Diereliefhebbers raak hewig ontsteld oor die skiet van vuurwerke en met rede, want dit maak troeteldiere bang.
Diereliefhebbers raak hewig ontsteld oor die skiet van vuurwerke en met rede, want dit maak troeteldiere bang. Maar daar is iets wat my ook bangmaak: onverantwoordelike troeteldiereienaars.
As ek ’n hond moes wees, sou ek die graagste by ’n Duitse gesin in die hartjie van Duitsland ’n tuiste wou gevind het. Hulle weet hoe om na ’n hond om te sien. Daar bestaan nie iets soos rondloper- of verwaarloosde honde nie en nooi jy ’n eienaar vir aandete, kan jy weet hulle gaan voor die afspraak eers hul hond vir sy of haar daaglikse wandeling neem. Niks sal hulle van dié takie laat afsien nie – nie ’n moeilike dag by die werk nie, nie sneeu nie en beslis nie ’n vol program nie. Om met hul honde te gaan loop, is déél van hul program. In al die jare wat ek daar gewoon het, het ek nooit ’n hond hoor kef nie. Honde in Duitsland kry genoeg aandag, liefde en versorging en is net so gedissiplineerd soos hul eienaars.
Het jy al op ’n Duitse Autobahn gery? Motoriste se inagneming vir mekaar is indrukwekkend. In Duitsland is die vinnige baan vir vinnige bestuurders, padreëls word nagekom en jou motor is padwaardig. Die individu se sin vir verantwoordelikheid dra tot die kollektiewe ordelikheid van die samelewing by. Die welvaart van dié land het nie met geluk te doen nie – dis harde werk, verantwoordelikheid en selfdissipline wat deel daarvan uitmaak.
As daar ’n plek is waar ek twee keer sou dink om wel ’n hond te wees, is dit in Griekeland. In die jare wat ek daar gewoon het, het ek gou agtergekom hoekom daar soveel rondloperhonde is. Te veel Grieke besef nie dat ’n wollerige babahondjie grootword en aandag verg nie. Wanneer dié besef deurdring, word die verantwoordelikheid eenvoudig ontduik en word die arme dier straat toe gestuur.
Het jy al gesien hoe lyk die verkeer in Athene? Elkeen maak nes hy of sy wil en padreëls word soos menige ander reël in dié land gebuig. Die finansiële verknorsing waarin die land homself bevind het nie nét met die hele euro-ding te doen nie.
Net voor jy dink ek hou nie van die Grieke nie, laat ek kategories sê: Ek het baie goeie jare daar deurgebring en het van die wonderlikste mense as vriende gehad. Maar soos ’n goeie vriend van my nou die aand sê: Daar is ’n verskil tussen om ’n mening oor iets gee en om kritiek te mag lewer. ’n Mening het ons almal en gee ons graag, maar kritiek durf jy net lewer as jy kennis van die onderwerp het. Vanuit daardie perspektief neem ek dus die vryheid om verdere kritiek te lewer oor ’n onderwerp wat my behoorlik die harnas injaag.
Ek ken die Duitsers, ek ken die Grieke, maar ek ken ook Suid-Afrikaners. En daar is te veel van ons landgenote wat ook nie die vaagste benul het wat dit beteken om na ’n troeteldier om te sien nie. Laat ek weereens kategories sê: Ek sluit onskuldiges van my kritiek uit, maar ek sluit beslis die meerderheid mense in die buurt waar ek woon in.
Kenners sal jou vertel dat honde wat sonder rede en aanhoudend blaf aan kennel cough ly. Dit gebeur omdat hulle vasgekeer voel en nie daagliks oefening kry nie. Om ’n hond kos te gee en bloot as afskrikmiddel vir rampokkers aan te hou, beteken nie jy is ’n goeie eienaar nie, veral nie as jy vir ’n naweek weggaan en die honde op hul eie los om die bure waansinnig te maak met hul konstante gekef nie – en dit van soggens vieruur af! As jy jou buurvrou einde ten laaste bel om beswaar aan te teken, bevestig haar vraag: “Wat wil jy hê moet ek doen?” dat jy ook nie háár hond sou wou wees nie. Hoor sy nie haar eie honde nie?
Dis sulke tye wat ek met die swart humor in die Britse rolprent Keeping Mum kan identifiseer. Gloria (Kristin Scott Thomas) is die vrou van ’n predikant op ’n plattelandse dorpie in Engeland. Hul buurman se hond ly aan kennel cough en dit maak Gloria rasend. Op ’n dag daag Grace (Maggie Smith) op en word deel van die gesin. Dis Grace wat een nag met ’n graaf uitgaan en korte mette van die probleem maak. Miskien moet ek byvoeg dat Grace weliswaar vir etlike dekades in ’n inrigting opgesluit was omdat sy as jong vrou haar man en sy skelmpie die ewigheid ingestuur het. Om ’n hond stil te maak, is dus nie vir haar ’n struikelblok nie.
Ek wil beslis niemand se honde met ’n graaf bykom nie – dis op stuk van sake nie die honde se skuld nie – en daar’s boonop reëls in ’n samelewing oor sulke gedrag, maar ek wil vir diegene wie se honde ander die piep gee, sê: Leer jou hond, stap met jou hond, gee aandag aan jou hond, neem verantwoordelikheid en neem ander mense in ag, veral met die vakansie wat om die draai is.
Was daar nie toentertyd ’n reël dat ’n mens net ’n sekere hoeveelheid troeteldiere op jou erf kon aanhou nie en moes ’n mens nie ’n lisensie vir elkeen gehad het nie? Dit het seker ook soos padreëls en wettige motorlisensies in die niet verdwyn sodat almal kan bestuur en maak soos hulle lus het. En dít maak ’n mens bang.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.