As jy voortdurend aan iets blootgestel word, gaan dit ’n uitwerking op jou hê
Ek dink die meerderheid mense in ons land is keelvol vir die moord en doodslag wat daagliks gebeur. Jy lees daarvan in koerante, sien dit op TV, sosiale media en WhattsAppstraatgroepe.Erger nog is die aantal mense wat slagoffers van hierdie boosheid is. Ek wil nie ’n debat oor die moorde op plase ontketen nie, want moord word oral in die samelewing gepleeg. Wat ek wel weet, is as daar nie mense is wat kos vir ’n samelewing produseer nie, gaan ons almal van die honger omkom.
Dis Nelson Mandela wat gesê het: “Great anger and violence can never build a nation.”
Johanna van Eeden skryf in hierdie week se uitgawe oor die impak van geweld op skerms op ons psige. Sy vra die vraag: Hoekom kyk ons daarna? Dit is nie ’n vraag wat ’n mens in een sin kan antwoord nie – vandaar haar ondersoek. Wat ek wel weet, is dat hedendaagse tegnologie wêreldwye geweld bykans onmiddellik in ons lewens inbring. Dit beteken nie alle mense wat geweld op ’n skerm sien, gaan geweldenaars word nie, maar as ek lees wat kinders gekyk het voor hulle skoolkinders in Amerikaanse skole afmaai, is dit kommerwekkend. Ek speel nie videospeletjies nie, maar dit ek al daarvan gesien het, is gewis nie liefdesverhale nie. Dit gaan oor wie vir wie kan doodmaak. Hoekom? Hoekom wil mense mekaar doodmaak? Dis vir my onverstaanbaar. Is ons die sogenaamde mees ontwikkelde spesie? Soms wonder ek.
As mens die kommentaar op sosiale media lees waar mense hul afgryse en afkeur probeer uitdruk oor ’n moorddadige voorval, word die moordernaars en geweldenaars dikwels met diere vergelyk. Daarmee kan ek nie saamstem nie. Diere openbaar nie sulke gedrag nie. Mense wat ander mense willens en wetens doodmaak, is monsters, by gebrek aan ’n ander woord. Dis barbaars. Ek het nie die antwoord op die geweld in die land en die res van die wêreld nie. Wat ek wel weet, is dat als wat ons sien en hoor, vatplek in ons koppe kry. As jy voortdurend aan iets blootgestel word, gaan dit ’n uitwerking op jou hê. Jy internaliseer dit in so mate dat dit deel van jou menswees word. Dalk het jy ook al hierdie aanhaling raakgelees: “Don’t let negative and toxic people rent space in your head. Raise the rent and kick them out.”
Sommige mense kry dit makliker reg as ander. Ek skop hulle sommer ná die eerste voorval uit. Soms is mense hul eie grootste vyande. Hulle het nie eens nodig dat ander mense se doen en late hul uitkyk op die lewe beïnvloed nie, hulle doen dit sommer eiehandig. As jy voorturend vir jouself vertel dat jy nie goed, mooi, slim, ryk, maer, suksesvol of gelukkig genoeg is nie, gaan dié denke later so in jou brein geëts wees, dat jy die huurder in jou kop is wat uitgeskop moet word. Meer nog, jy gaan die huurder in ander mense se koppe word, wat hulle wil uitskop. As jy aanmekaar gemorskos eet, gaan jy siek word. As jy aanmekaar gemors in jou kop stoor, gaan jy siek word. Dit beteken nie jy gaan noodwendig mense voor die voet uitwis nie, maar jy gaan gewis nie tevrede en gelukkig wees nie. Ons moet ons koppe voed met dit wat die lewe vir ons en ander die moeite werd maak, soos liefde en empatie. Ongelukkig is daar wêreldwyd ’n tekort hieraan. Soos die Dalai Lama sê: “Love and compassion are necessities, not luxuries. Without them humanity cannot survive.” Sonder kos, liefde en empatie gaan ons omkom
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.