Hierdie week kan ek enersyds (weer) met ‘n hele paar artikels identifiseer en andersyds is dit ‘n week wat my nostalgies maak.
Hierdie week kan ek enersyds (weer) met ’n hele paar artikels identifiseer en andersyds is dit ’n week wat my nostalgies maak.
“Skatte op Stellenbosch” vat my terug na my alma mater. Dis na die einste dorp waar ek vandeesweek heen is om my dogter se gradeplegtigheid te gaan bywoon. Toe ek 30 jaar gelede, dag en datum, my eie gradeplegtigheid bygewoon het, het drie dekades in die toekoms na ’n baie lang tydperk gelyk. Ek onthou soos gister hoe ek en Maretta Bellingan twee nat-agter-die-ore-studente was wat in dieselfde koshuisgang gewoon en saans sorgvry in Dorpstraat afgeloop het na die kafee op die hoek langs Johan Brink se mansklerewinkel om Creamy Toffees te gaan koop. Dié winkel bestaan nie meer nie, Creamy Toffees, soos ons dit geken het, ook nie en “sorgvry” is ’n begrip wat in die afgelope 30 jaar ’n vae herinnering geword het.
“Die feit dat ’n mens mettertyd ’n paar plooie bykry, beteken allermins dat jy nie meer sexy is nie,” skryf Carien Grobler in “Voel vuurwarm op enige ouderdom”. Ouderdom is ’n snaakse ding. Dit bekruip jou mos en op ’n dag kyk jy na ’n foto van jouself waar jy saam met jou kinders kuier en wonder jy so half wie die “onbekende” gesig is wat jy tussen twee plooilose jongmense met ferm lywe sien sit. Die jong student wat strappiesrokkies, shorts en bikini’s in haar kas gehad het, dra nou ondersteunende bra’s, skrik vir die plooie op haar knieë en is bly dat daar swembroeke te koop is wat die illusie van ’n plat magie skep. Die tye tussen klas van met baba-olie op die koshuisdak tan, het plek gemaak vir vroue wat anti-ageing-rome met ywer gebruik. En die testosteroongedrewe manstudente wat julle met verkykers uit Helshoogte-koshuis dopgehou het, is nou diegene wat jy op Facebook sien en nie aan hul viriliteit van destyds herken nie, maar aan hul name. Daardie studente is vandag 50 plus en oor nog 30 jaar is hulle 80 plus, maar eintlik voel hulle 20, want ouderdom is net ’n syfer.
My oupa sou dié week 103 jaar oud geword het. Hy is kort voor sy 97ste verjaardag oorlede. En glo my, hy’t nie gevoel asof hy bykans ’n eeu geleef het nie. Dis met groot vreugde (vir ons albei) wat ek hom en sy vriendin (Ouma het vroeër gegaan) tot kort voor sy dood by Harmoniehof se ouetehuis in Sunnyside gaan oplaai het om oor middagete ’n wyntjie in Brooklyn te drink, terwyl hy kopstukke gesels het oor van toentertyd se herinneringe tot die jongste verwikkelinge in wêreldpolitiek. Suzanne Venter en Rozanne Myburgh het onlangs by die einste Harmoniehof gaan inloer, om Vrouekeur by ’n geleentheid te verteenwoordig waar Petru Wessels en Carel Trichardt opgetree het. As ek so na die foto’s van die wyse gryses by dié geleentheid kyk, weet ek dat hulle miskien ouer as ek lyk, maar 50 voel en ook wonder hoe die tyd so vinnig verbygegaan het. (Gaan loer gerus op ons webtuiste vir foto’s van dié dag.)
Toe ek 30 jaar gelede my graad op die verhoog gaan haal het, was my ouers onderskeidelik 45 en 46 jaar oud en in die fleur van hul lewe. Ek was jonk en my lewe het voorgelê. Vandag is my ouers se vier kinders so oud (en ouer) soos hulle destyds was.
Een van my broers word dié week 45 en woon reeds ’n hele paar jaar saam met sy gesin in Kanada. Daar’s min mense wat ek ken wat nie kinders of kleinkinders op ’n lughawe moes groet op pad om ’n lewe in ’n verre land te gaan uitkerf nie.
Dis veral in die aanloop tot die feestyd wat ons ekstra verlang na geliefdes wat ver woon. Carla van der Spuy skryf hierdie week oor die emosies wat ouers beleef as hul kinders emigreer. Dié jaar verstaan ek dit soveel beter, want my seun vier vanjaar Kersfees in Thailand, waar hy nou woon.
Die lewe vlieg verby – 30 jaar gelede was ons jonk en het ons lewens voorgelê. Nou is ons kinders jonk en lê hul lewens voor. Plooie is dalk ’n teken dat die afgelope 30 jaar nie noodwendig sorgvry was nie, maar sexy het niks met ouderdom te doen nie – al moet jy van tyd tot tyd aan ’n nuwe gesig gewoond raak wat jy op ’n foto van jouself sien of vat dit jou ’n rukkie om medestudente van destyds agter ’n bles, grys hare of ’n bietjie meer om die lyf op Facebook te herken. En gelukkig is die wyse gryses van om en by 80 bewys dat die lewe beslis nie op 50 ophou nie!
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.