Ons leef in ’n era van “wat is daarin vir my?”. Dit gee my die piep
Dit pas in die neoliberalistiese kultuur waar die sogenaamde bottom line die nuwe evangelie geword het.Profyt is die belangrikste oogmerk vir maatskappye en in die proses word werknemers se welstand dikwels ingeboet. Hier sluit ek mense soos sir Richard Branson uit wat sedert sy klein begin jare gelede nooit uit die oog verloor het dat mense menslik behandel moet word nie. Ek stem saam met sy ingesteldheid: Train people well enough so they can leave, treat them well enough so they don’t want to
Die beheptheid met profyt word so deel van mens se lewe dat jy maklik perspektief en in die proses ook jou medemenslikheid kan verloor. Dis hoekom vrae soos “wat is daarin vir my?” deel van sommige mense se verwysingsraamwerk is. As daar nie wins in iets is nie, is dit nie die moeite werd nie. Dis tog onmenslik. In maatskappye en persoonlike verhoudings. “My tyd” wil ek dus nie in die konteks van persoonlike profyt sien nie, maar eerder soos die skrywer, LR Knost: Taking care of yourself doesn’t mean me first, it means me too
Hoe vasgevang is jy in die profytstrik? Werk jy jouself kapot vir ’n maatskappy wat bloed uit ’n klip probeer tap? Ek predik gewis nie dat mense hul werksplek moet uitbuit nie. Trouens, ek dink die uitbuiting van werksplekke deur werknemers en die uitputting van belastingbetalers se geld hier ter plaatse is ’n voorbeeld van opperste uitbuiting. Ek praat van die neiging van mense om te dink hoe later jy werk en hoe meer jy oor naweke werk, hoe ’n beter werknemer is jy. Boonop het die bottom line so belangrik geword dat mense eerder afgelê word en dié wat agterbly, moet net nog meer werk doen.
Tensy jy vir jouself werk (want dan werk jy sonder ophou), is geen werk dit werd om jou welstand daarvoor in te boet nie. Dis hoekom dit so belangrik is om vir jouself ook tyd te maak. Tensy jy leef om te werk en nie werk om te leef nie. Dieselfde geld in ’n gesinsopset. Die oomblik as ’n mens as vanselfsprekend aanvaar word, is dit tyd vir ’n bestekopname. Iets wat ek onlangs raakgelees het, som my punt op: Don’t shrink for people Dink daaroor … as jy jouself nie voed nie, gaan jy so klein krimp dat jy wegkwyn en vir niks en niemand meer iets kan beteken nie – vir jouself die minste van almal. En dan is daar nêrens vir iemand profyt nie, want jy is emosioneel bankrot.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.