Die mensdom reik na kitsoplossings in die soektog vir geluk. JB Roux kry raad in ons 1 April-uitgawe. Hier is nog inligting daaroor
Het ons so behep geraak met materiële dinge en so verstrik geraak in ’n gejaag na geld en luukshede dat ons “vergeet” het hoe om gelukkig te wees? Probeer ons kitsoplossings vind wanneer ons wel na geluk soek? Dalk is dit hoekom selfhelpboeke so goed verkoop. Mense glo dat om ’n boek te lees, hulle vervuld en tevrede sal maak …
Volgens Pieter van Jaarsveld, skrywer van Dink jouself gelukkig, word geluk tot ’n groot mate bepaal deur hoe jy dink. Die krag van ’n mens se gedagtes moet nooit onderskat word nie.
“Interessante navorsing is in 1979 gedoen oor hoe die verandering in jou gedagtewêreld tot wonderlike veranderinge in jou lewe kan lei. Wetenskaplikes van die Harvard-universiteit het ’n aantal mans ouer as 70 na ‘n vakansieoord geneem. Hul opdrag was om op te tree asof hulle in die jaar 1959 leef: Hulle moes gesels oor die werk wat hulle toe gedoen het, die president van daardie tyd en so meer. Die musiek wat gespeel is, was die musiek van daardie tyd; tydskrifte was ook van daardie tydvak en hulle moes foto’s bring van voor 1959. Die proefneming het dae vyf lank geduur.
“Voordat die projek begin is, is hulle blootgestel aan fisiologiese toetse soos hul lengte, die lengte van hul vingers, geheue en sig. Ná die vyf dae het hulle gevind dat die ‘proefkonyne’ fisiek langer geword en hul vingers gegroei het; hul sig en geheue het verbeter. Die meeste van die ‘proefkonyne’ het begin optree asof hulle verskeie jare jonger was as wat hulle is! Sommige het fisiologies en kognitief gereageer asof hulle 25 jaar jonger was. Daar is baie navorsing wat bewys dat as jy jou gedagtes verander, verander jou lewe.
“Neurowetenskaplikes het gevind dat die aanleer van ‘n nuwe taal alzheimersiekte kan voorkom of vertraag. Jy hoef nie eens die taal goed te bemeester nie. As jy jou gereeld met kognitiewe aktiwiteite besig hou, is jou kanse 47% minder om alzheimersiekte te kry as mense wat nie hul brein kognitief stimuleer nie. Dit hoef nie die aanleer van ‘n taal te wees nie, maar enigiets wat jou brein stimuleer. Leer dans, doen blokkiesraaisels of sudoku of wat ook al, kry net iets om jou brein mee besig te hou.
“As jy elke dag vir jouself sou sê: ‘Ek is gelukkig en net goeie goed gaan vandag met my gebeur,’ bedraad jy daardie gelukkige breinselle in jou brein. As jy negatief is, skei jou liggaam negatiewe hormone af. Die teenoorgestelde is ook waar: As jy jou brein met positiewe gedagtes bedraad, skei jou liggaam positiewe hormone af. Een van die belangrikste is DHEA wat die anti-oudwordhormoon is. Mense wat positief is, lyk sommer ook jonger. Die ander voordeel van DHEA is dat dit die streshormoon, kortisol, onderdruk. En is dit nie nodig in vandag se tye nie?”