Willie Burger kyk na Leon de Kock se biografie oor André P Brink
André Brink was ongetwyfeld een van die belangrikste Afrikaanse skrywers, en is steeds een van die bekendste skrywers uit Suid- Afrika. Sy invloed op die Afrikaanse letterkunde as romanskrywer, as kritikus en as teoretikus was enorm.Brink het gedurende die 1970’s en 1980’s lesers se oë oopgemaak vir die onreg wat in ons land gepleeg is. Hy het vir Afrikaners wat in die patriargale, Calvinistiese en nasionalistiese Afrikaanse wêreld ontuis gevoel het woorde gegee om hul ongemak mee te verwoord en getoon dat ander maniere van bestaan moontlik is.
Sy romans het wêreldwyd in 30 tale lesers geskok, ontroer en getroos. Hy het deur sy resensies en akademiese werk herhaaldelik nuwe teoretiese benaderings tot literatuurstudie in Afrikaans help vestig. Brink is op talle maniere vir hierdie bydraes vereer – met literêre pryse, toekennings en eredoktorsgrade in verskeie lande. Die verhaal van ’n Afrikaner wat uit die laer gebreek het en onverskrokke in sy eie land en op die wêreldverhoog mense met sy storievertelvermoë betower het, met sy skerp kritiek geïnspireer het en deur sy helder intellek nuwe insigte kon bied, verdien om vertel te word. Sy lewe regverdig by uitstek ’n omvattende biografie wat ons help om hom, sy werk en die onstuimige tye waarin hy geleef het, beter te verstaan.
Die lang verwagte biografie deur Leon de Kock, André P Brink en die spel van die liefde, is ongelukkig nie daardie groot insiggewende biografie nie. Nog ’n jammerte dat Jonathan Ball, die uitgewer, nie meer moeite met die Afrikaanse uitgawe se vertaling en taalversorging gedoen het nie. Brink was juis ’n noukeurige taalgebruiker en talle taalfoute, ongemaklike formulerings en slordige redigering doen nie sy werk eer aan nie. De Kock se biografie fokus feitlik uitsluitlik, soos die titel aandui, op Brink se liefdeslewe, spesifiek op die verband tussen sy onstuimige liefdeslewe en die dagboeke waarin Brink breedvoerig oor al die besonderhede van sy liefdes- en seksuele ervarings geskryf het. Die manier waarop Brink in sy gedetailleerde dagboekinskrywings oor sy talryke verhoudings en seksuele ervarings verslag gehou het, bied inderdaad belangrike insigte.
De Kock dui op oortuigende manier die invloed van hierdie ervarings op Brink se lewe aan: hoedat seks eintlik ’n deurslaggewende rol gespeel het in sy verwerping van die kleinburgerlike en benouende wêreld waaruit hy kom en hoedat ’n skynbaar onversadigbare verlange na verliefwees en seksuele verowering deur die res van sy lewe ’n belangrike rol gespeel het. Die psigiese spanning in Brink weens hierdie onversadigbare verlange aan die een kant en sy behoefte aan stabiliteit en geborgenheid in ’n liefdevolle huwelik aan die ander kant, word op insiggewende manier deur De Kock ondersoek. Hy wys hoedat Brink die vroue telkens tot “karakters” in sy dagboek verwoord en sodoende die verhoudings eintlik “op papier” beleef.
Die menigvuldige verhoudings het ook ’n praktiese impak op sy skryfwerk: Brink skryf sy belangrikste romans in tydperke van relatiewe stabiliteit in sy huwelike. Die problematiese manier waarop Brink romantiese projeksies van vroue skep en die gevolge daarvan in sy lewe en vir sy skryfwerk, word verhelderend deur De Kock ontleed. Dan doen hy dit weer. Dan gee hy nog voorbeelde uit die dagboeke en maak dieselfde punt nogmaals. Dan begin hy met die beskrywings van Brink se volgende verhoudings en haal nog voorbeelde aan. Dan som hy die insigte op en demonstreer dit opnuut aan die hand van nog ’n analise van nog ’n verhouding. Vir 360 bladsye. Dit is duidelik dat De Kock oorweldig is deur die toegang tot duisende bladsye van Brink se noukeurige dagboeke wat hy reeds in die 1950’s begin skryf het en waarmee hy tot in 2004 aangehou het.
Die jammerte is dat De Kock toe uiteindelik ’n biografie slegs daaromheen gebou het. Brink se lewe het veel meer kante gehad as bloot dié van romantiese troebadoer en iemand met talle onsekerhede wat worstel om sy eie motiewe en liefdeslewe te begryp. De Kock maak enkele belangrike opmerkings oor die invloed van eksistensialisme op Brink en oor sy politieke bewuswording (en aan sy komplekse verhouding met Breyten Breytenbach word ’n paar bladsye afgestaan), maar mens kry nie veel insig oor hoe Brink se denke gevorm is, wat die invloed van ander skrywers en kennisse op hom was, hoe sy werksomstandighede hom beïnvloed het of wat sy denke gevorm het nie. Sy invloed op studente, verhoudings met ander skrywers, vriende en kollegas of sy deelname aan kongresse en debatte, dien as weinig meer as agtergrond vir besprekings van Brink se veelvuldige verhoudings.
Wanneer De Kock uiteindelik in die laaste paar bladsye die lof van Brink as internasionaal erkende skrywer besing en ’n paar ondeurdagte opmerkings oor Brink se kanonisering maak, wonder mens hoe Brink só statuur kon bereik het in die lig van die voorafgaande meer as 300 bladsye wat geen duidelike motivering daarvoor bied nie. Die titel moes mens seker gewaarsku het dat die boek slegs op een aspek van Brink se lewe gaan fokus en mens kan net hoop dat daar binnekort ook ander biografieë sal verskyn om ’n meer gebalanseerde beeld te bied. (Jonathan Ball)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.