Hekel hierdie fraai kombersie vir ’n spesiale baba
Moeilikheidsgraad: *
Benodigdhede
Ongeveer 2 balle elk in geel, pienk, blou en groen en in 4-draadbreidraad (50 g-balle)
ongeveer 3 balle in wit
3 mm-hekelnaald
Wolnaald
Kraletjies (opsioneel)
Afkortings
kb – kortbeen ks – kettingsteek lb – langbeen gs – glipsteek
Aanwysings
Motief
Met 3 mm-hekelnaald maak 5 ks en heg met gs in 1ste ks om ringetjie te vorm.
1ste rondte: 3 ks (tel as lb) en 3 lb in ring, 3 ks, (4 lb, 3 ks) 3 keer in ring, heg met gs in boonste ks van 3 ks aan begin.
2de rondte: gs tot in 3 ks-spasie, 12 lb, 1 ks, (12 lb in vlg 3 ks-spasie, 1 ks) 3 keer, gs in 1ste lb. Heg af.
3de rondte: met wit hekel kb in elke lb en ks-spasie rondom motief om dit af te rond. Maak soveel motiewe in soveel kleure soos verkies.
Hoe om dit aan mekaar te werk
- Vou 12 lb van twee motiewe na bokant om en werk dit aan verkeerde kant op die hoeke in die 1 ks-spasie aan mekaar.
- Werk dit ook met ’n klein stekie in die middel van die 12 lb se basis in die 3 ksspasie van die vorige ry aan mekaar.
- Gaan so voort om al die motiewe aan mekaar te werk. Die kombersie op die foto is 15 motiewe by 20 motiewe.
- Werk kraletjies vas waar vier motiewe bymekaarkom (opsioneel).
Wenke
- Om die motief te hekel, is maklik, dit neem net baie tyd om dit aan mekaar te werk en rafels weg te werk.
- Jy kan die kombersie in net een of twee kleure hekel of helder kleure in plaas van pastelkleure gebruik.
- Jy kan DK-breidraad vir ’n groter motief gebruik. n Gebruik dieselfde patroon vir ’n kussing, kniekombers of jou bed.
- Die kraletjies in die kern van die vier motiewe is opsioneel.
- Die grootte van jou kombersie sal die hoeveelheid breidraad bepaal. Jy kry ongeveer 40 motiewe uit een 50 gbal breidraad.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.