroon aangedui word.
- Slaan die draad oor die pen en trek die lang lus na die voorkant toe deur.
- Voltooi die steek soos gewoonlik. Moenie die hekeldraad te styf trek sodat die hekelwerk ineengetrek word nie.
Dubbelslagsteek
- Slaan die draad twee maal oor die pen.
- Steek die pen in die volgende steek.
- Slaan die draad oor die pen en trek die pen deur die eerste lus sodat daar vier lusse op die pen is.
- Slaan die draad oor die pen en trek dit deur twee lusse. Herhaal.
- Slaan die draad oor die pen en trek dit deur die laaste twee lusse op die pen.
Trossie
- Slaan die draad oor die pen en steek dit in die volgende steek.
- Moenie die steek voltooi nie sodat daar twee lusse op die pen is.
- Hekel die volgende steek/steke (aantal langbene volgens die patroon) dieselfde.
- Slaan die draad oor die pen en trek dit deur al die lusse op die pen.
Drieslagsteek
- Slaan die draad drie maal oor die pen.
- Steek die pen in die volgende steek.
- Slaan die draad oor die pen en trek die pen deur die eerste lus sodat daar vyf lusse op die pen is.
- Slaan die draad oor die pen en trek dit deur twee lusse.
- Slaan die draad oor die pen en trek dit deur die volgende twee lusse. Herhaal.
- Slaan die draad oor die pen en trek dit deur die laaste twee lusse op die pen.
Patroon
Seshoeke (hekel 6)
Met Pacific Blue, hekel 4 ks, gs in 1ste ks om ring te vorm.
1ste rdte: 1 ks, 6 kb in ring, gs in 1ste kb.
2de rdte: 1 ks, 2 kb in elke kb, gs in 1ste kb = 12 kb. H/af.
3de rdte: met White; 1 ks, 1 kb in dies st, 2 kb in vlg kb, *1 kb in vlg kb, 2 kb in vlg kb; herh van * tot einde, gs in 1ste kb = 18 kb. H/af.
4de rdte: met Kingfisher; 3 ks, 1 lb in dies st, 2 lb in vlg kb, 1 ks, slaan 1 kb oor, *2 lb in vlg 2 kb, 1 ks, slaan 1 kb oor; herh van * tot einde, gs bo in beg-3 ks. H/af.
5de rdte: met White; heg aan in 1ste lb, 1 ks, 1 kb in dies st, 1 kb in vlg 3 ks, 1 spykerst in kb wat in vorige rdte oorgeslaan is, *1 kb in vlg 4 lb, 1 spykerst in vlg kb wat in vorige rdte oorgeslaan is; herh van * tot einde, gs in beg-kb.
6de rdte: 1 ks, 1 kb in dies st, 3 ks, slaan 2 kb oor, 1 kb in vlg kb, (1 kb, 3 ks, 1 kb) in vlg spykerst, *1 kb in vlg kb, 3 ks, slaan 2 kb oor, 1 kb in vlg kb, (1 kb, 3 ks, 1 kb) in vlg spykerst; herh van * tot einde, gs in begkb. H/af.
7de rdte: met Kingfisher; heg aan in 3 ks-sp wat in spykerst gemaak is, 1 ks, (1 kb, 2 lb, 1 kb) in dies 3 ks-sp, slaan 2 kb oor, 2 lb in vlg 2 kb van rdte 5 agter 3 ks-ls van rdte 6, *(1 kb, 2 lb, 1 kb) in vlg 3 ks-sp, slaan 2 kb oor, 2 lb in vlg 2 kb van rdte 5 agter 3 ks-ls van rdte 6; herh van * tot einde, gs in beg-kb. H/af.
8ste rdte: met Pacific Blue, 1 ks, 1 kb dies st, 1 kb in vlg 3 ste, slaan 1 lb oor, 2 lb-tr in vlg lb, 3 ks, 2 lb-tr in vlg lb, slaan 1 lb oor, * 1 kb in vlg 4 ste, slaan 1 lb oor, 2 lb-tr in vlg lb, 3 ks, 2 lb-tr in vlg lb, slaan 1 lb oor; herh van * tot einde, gs in beg-kb.
9de rdte: met White; heg aan in 3 ks-sp, 1 ks, (1 kb, 1 hlb, 1 lb, 3 ks, 1 lb, 1 hlb, 1 kb) in dies sp, 6 ks, *(1 kb, 1 hlb, 1 lb, 3 ks, 1 lb, 1 hlb, 1 kb) in vlg 3 ks-sp, 6 ks; herh van * tot einde, gs in beg-kb.
10de rdte: met Kingfisher; heg in 1ste kb van rdte 8 en werk bo-oor die 6 ks-ls van rdte 9, 1 ks, 1 kb in dies st, 2 lb in vlg 2 kb, 1 kb in vlg kb, 5 ks (hierdie lus moet na agter geskuif word sodat die wit sterpunt voor die lus lê), *1 kb in vlg kb (van rdte 8), 2 lb in vlg 2 kb (van rdte 8), 1 kb in vlg kb (van rdte 8), 5 ks (hierdie lus moet na agter geskuif word sodat die wit sterpunt voor die lus lê); herh van * tot einde, gs in beg-kb. H/af.
11de rdte: met White; 1 ks, 1 kb in dies st, 1 kb in vlg 5 ste, slaan vlg kb oor (van wit sterpunt), 1 kb in vlg hlb, 1 kb in vlg lb, 3 kb in vlg 3 ks-sp, 1 kb in vlg lb, 1 kb in vlg hlb, slaan 1 kb oor, *1 kb in vlg 6 ste, slaan vlg kb oor (van wit sterpunt), 1 kb in vlg hlb, 1 kb in vlg lb, 3 kb in vlg 3 ks-sp, 1 kb in vlg lb, 1 kb in vlg hlb, slaan 1 kb oor; herh van * tot einde, gs in beg-kb. H/af.
12de rdte: met Pacific Blue; heg aan in middelste van 3 kb op sterpunt met 1 ks, *(1 kb, 2 ks, 1 kb) in dies kb, 1 kb in vlg kb, 1 hlb in vlg kb, 1 lb in vlg 2 kb, 1 hlb in vlg kb, 1 kb in vlg 2 kb, 1 hlb in vlg kb, 1 lb in vlg 2 kb, 1 hlb in vlg kb, 1 kb in vlg kb; herh van * tot einde, gs in beg-kb.
13de rdte: 3 ks, 1 lb in elke kb en (1 lb, 1 ks, 1 lb) in elke 2 ks-sp tot einde, gs bo in beg-3 ks. H/af.
Middelste seshoek
Volg dieselfde seshoekpatroon, maar hekel al die rdtes in Pacific Blue, behalwe rdtes 3, 5 en 6 wat in White gedoen word.
Hoekvulpatroon (hekel 6)
Met Pacific Blue, hekel 31 ks, 1 kb in 2de ks vanaf pen, 1 kb in vlg 3 ks, 1 hlb in vlg ks, 1 lb in vlg 3 ks, 1 dsl in vlg 3 ks, 1 driesl in vlg 4 ks, 2 ks, 1 driesl in vlg 4 ks, 1 dsl in vlg 3 ks, 1 lb in vlg 3 ks, 1 hlb in vlg ks, 1 kb in vlg 4 ks, dr.
Vlg ry: gs in vlg 13ste, 1 kb in vlg driesl, 1 lb in vlg driesl, (1 lb, 1 ks, 1 lb) in vlg 2 ks-sp, 1 lb in vlg driesl, 1 kb in vlg driesl, gs in elke st tot einde. H/af.
Aanmekaarhekel van blokke
Plaas die blokke met verkeerde kante op mekaar en hekel kortbene met White deur twee ooreenstemmende lusse. Hekel 2 rye kb in White reg rondom.
Maak van buitekussing
Knip ’n sirkel van 47 cm in deursnee uit die katoenmateriaal. Knip 2 halwe sirkels uit maar reken 2 cmnaattoelating by elke reguit sy vir ritssluiter. Knip ’n strook van 147 cm x 17 cm. Kap die twee nate van die halfsirkels om. Plaas die twee halfsirkels met regte kante op mekaar en stik 3,5 cm vanaf elke kant van die reguit sy toe. Ryg die middelgedeelte met lang steke toe. Pars die naat oop. Plaas die regte kant van die ritssluiter op die verkeerde kant van die naat, steek vas en stik aan die regte kant aan weerskante van die ritssluiter vas. Trek die rygdraad uit. Steek hekelwerk op die regte kant van die sirkel vas en werk rondom vas. Werk die pomponkoord aan die regte kant rondom vas. (Die pom-pons moet na die binnekant toe lê.) Verdeel die twee sirkels in vier gelyke dele en merk die vier plekke.
Werk die breedtenaat van die lang strook toe en verdeel die strook bo en onder ook in vier gelyke dele en merk die vier plekke. Plaas die strook en sirkel met regte kante opmekaar sodat die merke ooreenstem. Steek rondom vas en stik aanmekaar. Doen dieselfde met die onderste sirkel waarin die ritssluiter is. Laat die ritssluiter ’n entjie oop. Kap die nate om en dop die kussing om.
Maak van die binnekussing
Knip twee sirkels met deursnee van 47 cm elk en ’n strook van 147 cm x 17 cm uit die voeringmateriaal. Stik die breedtenaatjie van die strook toe. Merk die sirkels in vier gelyke dele asook die strook bo en onder. Plaas die merkies op mekaar, steek verder vas en stik vas aan bokant sowel as onderkant. Laat ’n opening vir stopsel. Dop om en stop die kussing met die stopsel en werk die opening toe. Plaas die binnekussing in die buitekussing.
Werk die koord aan die bokant en onderkant van die kussing met klein stekies vas.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.