Dwelmmisbruik herbedraad die brein en daarom is dit vir veral tieners so maklik om verslaaf te raak. Sonja Squires van Neurolink verduidelik: “Die brein is ‘n superkragtige bio-rekenaar wat ons liggame beheer en bestuur. Dit is die setel van al jou denke en besluitneming.”
Verskillende dele in die brein word deur drank en dwelms beïnvloed:
- Koördinasie en balans neem af.
- Emosies word geskommel en moeiliker bestuur. Klein goedjies ontstel die tiener en sy of hy kry nie maklik beheer terug nie. Dit bring onsekerheid en skade in verhoudings met ander. Voordat die dwelms uitwerk, kan die tieners nie weer helder dink, goeie besluite maak (sonder slegte gevolge) en dinge onthou nie. Hierdie funksies van emosie lê in die limbiese dieper deel van die brein. Dwelms oorstimuleer ook die goedvoelbane in die brein, en dan versterk dit die behoefte om heeltyd so te voel. Die emosionele sentrum word oorgestimuleer deur hierdie stowwe wat ’n ervaring van plesier skep wat buite normale grense is. Die brein oorkompenseeer deur weer inhibeerders af te skei en dis wanneer die kind voel hy val nou weer in ’n gat van depressie.
- Jou kind se geheue kan benadeel word – dit setel in die hippokampus – binne die temporale lob van die brein. Streshormoonreseptore is hier baie ryklik verteenwoordig, en inhiberende stowwe wat die brein afskei, raak hierdie deel direk. Dis amper soos bomme wat op ’n stad val en die infrastruktuur vernietig.
- Die brein word ook in die outomatiese dele van die breinstam geraak. Byvoorbeeld, iemand wat werklik dors is, sal jou uit pad stamp om by water uit te kom. Dors is ’n basiese drang. Basiese drange neem oor en hoër-orde-denke raak iets van die verlede. Die morele sentrums in die brein, soos om “nee” te sê vir verkeerde voorstelle wat krimineel of skadelik vir die reinheid of veiligheid van die tiener is, word ook nou makliker gedeaktiveer. Die tiener sal dan makliker onaanvaarbare dinge doen.