Maak ’n klein ruimte jou eie
MARYKE ROBERTS
Dis nie altyd nodig om duur dekorbykomstighede te koop as jy lus is vir ’n vernuwing nie. Soms kan jy net jou bestaande kunswerke rondskuif vir ’n vars voorkoms, soos Christelle Wait van Seepunt graag doen. Christelle is mal oor kleur en haar kunswerke en strooikussings kan goed meng en pas. Soms ruil sy bykomstighede in die sitkamer en slaapkamer om vir ’n vars voorkoms.
Ander idees om nuwe lewe in ’n moeë interieur te blaas:
- Skuif die kunswerke teen jou mure na ander plekke sodat jy hulle van voor af kan geniet. Hang klein kunswerke in oneweredige getalle bymekaar vir ’n treffende fokuspunt. Hang een groot kunswerk alleen teen ’n muur vir groter trefkrag.
- Grawe in jou linnekas vir daardie beddegoed waaroor jy ’n jaar of wat gelede so mal was. Kyk watter strooikussings in die sitkamer of op die stoep mooi daarby sal gaan, en pasmaat hulle om jou kamer nuwe lewe te gee.
- Koop ’n potplant met helder blomme en vrolik ’n vaal hoekie in die huis op, of sit dit in ’n mooi, interessante pot in jou badkamer of slaapkamer. Dit sal jou onmiddellik ligter laat voel.
- Grawe al daardie ou borde, koppies en bekers waarvan net een of twee oor is, uit jou kaste. Gebruik dit met verskillende messe en vurke – ouma se ivoorhandvastels saam met die nuwes wat jy as trougeskenk gekry het en sny ou lappe op en maak lapservette daarby. Dit gee ’n lekker plaasgevoel en bring afwisseling.
- Jou ongebruikte emaljepot in die kas; of die oulike vergiettes waarvan jy al vergeet het, kan oulike hangmandjies vir plante word. Span interessante potte, bakke of groot bekers in om jou potplante te hou.
SOURCES
JAC KRITZINGER